James Taylor, wat met aggressiewe dog stabiele veelvuldige sklerose saamleef, het ʼn groot deel van sy lewe liggaamlike beperkings, onsekerheid en lang tye van siekwees die hoof gebied. Vandag doen dié MSc-student in neurowetenskap navorsing oor nuwe maniere om mense te help om angs, lyding en geestesgesondheidsuitdagings aan te pak.
James Taylor vind betekenis in die brein, skoonheid en hermietkrappe
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ʼn betekenisvolle impak te hê.
Toe James Taylor aan die begin van 2025 vir die eerste keer die Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) op die Tygerberg-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) betree het, het hy in trane uitgebars.
Terwyl hy nog in Johannesburg gewoon het, het hy ʼn YouTube-video gesien oor die navorsing en beplanning wat in wêreldklas-laboratoriums ingaan wat lewensveranderende navorsing bevorder. Nou het hy voor een van dié betowerende ruimtes gestaan. “Dit het soos Charlie and the Chocolate Factory gevoel,” onthou hy laggend. “Asof ek ʼn goue toegangskaartjie gewen het.”
Vir Taylor het die oomblik betekenis ingehou wat min mense rondom hom ten volle sou kon waardeer. Dit het hom dekades van vasberadenheid geverg om daardie gebou te bereik, asook die onwrikbare ondersteuning van familie en vriende en ʼn lang stryd teen ʼn siekte wat herhaaldelik gedreig het om sy drome te ontspoor.
Taylor het aggressiewe veelvuldige sklerose (MS) en moes vir ʼn groot deel van sy lewe pyn, gestremdheid en onsekerheid die hoof bied. Hy was vir lang tye rolstoelgebonde en bedlêend. Soms het die siekte sy sig en mobiliteit beïnvloed. Tóg het dit ook die nuuskierigheid geprikkel wat uiteindelik vorm aan sy loopbaan sou gee. “Ek bestudeer letterlik die ding waarmee ek sukkel en die gevolglike lyding en angs, asook hoe om dit op ʼn wetenskaplike vlak te oorkom.”
Die ‘dorpie’ agter die droom
Taylor hou vol sy storie nie met hom nie, maar met die mense wat hom gedra het. Sy ma, Tracy-Lee, het jare lank behandelings nagevors en vir haar seun voorspraak gemaak. Sy stiefpa, Brian, sy lewensmaat, Wessel, sy oupa, Graham, en sy grootoom, Terry, het almal deel geword van die ondersteuningsnetwerk wat hom gehelp het om vooruit te beur toe die lewe hom wou oorweldig.
“Dit verg werklik ʼn ‘dorpie’,” sê hy.
Een van die keerpunte het in 2018 gekom toe hy ʼn beenmurgoorplanting ondergaan het. Die behandeling was uitmergelend, met intensiewe chemoterapie en ʼn lang herstelproses, maar dit het sy lewensgehalte getransformeer. “Ek was een van die pasiënte in Suid-Afrika wat die beste op die spesifieke behandeling gereageer het,” verduidelik hy. “Dit beteken ek is nie meer rolstoelgebonde nie. Ek kan weer loop.”
Die ervaring het ʼn diepgaande invloed op sy lewensbeskouing gehad nadat hy vir ʼn groot deel van sy lewe bloot op oorlewing gefokus het. Nou het hy homself ʼn ander vraag afgevra. “Dit gaan nie vir my oor oorlewing nie,” sê hy. “Ek probeer uitvind hoe om goed te leef.”
Daardie soeke het hom terug na die akademie gelei. Taylor het ʼn BSc-honneursgraad in sielkunde en neurowetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal en ondanks beduidende gesondheidsuitdagings cum laude gegradueer. Jare later, terwyl hy herstel het en na ʼn nuwe uitdaging op soek was, het hy ʼn enkele woord in Google ingetik: “neurowetenskap”.
Een van die soekresultate was ʼn uitnodiging vir aansoeke vir die US se MSc Neurowetenskap-program. “Ek het gedink ek moet net probeer. Dit kan nie seermaak om te probeer nie.” Dit sou een van die belangrikste besluite van sy lewe wees.
