Skip to main content
Through his Get Active Project, Adam Venter has raised more than R20 000 for charities while promoting mental wellbeing through sport and exercise. Venter believes community is built through everyday acts of kindness, connection and service.
Image by: Stefan Els

Adam Venter het deur sy Get Active-projek al meer as R20 000 vir liefdadigheidsorganisasies ingesamel terwyl hy geesteswelstand deur sport en oefening bevorder. Dié US-student glo gemeenskap word deur daaglikse dade van vriendelikheid, verbintenis en diens gebou.

Impak

Adam Venter glo gemeenskap word deur daaglikse dade van vriendelikheid, verbintenis en diens gebou

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
12 Junie 2026
  • #OnsGroeiSaam:In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ʼn betekenisvolle impak te hê.

Toe ʼn klomp rugbybeserings Adam Venter se sportambisies skielik tot stilstand gedwing het, kon hy maklik gefokus het op dít wat hy verloor het. In plaas daarvan het hy iets nuuts ontdek.

“Ek het omtrent my deel van harsingskuddings en knie-operasies gehad,” vertel hy glimlaggend. “Wanneer dit gebeur, voel dit soos die einde van die wêreld, maar by terugskoue het daardie terugslae my tot nuwe geleenthede en voorliefdes aangespoor.”

Daardie voorliefdes sluit tans hardloop, fietsry, swem en uithou-sportsoorte in – aktiwiteite wat nie net die sleutel tot sy eie welstand geword het nie, maar ook tot die lewe van ander deur ʼn liefdadigheidsinisiatief wat hy as student aan die Universiteit Stellenbosch (US) begin het.

Dié tweedejaarstudent in BCom (Internasionale Besigheid) het in Durbanville saam met ʼn ouer broer en ʼn gesin grootgeword wat ʼn liefde vir sport gedeel het. Rugby het ʼn groot deel van sy kinder- en skooljare oorheers, maar beserings het hom uiteindelik gedwing om sy toekoms te heroorweeg.

Hierdie ervaring het hom ʼn belangrike les geleer. “Mens moet dinge vanuit ʼn breër perspektief beskou,” sê hy peinsend. “Wat nou moeilik voel, sal nie altyd so wees nie. Soms help terugslae jou om dinge te ontdek wat jy andersins nooit sou nie.”

Betekenisvolle beweging

Dié ingesteldheid het as inspirasie vir die Get Active-projek gedien. Dis ʼn sosialemedia-inisiatief waardeur Venter mense aanmoedig om aktief te bly terwyl hulle geld vir liefdadigheid insamel. Wat as ʼn persoonlike uitdaging begin het, is in ʼn betekenisvolle geldinsamelingsveldtog omskep. “Ek wou nog altyd my fiksheidsreis dokumenteer, maar ek wou nie net nog iemand met aanlyn plasings wees nie,” verduidelik hy. “Ek wou hê dit moes ʼn doel dien.”

Venter is deur ʼn medestudent se jaar lange geldinsamelingsuitdaging geïnspireer en het die Get Active-projek in 2025 begin. Die konsep is eenvoudig: Raak elke dag aktief en gebruik sosiale media om skenkings vir liefdadigheidsdoeleindes aan te moedig.

Hy het tot op hede meer as R20 000 vir verskeie organisasies ingesamel. Sy fokus het vanjaar na die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid verskuif omdat geesteswelstand na aan sy hart lê.

“Sport en oefening het my nog altyd op geestelike gebied gehelp,” vertel hy. “As ek ʼn slegte dag gehad het of helder wil dink, help dit om te gaan draf, swem of fietsry. Dit het my nog altyd gehelp om dinge te verwerk en beter te voel.” 

Hy hoop sy projek sal ander aanmoedig om ook daardie voordele te ervaar. “Daar is soveel negatiwiteit op sosiale media. Ek wil die potensiaal van sosiale media gebruik om ʼn positiewe boodskap uit te dra en hopelik mense te motiveer om óf self aktief te raak óf ʼn verdienstelike saak te ondersteun.”

Die inisiatief het hom ook iets oor selfvertroue geleer. “Aanvanklik was ek bekommerd dat mense dit eienaardig sou vind,” onthou hy glimlaggend. “Maar my koshuisvriende was ongelooflik ondersteunend. Dit het my die selfvertroue gegee om nie so te tob oor wat ander mense dink wanneer jy iets vir die regte redes doen nie.”

Die krag van gemeenskap

Hoewel sport ʼn groot deel van sy lewe bly, is Venter se universiteitservaring net so baie deur die mense rondom hom gevorm. As ʼn inwoner van die Simonsberg-manskoshuis het hy die mentorskap en ondersteuning van medestudente begin omarm. Hy is onlangs as ʼn koshuismentor gekies en het ook as ʼn wiskunde- en wetenskaptutor gedien.

Die diversiteit van die studentegemeenskap is een van die dinge wat hy die meeste van die koshuislewe waardeer. “Daar is mense van elke kultuur, agtergrond en geloofsoortuiging,” sê hy. “Dis wonderlik om te sien hoe mense wat heeltemal verskillend voorkom, hegte vriende word.”

Benewens lesings, geldinsamelingsveldtogte en oefening om sy uithouvermoë te verbeter, geniet Venter die eenvoudige plesiere van die studentelewe. Hy is ʼn geesdriftige musiekliefhebber wat selde sonder oorfone gesien word en is trots daarop dat hy ʼn lid van Simonsberg se a cappella-groep was. Hy geniet dit om te lees wanneer hy tyd het, om oor rolprente met sy fliekbehepte kamermaat te debatteer en om tyd saam met vriende deur te bring.

Sy gunsteling-ervarings sluit in om na die natuur te ontvlug – om in die watervalle van Jonkershoek te baljaar, in die berge rondom Stellenbosch te stap of selfs ʼn nag onder die sterre op Stellenbosch-berg deur te bring. “Ek is iemand wat vas in verbintenisse glo,” sê hy. “Om ʼn gevoel van gemeenskap te hê en werklik saam met mense te wees, is een van die beste goed wat jy vir jouself kan doen.”

Terwyl Suid-Afrika hierdie Jeugmaand die 50ste herdenking van die Soweto-opstand herdenk, glo Venter jongmense het ʼn belangrike verantwoordelikheid om deur hulle voorbeeld te lei. “Dit klink dalk soos ʼn cliché, maar ek glo die jeug van vandag is môre se leiers,” sê hy. “Daar is nog baie werk om te doen, maar ons het ook al ver gekom. Ons diversiteit en inklusiwiteit is sterk punte en die beste pad vorentoe is om saam te werk.”

Hy hoop om aan ʼn internasionale uitruilprogram as deel van sy graad deel te neem en hy sien uit daarna om nagraads in die buiteland te studeer terwyl hy ʼn loopbaan in beleggingsbestuur bou.

Waar die lewe hierdie sagte reus ook al heen neem, sal Stellenbosch altyd ʼn baie spesiale plek in sy hart hê. Wanneer hy eendag oorsee gaan studeer, sal hy sy gereelde besoeke aan die Maties-gimnasium met die “wonderlike” swembad by Coetzenburg mis. “En ek sal waarskynlik die ongelooflike gevoel van gemeenskap en al die vriendelike gesigte mis, soos die baristas by My Brew in die Neelsie. Hulle is die gelukkigste mense in die wêreld; hulle maak altyd my dag beter!”

  • Volg Adam Venter se inspirerende Get Active-reis op Instagram.

Merkers

News

Verwante stories