Lateefah Matinka help deur haar werk in menseregte, jeugontwikkeling en gemeenskapsaktivisme jongmense uit minderbevoorregte agtergronde om in moontlikhede te glo wat verder strek as hulle omstandighede. Die US-studenteleier glo waardigheid, sigbaarheid en geleenthede is nie net vir ’n bevoorregte handjievol bedoel nie.
Lateefah Matinka sorg dat toekomsdrome nie verlore gaan nie
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ’n betekenisvolle impak te hê.
Lateefah Matinka is ’n sprekende bewys dat jongmense van misgekykte agtergronde akademiese ruimtes kan betree en hervorm. Vir hierdie dinamiese jong vrou is dié werklikheid die grondslag van haar werk as studenteleier, menseregtestryder en gemeenskapsaktivis.
Die BA Geesteswetenskappe-finalejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n groot deel van haar universiteitsloopbaan daaraan gewy om geleenthede vir jongmense te skep wat, nes sy, dikwels deur die samelewing misgekyk voel. Deur haar leierskap in die Verenigde Nasies-vereniging van Suid-Afrika (UNASA), haar rol as ondervoorsitter van die UniDreams-stigting en haar werk deur die Lighthouse-projek, help sy jongmense om anders na hulleself te kyk.
“ ’n Groot deel van wat ek in die toekoms wil doen, is om te help om platforms en ruimtes te bou waar jongmense, veral diegene uit minderbevoorregte agtergronde, raakgesien en ondersteun voel en in hul eie vermoëns glo,” sê sy.
Daardie verbintenis is diep in haar eie ondervindings gewortel. Matinka het as die tweede van tien kinders in ’n huishouding grootgeword wat gekenmerk is deur onstabiliteit, dwelmmisbruik en geslagsgebaseerde geweld. Sy is ook ’n eerstegenerasie-universiteitstudent in ’n gesin waar hoër onderwys buite bereik gelyk het.
Tog was daar te midde van daardie uitdagings oomblikke wat haar begrip van waardigheid en deernis gevorm het. Sy onthou hoe haar ouma, wat vir byna vier dekades as huishulp gewerk het, haar aangemoedig het om te studeer en die siklus van swaarkry te verbreek. Sy onthou ook hoe sy in die winter by die skool opgedaag het met skoene wat uitmekaar val, totdat ’n onderwyser stilletjies vir haar ’n nuwe paar gekoop het. “Dit was een van die eerste kere dat ek verstaan het wat dit beteken as iemand jou raaksien en met opregte omgee reageer.”
Daardie ervarings sou later beïnvloed hoe sy na leierskap en maatskaplike geregtigheid kyk.
Om krag in haar eie stem te vind
Gedurende haar kinderjare het Matinka werklikhede aanskou wat geen jongmens ooit behoort te ervaar nie. Geweld teen vroue, kindermishandeling en ongelykheid was deel van haar alledaagse omgewing. Vir ’n lang tyd het hierdie ervarings normaal gevoel.
Toe vind daar ’n kopskuif plaas. “Daar het ’n punt gekom waar ek net gevoel het genoeg is genoeg,” onthou sy. “Ek het die besluit geneem om tot aksie oor te gaan en my eie mag terug te neem van ’n situasie wat my soveel gekos het.”
Wat as ’n persoonlike daad van verset begin het, het geleidelik in aktivisme ontwikkel. Namate sy meer bewus geword het van hoe diep geslagsgebaseerde geweld en onreg haar gemeenskap raak, was dit nie meer moontlik om stil te bly nie. “Stilte bemagtig die oortreders. Dit laat hulle toe om bloot voort te gaan.”
Haar aktivisme het deure na groter platforms oopgemaak. Sy het al op BRICS TV gepraat, die Mandela Impact Forum toegespreek, menseregte-inisiatiewe deur UNASA gelei en sal Suid-Afrika later vanjaar by ’n internasionale leierskapgeleentheid in Türkiye verteenwoordig.
