Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling
Ons Werk
Ons span bestaan uit hoogs opgeleide sielkundiges, maatskaplike werkers en beraders wat professionele dienste lewer om welstand, persoonlike groei en akademiese sukses te bevorder.
Of jy hulp soek met studietegnieke, emosionele ondersteuning of loopbaanbeplanning – ons is hier om jou te ondersteun. Met kantore op die Stellenbosch- én Tygerberg-kampus, sowel aanlyn opsies, maak ons dit maklik vir jou om sorg te kry wat by jou behoeftes pas.
Ons bied ook ondersteuning aan studente wat met voedselonsekerheid en voedseltekort worstel.
Wat ook al op jou pad kom, jy hoef dit nie alleen te hanteer nie. Ons is hier vir jou.
Ons Dienste
Akademiese berading en ontwikkeling
Kry hulp met studietegnieke, tydsbestuur en eksamenverwante spanning. Ons loopbaandienste kan jou ook help om jou toekomstige rigting te bepaal.
Sielkundige en ondersteuningsdienste
Studente kan in ’n veilige en vertroulike omgewing met iemand gesels wat regtig luister – of hulle nou deur persoonlike, akademiese of emosionele uitdagings gaan. Ons span van beraders, sielkundiges en maatskaplike werkers help jou om sin te maak van wat jy ervaar, saam met jou na oplossings te soek en bystand te verleen met basiese behoeftes – selfs voedselhulp, as dit nodig is.
Ondersteuning vir studente met gestremdhede
Ons is daartoe verbind om struikelblokke uit die weg te ruim, sodat elke student met ’n gestremdheid voluit aan die kampuslewe kan deelneem. Ons glo in persoonlike ondersteuning, sodat jy in jou akademiese werk én studentelewe kan floreer. Ons werk ook hand aan hand met studente, dosente en fakulteite om saam oplossings te vind wat ons kampus meer toeganklik en inklusief maak.
Graduandi-loopbaandienste
Die Graduandi-loopbaandienste-span is hier om te sorg dat studente met selfvertroue die volgende stap in hulle loopbaanpad kan neem. Ons werk saam met vooraanstaande werkgewers om waardevolle leergeleenthede in die werkplek moontlik te maak – soos praktiese werkervaring tydens jou studies, gesprekke met werwers en blootstelling aan verskillende beroepsrigtings. Of jy nou jou opsies verken, jou voorberei vir die werksmark of praktiese raad nodig het, ons staan jou regdeur jou studentejare by, sodat jy jou graad met ’n duidelike plan en ’n gevoel van sekerheid kan verwerf.
Voedselhulp
Ons maatskaplike werkers ondersteun studente wat voedselhulp benodig en doen ’n volledige beoordeling om vas te stel watter hulp die grootste verskil in jou situasie sal maak. Jy hoef nie alleen daarmee te worstel nie – stuur ’n e-pos aan[email protected]- ons is hier om te help.