Algemene inligting
A2- en A3-assesserings: jaareinde 2025
Belangrike assesseringstydperke
- A2-assesserings: Maandag, 27 Oktober tot Woensdag, 19 November 2025.
- A3-assesserings: Donderdag, 20 November tot Saterdag, 6 Desember 2025.
Assesseringsbeleid
Die Universiteit Stellenbosch (US) erken dat assessering ’n integrale deel van leer en onderrig uitmaak. Die US se Assesseringsbeleid omskryf assessering as “’n integrale deel van die onderrig-en-leerproses” wat “sistematies en doelgerig gebruik word om inligting aan die hand van die vereiste vaardighede uit te wys, in te samel en te vertolk ten einde ’n student se prestasie te beoordeel (RHO, 2016:12; eie vertaling)”. Dit kan ’n verskeidenheid take, produkte, uitsette of bekwaamhede insluit wat gebruik word om getuienis in te samel en die studente se prestasie volgens die gestelde assesseringsmaatstawwe en -uitkomste te beoordeel.
Verskillende soorte assesserings en assesseringstydperke
- Hierdie assesseringswebblad verskaf inligting oor spesifiek voorgraadse A2- en A3-assesserings op die Stellenbosch-kampus wat sentraal deur die Assesserings-administrasie, Akademiese Rekords en Gradekantoor (Assesseringskantoor) geadministreer word. Hierdie groep sluit studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe in wat ook hul assesserings op die Stellenbosch-kampus aflê.
- Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, die Fakulteit Krygkskunde en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Bellvillepark-kampus kommunikeer self oor kampus-spesifieke assesserings.
- Ander assesserings – byvoorbeeld A1, AF en A4 – word deur 'n module se tuisdepartement of sentrum geskeduleer en geadministreer. Studente moet hieroor met hulle dosente in verbinding tree.
- Raadpleeg die Jaarboek, Deel 1 (Algemene Reëls) vir meer besonderhede oor die onderskeie assesseringstydperke.
Elke student se verantwoordelikheid
Die Universiteit Stellenbosch se Assesseringsbeleid omskryf die verantwoordelikhede van die verskillende rolspelers betrokke by assesserings, onder meer dié van fakulteite, programkoördineerders en die Akadmiese Belangeraad (ABR).
Dit is elke student se eie verantwoordelikheid om te verseker dat hulle die vereistes vir assesserings en promoverings begryp soos in die Jaarboek, Deel 1 (Algemene Reëls) uiteengesit, en betyds kennis neem van assesseringsverwante kommunikasie. Studente moet in die besonder kennis neem van hul verantwoordelikhede:
- Wees volledig ingelig oor die US se assesseringsreëls en -regulasies soos in die Jaarboek, Deel 1 (Algemene Reëls) vervat.
- Wees op hoogte van die assesseringsreëls en -regulasies vir ’n spesifieke module soos in die moduleraamwerk vervat.
- Aanvaar verantwoordelikheid daarvoor om assesseringsgeleenthede ten beste te benut.
- Wees bekend met die US se Beleid oor Onderrig en Leer (2025) en die Dissiplinêre Kode vir Studente (2021) aan die Universiteit Stellenbosch.
- Neem kennis van die Reëls vir studente by assesseringslokale op die Stellenbosch-kampus.
- Wees daartoe verbind om assesseringsopdragte met opregte en toegewyde ywer uit te voer soos in die US se Plagiaatbeleid: Ter Ondersteuning van Akademiese Integriteit (2016) uiteengesit.
.