B in Datawetenskap
Vir mense wat van rekenaars en wiskunde hou en om inligting deur data-analise te ontdek, gee die program B in Datawetenskap (BDatSci) deeglike onderbou in alle aspekte van die datalewensiklus. Die datalewensiklus behels data-insameling, -prosessering, -analise en -visualisering.
Bykomend hiertoe en om jou nog beter voor te berei vir die industrie, kies jy een van agt fokusareas (of strome). Só verwerf jy kundigheid in die toepassing van datawetenskap in ’n spesifieke gebied of spesialiseer jy in ’n sekere aspek van datawetenskap.
BAgric in Agribesigheidsbestuur
Studente wat hierdie driejarige program in agribesigheidsbestuur volg, kan geleenthede aangryp as produksie-, bemarking-, aankope- en algemene bestuurders in organisasies wat landbou-insette verskaf, landbouverwerking doen en landbou-in- en -uitvoere doen. Handelsbanke en ander finansiële instellings bied ook opsies vir landbou-ekonome. Dié werk behels o.a. lewensvatbaarheidstudies en die opstel en evaluasie van sakeplanne en kontantvloeibeplanning.
BAgric in Landbouproduksie en -bestuur: Elsenburg
Die BAgric-program in toegepaste landbouproduksie en -bestuur is praktykgerig, maar verskaf terselfdertyd wetenskaplike kennis om te voorsien in die behoeftes en uitdagings van die moderne landbou. Daar word gefokus op die ekonomiese en tegniese bestuur van kommersiële boerderye en landbouverwante produksiestelsels.
Hierdie program word in samewerking met Elsenburg Landbouopleidingsinstituut aangebied. Studente woon op Elsenburgkampus, waar hulle ook ál hulle opleiding ontvang. Vir verdere inligting, kontak Elsenburg direk by 021 808 5451.
BSc in Bewaringsekologie
Wil jy eendag in jou werk die wêreld se bewaringsuitdagings aanpak? Hierdie unieke program, met nadruk op sosiaal-ekologiese sisteme, rus jou toe vir 'n groot verskeidenheid loopbane in bewaringsekologie. Jy kan kies tussen loopbane in omgewing-impakassessering en -monitering (landelik en varswater), restourasie-ekologie, wildplaasbestuur, ekotoerisme, gemeenskap-gebaseerde natuurlike hulpbronbestuur en omgewingsbewuste, volhoubare produksie in landbou en bosbou (insluitend organiese plantbestuur), bewaringsbeplanning en navorsing in bewaringsbiologie.
Die vierjarige program skop af met modules in Biologie, Chemie, Geo-omgewingswetenskap, Rekenaarvaardigheid en Wiskunde. In jou tweede jaar bestudeer jy vakke wat te make het met natuurbewaring, biodiversiteit en toegepaste wetenskappe, soos Geografiese Inligtingelsels (GIS), Biometrie en Mikrobiologie, en in jou derde jaar word aandag geskenk aan Bewaringsekologie, Biodiversiteit en Ekologie, en jy kan Grondkunde, Omgewingsosiologie of Genetika kies. In jou vierde jaar integreer jy al hierdie kennis en word daar op die groot en brandende kwessies in natuurbewaring gefokus.
Boonop kry jy van die begin af eerstehandse ervaring in ons praktiese klasse. In jou vierde jaar het jy 'n keuse om jou eie, omvattende bewaringsplan vir 'n wildplaas, 'n wildreservaat of 'n natuurgebied op te stel of om 'n navorsingsprojek oor 'n voorafbepaalde bewaringsaak te lei. Jy kan ook uit spesialisonderwerpe soos insekbewaringsbiologie kies. As gevolg van die uitwissingskrisis is sulke gespesialiseerde kundigheid deesdae wêreldwyd al hoe meer in aanvraag.
BSc in Bosbou (Bosbou- en Houtwetenskappe) (BScBosb)
Bosbou- en Natuurlikehulpbronwetenskappe:
Hierdie rigting handel oor bosse, woude, plantasies en ander boom-gebaseerde landgebruikstelsels. Die studieprogram stel jou bekend aan die hele bosbou- en houtprodukte-waardeketting, soos die kweek en inoesting van bome, die bestuur van plantasies en sosio-ekonomiese en bewaringsaspekte. Die program skop af met modules in Biologie, Chemie, Geo-omgewingswetenskap, Rekenaarvaardigheid en Wiskunde saam met 'n module in Boskunde. Vanaf die tweede studiejaar bestudeer jy die basiese toegepaste wetenskappe soos Grondkunde en Biometrie en in die derde en vierde studiejaar neem jy verskeie modules in Boskunde wat uitloop op 'n oorkoepelende bosbou-bestuursplan.
Hout- en Houtprodukkunde:
Hierdie rigting is 'n kombinasie van houtprodukkunde en ingenieursmodules. Kennis van houtprodukkunde word gekombineer met modules soos Sterkteleer, Gehaltebestuur, Bedryfsergonomie, Omgewingsingenieurswese en Ondernemingsontwerp om 'n graad te skep wat gesogte leiers vir die houtprodukte-omgewing oplewer.