Sy hou egter vol dat leierskap nie oor erkenning gaan nie. “Ek is baie mens-georiënteerd,” sê sy. “As ek die vermoë het om iemand te ondersteun, sal ek. As ek iemand ken wat kan help, sal ek hulle met mekaar in verbinding bring. Dit spruit uit my eie ondervinding waar ek self goedhartigheid en ondersteuning van ander ontvang het.”
Hoop bestaan reeds
’n Groot deel van Matinka se werk is daarop gerig om jongmense uit minderbevoorregte gemeenskappe deur mentorskap, opvoedkundige bystand en leierskapontwikkeling te ondersteun.
Maar die gemeenskappe wat sy dien, het haar net soveel verander as wat sy hoop om hulle te beïnvloed. “Wat in my verander het, is dat ek hoop nie meer as iets sien wat óns na hierdie ruimtes toe bring nie,” verduidelik sy. “Dit is iets wat reeds daar bestaan, selfs in die moeilikste omstandighede.”
Sy praat van leerders wat by kerslig studeer omdat daar nie elektrisiteit by die huis is nie, en ander wat eers na jonger sibbe omsien voordat hulle opvoedkundige programme bywoon. Ondanks enorme struikelblokke hou hulle aan om op te daag, vrae te vra oor universiteit en oor ’n toekoms te droom wat niemand rondom hulle al ondervind het nie. “In daardie oomblikke word dit baie duidelik dat hoop nie iets is wat ons oorhandig nie. Dit is iets waaraan hulle reeds self vashou.”
Hierdie ondervinding het haar net weer eens laat besef dat die jeug nie ’n gebrek aan talent het nie, maar ’n gebrek aan geleenthede. “Ons daag nie op om enigiets reg te maak nie. Ons word bloot vertrou om die pad te stap saam met mense wat reeds self baie hard vir hulle eie toekoms veg.”
Om jou regmatige plek in te neem
Toe Matinka by die US aangekom het, het sy aanvanklik gesukkel om haar plek te vind. Sy onthou hoe sy in ’n lesingsaal gesit het, omring deur studente wat MacBooks en iPads oopmaak, terwyl sy aantekeninge in ’n R5-notaboekie gemaak het wat by ’n afslagwinkel gekoop is. Sy het pynlik bewus geword van hoe sy aantrek, praat en haarself gedra. Soms het sy gewonder of sy daar tuishoort.
“Ek het dit regtig oorweeg om op te skop.” Wat haar gehelp het om deur te druk, was om te onthou waarom sy gekom het.
Sy het besef haar teenwoordigheid by die Universiteit verteenwoordig iets wat groter is as sy self. Eerder as om op dít te fokus wat sy nie gehad het nie, het sy begin fokus op wat sy kon bydra. Sy gee erkenning aan haar suster, mentors soos Michelle Pietersen van die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie, sowel as medestudenteleiers wat haar gehelp het om haar voete te vind.
“Baie van my groei het nie bloot uit formele strukture gekom nie, maar van die mense saam met wie ek elke dag werk,” sê sy. “Ons het saam gegroei terwyl ons na gedeelde doelwitte gestreef het.”
Terwyl Suid-Afrika hierdie Jeugmaand die 50ste herdenking van die Soweto-opstand herdenk, voel Matinka ’n diep verantwoordelikheid om die nalatenskap van die jongmense te eer wat voor haar onreg uitgedaag het. “Ek het ontsaglike respek vir die moed van die jeug van 1976. Dit herinner my daaraan dat leierskap nooit passief of selfgesentreerd mag word nie.”
Op die vraag wat sy sou aan ’n jong meisie sou sê wat vandag in armoede of swaarkry grootword, weerspieël haar antwoord die filosofie wat haar werk rig. “Jy hoef nie buitengewoon te wees om ’n ander lewe te verdien nie. Moet asseblief nie dat die wêreld jou oortuig dat jou storie reeds klaar geskryf is nie.”