Deur haar leierskap in die AgriWetenskappe-studentevereniging help Haki Sebina studente om hulle weg deur die universiteitslewe te vind en geleenthede buite die lesingsaal te ontdek.
Vir Haki Sebina is daar geen grense nie
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ʼn betekenisvolle impak te hê.
Haki Sebina se koms na die Universiteit Stellenbosch (US) het vir haar nie bloot oor die verwerwing van ʼn graad gegaan nie, maar oor die ontdekking van wie sy outentiek kon word midde die verskillende invloede, verwagtinge en moontlikhede wat haar omgeef het.
Sebina is in Johannesburg gebore en getoë, met ʼn Keniaanse ma en ʼn Motswana-pa. Sy het in ʼn multikulturele huishouding grootgeword, waar sy en haar suster aangemoedig is om nuuskierig oor die wêreld te wees. Met verloop van tyd het haar multikulturele identiteit ontwikkel in trots om bloot as ʼn Afrikaan te identifiseer.
Toe die tyd aanbreek om ʼn universiteit te kies, het haar besluit sommige mense verbaas. “Stellenbosch was nog altyd my eerste keuse,” sê sy. “Johannesburgers kan dit ʼn bietjie vreemd vind, maar ek was vasbeslote om hierheen te kom. Die US is een van die top- akademiese instellings in agriwetenskappe.”
Vandag is sy ʼn tweedejaar- BScAgric-student in landbou-ekonomie met voedselwetenskap – ʼn kombinasie wat haar toenemende geboeidheid met voedselstelsels, volhoubaarheid en voedselsekerheid weerspieël. “Ek het nog altyd in voedselwetenskap en -tegnologie belang gestel, maar het besef ek is ewe geïnteresseerd in die groter prentjie – hoe voedselstelsels werk, hoe gemeenskappe toegang tot voedsel bekom en hoe ons meer volhoubare oplossings kan skep en in harmonie met ons omgewing kan leef.”
Haar belangstelling in hierdie kwessies het deels ontwikkel danksy blootstelling aan die werk van haar ma, prof Geci Karuri-Sebina, in bestuur, ontwikkeling en gemeenskapsopheffing. Sebina is in ʼn huishouding grootgemaak waar gesprekke dikwels bewustheid van die wêreld se komplekse werklikhede aangemoedig het, met erkenning aan die dinamika van die verlede, hede en toekoms.
“Gevolglik het ek nog altyd ʼn diep verantwoordelikheid gevoel dat my reis oor meer as net persoonlike prestasie moet gaan, maar ook oor diens, bewustheid en ʼn betekenisvolle bydrae.”
Help studente om groter moontlikhede in te sien
Sebina se begeerte om ander te ondersteun het ʼn natuurlike tuiste gevind in die AgriWetenskappe-studentevereniging (ASV), waar sy as Hoof van Voorgraadse Studentesake dien.
Dié rol het een van die lonendste ervarings van haar universiteitsloopbaan geword. “Ek het ʼn passie om studente te help besef dat universiteit oor meer as net die verwerwing van ʼn graad gaan,” verduidelik sy. “Daar is soveel geleenthede beskikbaar en soms het studente net iemand nodig om hulle te help insien wat moontlik is.”
Deur die ASV help sy om dinkskrums, verwelkomingsweeksessies en netwerk- en geleentheidsprekergeleenthede te reël wat ten doel het om studente aan die vele roetes bloot te stel wat in die landbousektor beskikbaar is. Deur hierdie werk kan sy ook studente ondersteun wat soortgelyke uitdagings ervaar as wat sy gedurende haar eie oorgang na die universiteit te bowe moes kom.
Soos baie ander eerstejaarstudente was Sebina aanvanklik onseker oor akademiese verwagtinge en universiteitstelsels. Ondersteuning van personeellede in die Fakulteit AgriWetenskappe, soos dr Nastasja Brown en Monika Basson, het haar gehelp om haar voete te vind.
Nou bevind sy haarself dikwels in soortgelyke gesprekke met jonger studente. “Wanneer studente my met hulle bekommernisse nader, kan ek my daarmee vereenselwig omdat ek baie van dieselfde dinge deurgemaak het,” sê sy. “Soms help dit net om te weet dat jy nie die enigste een is wat daardie uitdagings ervaar nie.”
Sy verwys studente gereeld na beskikbare ondersteuningstrukture en moedig hulle aan om hulp te soek wanneer hulle dit nodig het. “Daar is geen grense nie,” is een van haar gunsteling-gesegdes. “Ek probeer studente altyd daaraan herinner dat daar soveel meer is wat hulle kan doen, en dat daar soveel meer aan die lewe is as wat hulle soms besef.”
Dié rol het haar eie selfvertroue versterk. As sy haar eerste jaar in oënskou neem, beskryf sy een van haar grootste prestasies nie as ʼn titel of ʼn toekenning nie, maar as persoonlike groei. “Ek het besef ek is tot baie meer in staat as wat ek gedink het. Ek het meer vertroue gekry in wie ek is en wat ek wil bereik.” Sy gee ook erkenning aan die ASV-span, wat haar tyd saam met hulle onvergeetlik en vervullend gemaak het.
Kyk op as dinge oorweldigend raak
Buite die lesingsaal en leierskapsvergaderings beskryf Sebina haarself as ʼn mens-mens. Sy geniet stap, tennis, musiek, reis en om tyd saam met familie en vriende deur te bring.
As ʼn voormalige hoërskool-tenniskaptein en bedrewe sportvrou bly sy aktief deur sosiale tennis en fiksheidsaktiwiteite te beoefen. “Ek is mal oor al die stapopsies in en om Stellenbosch. Ek het vanjaar die eerste keer Jonkershoek besoek en het al my vriende na Coetzenburg vir my verjaardagviering geneem. Dit was wonderlik.”
Sy heg die grootste waarde aan menslike verbintenisse. “Ek is mal daaroor om mense te ontmoet,” sê sy. “Elkeen het hulle eie storie en ek vind dit fassinerend.” Sy hou van die konsep “sonder” – ʼn Engelse woord wat die diepgaande besef beskryf dat elke toevallige verbyganger ʼn lewe lei wat net so kleurryk en kompleks vir hulle is as wat joune vir jou is. Dis ʼn perspektief wat haar benadering tot leierskap en die lewe gerig het. “Wanneer ek my eweknieë ondersteun, moet ek onthou dat almal hulle eie bagasie het en ek kan nie aanneem dat ek dit ken of ten volle te verstaan nie.”
Met die 50ste herdenking van die Soweto-opstand hierdie Jeugmaand in Suid-Afrika sê Sebina dit laat haar dankbaar én verantwoordelik voel. “Die generasie van 1976 laat my bemagtig voel, maar ook dat ek vir iets groter verantwoordelik is,” peins sy. “Hulle opofferings het geleenthede geskep waarby baie van ons vandag baat vind. Dit herinner my daaraan dat jongmense wél ʼn stem het en dat ons bydraes vir toekomstige geslagte saak maak.”
Wanneer medestudente oorweldig voel deur die druk van die universiteitslewe, bied Sebina dikwels ʼn eenvoudige stukkie raad: Kyk op.
“Alles in ag genome, herinner ek myself graag daaraan dat ons steeds die berge het. Alles voel dalk te vinnig of te stadig of te moeilik, maar ons kan ons altyd sentreer in die skoonheid en veerkragtigheid van die natuur wat ons omring. Maak nie saak hoe gespanne of oorweldig jy voel nie, daar is skoonheid rondom jou. Jy moet net vir ʼn oomblik stilstaan, asemhaal en onthou jy is nie alleen nie.”