Aangesien daar 'n tekort aan opgeleide kundiges in hierdie studieveld is, is baie beurse beskikbaar: 'n groot persentasie van ons voorgraadse studente ontvang volle beurse! Studente wat hierdie program voltooi, volg meestal loopbane as bosboukundige of houtkundige bestuurders. Daar is ook geleenthede as omgewingsbeplanners, konsultante, kontrakteurs, entrepreneurs, voorligters en navorsers.
BSc in Voedselwetenskap
Indien jy oor probleemoplossingsvaardighede en kreatiewe vermoëns beskik en 'n sterk belangstelling het in die wetenskap van voedsel, is dit die program vir jou!
Hierdie vierjarige program lei studente op om rou materiale te omskep in die innoverende, veilige, voedsame en smaaklike voedselprodukte beskikbaar in supermarkte. Jy word geleer om kennis van die fundamentele wetenskappe soos chemie, biochemie, fisika, wiskunde en mikrobiologie toe te pas in voedselprosessering, -preservering, -verpakking en -produkontwikkeling.
Tydens die studiejare is daar noue kontak met die Suid-Afrikaanse voedselindustrie deur gereelde fabrieksbesoeke en verpligte praktykopleiding. Hierdeur maak jy kennis met 'n wye verskeidenheid aspekte van die voedselwetenskapstudierigting.
Studente wat die graad BScVoedselwet verwerf, kan aangestel word as innoverende produkontwikkelaars, of as bestuurders van verskeie afdelings in voedselmaatskappye, soos produksie, produkontwikkeling, kwaliteitskontrole, navorsing en ontwikkeling, en tegnies. Hulle kan ook as navorsers by tersiêre- en navorsingsinstitute werk of entrepreneurs word en, nadat ondervinding opgedoen is, konsultante vir die voedselbedryf. Stellenbosch Universiteit se voedselwetenskaplikes is wêreldwyd gesog.
BScAgric in Diereproduksiestelsels
Hierdie program integreer kennis van die ekologie, biochemie, fisiologie, voeding, teling, produksie en produkkwaliteit van veeproduksiestelsels. Dit dek ook die bestuur van veeproduksiestelsels vir verhoogde produksie en produksie-doeltreffendheid op 'n omgewingsvriendelike en ekonomies doeltreffende manier. In die breër bedryfsveld van diereproduksiestelsels is daar 'n keuse van studierigtings: jy kan suiwer veekundige wetenskappe neem of jy kan veekundige wetenskappe volgens jou belangstelling kombineer met onder andere agronomie, akwakultuur, bewaringsekologie of landbou-ekonomie.
As jy een van hierdie rigtings volg, word jy voorberei vir 'n loopbaan as konsultant, entrepreneur, bestuurder, tegnikus, voorligter of produksiebestuurder in veekunde en in veekundeverwante bedrywe (soos dierevoeding, vleiskunde, dierefisiologie, diere-reproduksie en diereteling) of in die akwakultuurbedryf of as vee- of wildboer.
BScAgric in Landbou-ekonomie
Hierdie vierjarige program vestig vaardighede in die gebruik van landbou-ekonomiese en -bestuurstegnieke onder voornemende landbou-ekonome en bestuurskundiges in die openbare en privaat sektor. Die program bied 'n keuse uit die volgende studierigtings: landbou-ekonomiese analise, landbou-ekonomiese analise en -bestuur, landbou-ekonomiese analise en bestuur met voedselwetenskap, en landbou-ekonomie met voedselwetenskap (voedselverwerkingsbestuur).
BScAgric in Plant- en Grondwetenskappe
Die vierjarige program in plant- en grondwetenskappe dek opleiding in akkerbou-, weidings- en groentegewasse, aromatiese plante, sagtevrugte, sitrus, snyblomme en wingerd. Kennis van biochemie, grondkunde, landbou-ekonomie, genetika, entomologie, nematologie, plantpatologie, biometrie en gewasproduksie word geïntegreer tot 'n sinvolle geheel.
BScAgric in Wingerd- en Wynkunde
Hierdie program dek die studierigting wynproduksiestelsels en leer jou van die wingerdstok, sy struktuur en hoe om die plant wetenskaplik te manipuleer. So leer jy om, in harmonie met die omgewing, volhoubare wingerde te ontwikkel wat gebruik kan word om unieke wyne te produseer. Verder doen jy deeglike kennis op van die chemiese en biologiese prosesse wat by die maak van wyn- en brandewynprodukte betrokke is. Studente spandeer 'n groot gedeelte van hul graad in diensleer en internskappe. Só kry hulle vroeg reeds werksondervinding, blootstelling aan die industrie en kennis oor hulle uitgesoekte professionele werksomgewing.
Studente in dié rigting word voorberei vir 'n betrekking in die wyn- en verwante industrieë onder andere as wynmakers, wingerdkundiges, wingerdtelers, wynanaliste, produksiebestuurders, bemarkers, tegnici, konsultante of as entrepreneurs.