ʼn Vriendelike daad op sy eerste dag by die Universiteit Stellenbosch het Lwandisile Mhlanga se toewyding tot die ondersteuning van ander geïnspireer. Dié meestersgraadstudent en studenteleier het ʼn passie om omgewings te skep waarin mede-studente akademies, sosiaal en persoonlik kan floreer.
Lwandisile Mhlanga het 'n passie om studente te bemagtig
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ʼn betekenisvolle impak te hê.
Lwandisile Mhlanga van Orange Farm naby Johannesburg het in 2020 by die Universiteit Stellenbosch (US) opgedaag met nie veel meer as ʼn tas en vasberadenheid om dinge te laat werk nie.
Hy het hulp van verskeie ondersteuningsinisiatiewe op sy akademiese reis ontvang en is tans ʼn eerstegenerasie-gegradueerde wat werk met sy meestersgraad in ingenieurswese met ʼn fokus op logistiek en voorsieningskettingstelsels besig is.
Sy studie is deur ʼn kombinasie van beurse en toelaes gefinansier en hy is ook ʼn ontvanger van die Nedbank Mike Brown-studiebeurs, wat ʼn deurslaggewende rol op die pad na sy meestergraad gespeel het.
“Sonder finansiering sou my reis geëindig het nog voordat dit begin het. Studiebeurse het die voortdurende druk van oorlewing verwyder en my in staat gestel om my energie te gebruik om iets betekenisvols deur middel van onderwys te skep,” verduidelik hy.
Vir Mhlanga het die beursondersteuning toegang, verligting en moontlikheid ingehou. “Dit het my die ruimte gebied om groei bo beperking te kies en het die trajek van my lewe ingrypend verander.”
Dit het ook vir hom ruimte geskep om as ʼn leier te groei en hy is veral passievol daaroor om ondersteunende omgewings te skep wat studente bemagtig om akademies, sosiaal en persoonlik te floreer.
Hy is die huidige ondervoorsitter van die Senior Primkomitee en hy het in die Huiskomitees van die Metanoia-koshuis en Huis Russel Botman gedien. Hy het verlede jaar ʼn Rektorstoekenning vir leierskap ontvang.
Die krag van vriendelikheid
Hierdie saadjie is op sy eerste dag in Stellenbosch geplant. “Ek het per ongeluk ʼn dag vroeër opgedaag as wat ek veronderstel was. Gevolglik is ek nie by die spysenieringsreëlings vir daardie dag ingesluit nie. Een van die Huiskomiteelede, Luboya, het dit opgemerk. Hy het aangebied om vir my kos te koop en het seker gemaak ek is oukei. Daardie oomblik het my bygebly, want dit het my die krag van klein dade van vriendelikheid laat besef. Dit het my minder alleen laat voel, asook dat ek gesien word en welkom is.
“Deur in studenteleierskapsposisies te dien kon ek my dankbaarheid in verantwoordelikheid omskep,” voeg hy by. “Ek weet hoe dit voel om ondersteuning nodig te hê en hoe lewensveranderend dit kan wees wanneer iemand kies om daar vir jou te wees.”
Mhlanga is ook deel van die US se Luister-, Leef- en Leerprogram (LLL), ʼn senior ko-kurrikulêre leierskapsontwikkelingsinisiatief wat ontwerp is om graduandi-eienskappe, sosiale samehorigheid en verantwoordelike leierskap te kweek.
Hy wil nou geleenthede vir ander skep op soortgelyke wyse as wat geleenthede vir hom geskep is. Een manier waarop hy teruggee, is deur die Mhlanga-stigting. Dis ʼn gemeenskapsgerigte inisiatief wat hy verlede jaar in Orange Farm begin het en wat ten diepste met sy eie ervaring van grootword in ʼn hulpbronbeperkte township-omgewing verbind is.
Hy fokus tans hoofsaaklik op gr.12-leerders en help hulle met universiteits- en kollege-aansoeke, verskaf inligting oor studie-opsies, help hulle om beursgeleenthede te verstaan en lei hulle deur die proses van beplanning om vir die lewe ná skool voor te berei. Die langtermynvisie is om die Mhlanga-stigting in ʼn gestruktureerde program te omskep wat leerders van gr. 4 tot matriek ondersteun.
“Die Stigting se hoofdoel is om jongmense daaraan te herinner dat hul agtergrond nie hul toekoms hoef te beperk nie,” sê hy.
Mhlanga se graadkeuse is persoonlik én doelgerig. Hy beskou logistiek en voorsieningskettingbestuur as strategiese stelsels wat sakeprestasie, handel, ekonomiese groei en werkskepping beïnvloed en wil die analitiese, tegniese en strategiese vaardighede ontwikkel wat nodig is om op ʼn betekenisvolle manier tot hierdie stelsels by te dra.
“My doelwit is om ʼn loopbaan te bou waarin ek praktiese probleme kan oplos, stelsels kan verbeter en kan bydra tot nywerhede wat ʼn werklike impak op mense, ondernemings en gemeenskappe het,” verduidelik hy.