Verbintenisse deur wetenskap
Vandag werk Taylor aan ʼn MSc in neurowetenskap in die Departement Psigiatrie. Hy doen navorsing oor innoverende maniere om angs aan te pak deur kognitiewe gedragsbenaderings, virtuele realiteit en neurowetenskap te kombineer.
Sy fassinasie met die brein strek dieper as wetenskaplike nuuskierigheid. “My persoonlike gesondheidsreis met MS het my professionele pad ten diepste beïnvloed. Dit het ʼn passie laat ontvlam om die brein se ingewikkelde werking te verstaan, asook hoe ons ervarings ons gedrag en wêreldbeskouing vorm.”
Wat hom veral opgewonde maak, is die moontlikheid om navorsing in betekenisvolle verandering te omskep. “Navorsing moet nuttig wees,” hou hy vol.
Sy belangstellings strek veel verder as die laboratorium. Hy is lief vir skilder, om met klei te werk en om die kruispunt tussen wetenskap, kuns en menslike ervaring te verken. Hy het ook ʼn wonderlike “geeky fassinasie” met hermietkrappe. Daar is meer as 300 spesies, verduidelik hy entoesiasties. Hulle staan tou om leë skulpe vir beskerming te gebruik en is op verrassende maniere van mekaar afhanklik.
Die vergelyking voel gepas. ʼn Groot deel van Taylor se wêreldbeskouing draai om die gedagte dat mense, soos hermietkrappe, nie bedoel is om alleen te oorleef nie.
Saam groei ons
Daardie oortuiging lê ten grondslag van sy betrokkenheid by die Tygerberg- Nagraadse Netwerk, waar hy ʼn leiersrol vervul deur nagraadse studente te help om deur ondersteuningstrukture met mekaar te skakel. Baie nagraadse studente woon nie op die kampus nie en kan maklik geïsoleerd raak, sê hy. Die netwerk het ten doel om ʼn sin van samehorigheid en gemeenskap te skep. “Mediese studente is geneig om in silo’s te ly,” merk hy op.
Die werk vind ten diepste by hom aanklank omdat hy verstaan wat dit beteken om uitdagings in isolasie die hoof te bied. Ná ʼn traumatiese voorval verlede jaar het hy die US se Sentrum vir Studenteberading en -ontwikkeling gekontak en het hy binne ure toegang tot traumaberading gekry.
Dié ervaring het ʼn les versterk wat hy nou wyd met medestudente deel: om hulp te vra is nie swakheid nie. “Ek dink die een ding wat ek geleer het, is dat jy die vrees om te vra moet oorkom,” sê hy.
Met die 50ste herdenking in Suid-Afrika van die Soweto-opstand hierdie Jeugmaand, glo Taylor dat jongmense ʼn unieke vermoë het om ongeregtigheid uit te daag en alternatiewe te bedink. Terwyl hy sy filosofie skertsend as “optimistiese nihilisme” beskryf, kom dit uiteindelik neer op die vind van hoop en skoonheid in moeilike omstandighede.
“Oor ongeveer 5 tot 6 miljard jaar gaan die son sy rooireus-fase betree. Aangesien ons almal derhalwe verdoem is,” skerts hy met kenmerkende humor, “kan ons mekaar net sowel intussen help.”
Taylor leef steeds met die gevolge van MS en sommige dae is moeiliker as ander. Tóg word hy steeds aangespoor deur ʼn eenvoudige oortuiging: dat lyding in begrip omskep kan word, en dat begrip gebruik kan word om ander te help.
Sy boodskap aan medestudente is ewe eenvoudig. “Reik net uit,” sê hy. “Weet dat ons in dieselfde bootjie is. Dit maak nie saak of jy ʼn leierskapsrol beklee, of ʼn personeellid of ʼn emeritus-professor is nie. Ons het almal lewens. Ons gaan almal deur sommige dinge. Hê ʼn bietjie deernis met jouself en betoon genade.”
Vir iemand wat eens gevrees het sy drome sou buite bereik wees, is dít raad wat deur ervaring gesmee is. En elke keer wanneer hy die BMNI binnestap, ervaar hy min of meer dieselfde gevoel. ʼn Goue toegangskaartjie. ʼn Tweede kans. En ʼn geleentheid om ander te help om hulle pad vorentoe te vind.