Alwaba Tom, ʼn derdejaar-verpleegkundestudent, het persoonlike hartseer in ʼn roeping omskep om ander deur gesondheidsorg en portuurgroep-mentorskap te ondersteun.
Alwaba Tom skep veilige ruimtes waar studente kan groei
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ʼn betekenisvolle impak te hê.
Vir ʼn groot deel van sy kinderjare in die Oos-Kaap het stilte die huisie gevul waar Alwaba Tom grootgeword het. Daar was min aanmoediging. Geld was skaars. Sy ouma het die gesin gedra met wat hy as “stille krag” beskryf, terwyl sy tannie se dissipline en werksetiek ʼn blywende indruk op hom gelaat het. Maar Tom het van jongs af geleer om op homself staat te maak. “In daardie stilte het ek geleer om vir myself te sorg – nie omdat ek wou nie, maar omdat ek moes,” sê hy.
Vandag straal dié derdejaar-verpleegkundestudent aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) selfvertroue en warmte uit. Tóg het hartseer lank voor akademiese sukses sy weg na ʼn studenteleier en -mentor beïnvloed.
Die bepalende oomblik het gekom toe sy ouma aan kanker gesterf het. “Om iemand vir wie jy lief is te sien ly, verander die manier waarop jy die lewe en mense sien,” verduidelik hy. “Dit het my gedwing om myself af te vra wat ek kan doen sodat ander nie hierdie soort pyn hoef te ervaar nie.”
Verpleegkunde was nooit deel van ʼn sorgvuldig gekarteerde kinderdroom nie. In die gemeenskap waar Tom grootgeword het, het loopbaankeuses dikwels meer van geleenthede as langtermyn-beplanning afgehang. Maar nadat hy begin studeer het, het hy iets dieper oor homself ontdek. “Vir my het verpleging meer as ʼn kwalifikasie geword. Dit het die ruimte geword waar ek ontdek het wie ek is en hoe ek betekenisvolle verbintenisse met mense bou.
“Een van die belangrikste lesse wat verpleging my geleer het, is dat mense dikwels gerusstelling nodig het voordat hulle medisyne nodig het,” sê hy. “Hulle het iemand nodig om te luister, om hulle met waardigheid te behandel en om hulle daaraan te herinner dat hulle nie alleen is nie.”
Ruimtes waar studente veilig voel
Daardie einste waardes rig nou die manier waarop Tom medestudente aan die US ondersteun.
As Studentekoördineerder vir die FGGW se Vakspesifieke Studieleierprogram werk hy nou saam met ongeveer 40 mentors wat portuurgroep-ondersteuning aan voorgraadse studente bied wat sukkel met moeilike modules soos anatomie en fisiologie. Dié program skep geleenthede vir studente om medestudente om akademiese hulp te vra in ʼn omgewing wat minder intimiderend as formele lesingruimtes voel.
Tom se rol behels om opleiding, leiding en ondersteuning aan studieleiers te bied terwyl hy help om ʼn kultuur van aanmoediging en verantwoordbaarheid te ontwikkel. Die werk het vir hom baie persoonlik geword omdat hy eerstehands ondervind het hoe dit voel om akademies te sukkel.
Sy eie pad na die US was nie eenvoudig nie. Wiskunde en fisiese wetenskappe was groot struikelblokke op skool en universiteitsopleiding het in ʼn stadium buite bereik gevoel. Die keerpunt wat alles verander het, was toe hy vir die US se SciMathUS-oorbruggingsprogram ingeskryf het. “Die program het my die gereedskap gegee om my selfvertroue te herbou en drasties te verbeter,” sê hy.
Hy gee erkenning aan die mentors wat hom gehelp het om sy eie potensiaal te herken. Hy verwys met besondere dankbaarheid na Noni Kulati van SciMathUS, wat hom deurgaans aangemoedig het om in homself te glo, asook Lamese Chetty van die FGGW se akademiese raadgewingstrukture, wat gehelp het om sy leierskapsvermoëns te ontwikkel.
Buite die kampus het sy ouer broer, Lutho Ndyalvane, wat verlede jaar aan die US gegradueer het, nog ʼn steunpilaar gedurende moeilike tye van druk, onsekerheid en selftwyfel geword. “My kerkgemeenskap en goeie vriende het my ook gehelp om kalm te bly in tye waarin ek oorweldig gevoel het,” voeg hy by.
Daardie ervaring van ondersteuning beïnvloed nou die manier waarop Tom leierskap benader. “Ek glo baie studente beleef vrees en ʼn gevoel van mislukking in stilswye. Studente stel dit te dikwels uit om hulp te vra omdat hulle bang is om geoordeel te word,” sê hy.
Een interaksie met ʼn student het die manier waarop hy onderrig beskou, heeltemal verander. Ná een van sy sessies het ʼn student vir hom gesê die ruimte wat hy skep, voel veiliger as baie van haar akademiese omgewings, want as ʼn stadiger leerder het sy dikwels te verleë gevoel om vrae te vra. “Daardie gesprek het my oë oopgemaak,” sê hy. “Studente het nie net inligting nodig nie – hulle het geduld en gerusstelling nodig, asook iemand wat verstaan dat mense op verskillende maniere leer.”
Hy voeg by dat hierdie rol hom geleer het dat leierskap nie oor gesag gaan nie, maar oor verantwoordelikheid. “Mense floreer wanneer hulle gewaardeer voel.”
Groei deur stryd en teruggee
Terwyl Suid-Afrika die 50ste herdenking van die Soweto-opstand van 1976 hierdie Jeugmaand gedenk, glo Tom die jongmense van vandag het geleenthede én verantwoordelikhede. “Talle jongmense ervaar finansiële stres, geestesgesondheidsprobleme en onsekerheid oor die toekoms. Jeugmaand herinner my aan die jongmense van 1976 wat vir onderwys en waardigheid geveg het.”
Hy meen kollektiewe opheffing is die beste manier om daardie nalatenskap te eerbiedig. “Ons verantwoordelikheid is om mekaar te ondersteun, geleenthede te skep waar ons kan en om onderwys te gebruik om ander op te hef.”
Buite die akademie beskryf Tom homself as sosiaal, lewenslustig en ʼn diep denker. Hy speel netbal en sê vriendskappe, verlies en persoonlike groei het hom moeilike lesse geleer oor veerkragtigheid en hoe om dinge agter hom te sit. “Mense dink soms ek sukkel nie emosioneel nie omdat ek oop is,” sê hy. “Maar raak dinge my baie diep.”
Wat die toekoms betref, hoop Tom om ʼn toekoms in gesondheidsorg te bou. Hy wil ondervinding as ʼn verpleegkundige opdoen, maar sy langtermyn-ambisie is om ʼn dokter te word. Hy hoop ook om eendag in ʼn ander hoedanigheid na die US terug te keer. “Ek wil graag terugkeer na die instelling wat my van die begin af gevorm het. Nie net as ʼn student nie, maar as iemand wat gegroei het en teruggee.”