Akademiese Voorligting
Ons Werk
Studente het toegang tot persoonlike ondersteuning deur middel van berading, loopbaanvoorligting, praktiese werksessies en aanlynhulpbronne wat hulle help om lewensuitdagings beter te hanteer, nuwe vaardighede aan te leer en akademies goed te presteer. Die doel is om selfvertroue en aanpasbaarheid te ontwikkel, sodat studente nie net hulle akademiese doelwitte bereik nie, maar ook hul universiteitslewe voluit kan leef.
In ons werksessies leer jy hoe om meer doelgerig en doeltreffend te studeer, jou tyd en stres beter te bestuur en persoonlik te groei deur onderwerpe soos selfkennis en emosionele balans te verken. Op hierdie manier help ons jou om te groei, aan te pas en jou volle potensiaal te verwesenlik.
Ons Dienste
Studente ondersteunings dienste
’n Omvattende reeks toeganklike dienste is beskikbaar om studente te help om akademies te slaag, persoonlik te ontwikkel en die uitdagings van universiteitslewe met groter gemak aan te pak. Kyk gerus na die opsies hieronder en kontak ons wanneer jy ondersteuning nodig het.
Akademiese berading
Jy kan alleen of as deel van ’n groep met ons gesels oor jou akademiese vordering én lewensuitdagings. Hierdie sessies is daar om jou te help slaag – op kampus en in die lewe.
Loopbaan berading
Jy kan jou toekoms beplan met die hulp van ons toegewyde beraders en sielkundiges. Ons help jou om loopbaanmoontlikhede te verken en, waar nodig, psigometriese toetse te voltooi.
Werksessies
Jy kan ons werksessies bywoon om jou studietegnieke te verbeter, spanning beter te bestuur, jou konsentrasievermoë te verbeter en ’n gesonde balans tussen studie, ontspanning en persoonlike groei te vind. Jy kry ook die kans om met ander studente te gesels, nuwe maniere te ontdek om emosies te verwerk en opregte vriendskappe te bou.
Hulpbronne
Jy het toegang tot aanlynhulpbronne wat jou akademiese vaardighede versterk en jou help om ‘n gesonde emosionele balans te handhaaf. Daar is ook video’s met praktiese raad oor uitdagings wat jy as student moontlik in die gesig mag staar.