Gomolemo Nkgoedi moes ’n groot deel van sy vroeë kinderjare in die hospitaal deurbring. Dít hom geïnspireer om in die geneeskunde te studeer en sy lewe daaraan te wy om ander te help. As voorsitter van die Tygerberg-spensprojek help hy studente wat deur voedselonsekerheid, menstruasie-armoede en finansiële swaarkry in die gesig gestaar word met waardigheid en deernis.
Gomolemo Nkgoedi bewys klein dade kan lewens verander
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en 'n betekenisvolle impak te hê.
Nog lank voordat Gomolemo Nkgoedi ’n geneeskundestudent geword het, was hy ’n pasiënt. Hy het in ’n township buite Bloemfontein grootgeword en ’n groot deel van sy vroeë kinderjare in die hospitaal deurgebring ná ’n ernstige ongeluk. Van sy vroegste herinneringe is nie van speelterreine of klaskamers nie, maar van kindersale, dokters en verpleegkundiges.
Tog is dit nie die mediese behandeling wat hy die beste onthou nie. Dit is die omgee. “Ek onthou die dokter wat my geleer het hoe om my eerste papiervliegtuigie te vou,” vertel hy. “Die arbeidsterapeute het my leer lees. Die dokters, die verpleegkundiges en die personeel was my vriende.”
Vir die nuuskierige seuntjie het daardie gesondheidswerkers rolmodelle geword. Die manier waarop hulle die ekstra myl geloop het om werklik na ’n kwesbare kind om te sien, het ’n blywende indruk op Nkgoedi gemaak. Sy kinderdroom om ’n dokter te word, was nie net om ’n geneser te wees nie, maar om dieselfde diepgaande positiewe impak na te doen wat die hospitaalpersoneel op sy eie lewe gehad het.
Vandag is Nkgoedi ’n derdejaarstudent in die geneeskunde aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Daar word skertsend na hom verwys as “Gomo, the mover and shaker” en hy is reeds ’n krag ten goede op die Tygerberg-kampus, waar hy impakvolle inisiatiewe dryf wat in sorg en ondersteuning gewortel is.
As ’n ambisieuse kind en selferkende dromer het Nkgoedi altyd geglo ’n universiteit sal deel van sy toekoms uitmaak. Toe die aansoektyd aanbreek, het hy lekkers by die skool verkoop om sy universiteitsaansoekgeld te help betaal. “Ek was nog altyd vindingryk wanneer dit by die uitdink van oplossings kom,” sê hy met ’n glimlag.
Meer as net ’n kospakkie
Daardie selfde vasberadenheid om oplossings te vind, sou uiteindelik een van sy belangrikste leierskaprolle vorm. Nkgoedi dien as voorsitter van die Tygerberg-spensprojek, ’n inisiatief wat aan studente toegang bied tot kos, toiletware en noodsaaklike sanitêre produkte deur middel van ’n anonieme versoekstelsel. Die projek is in die lewe geroep om te verseker dat geen student se akademiese sukses deur voedselonsekerheid of ’n gebrek aan basiese benodigdhede belemmer word nie.
Toe hy aanvanklik betrokke geraak het, het hy gehelp om skenkings te verpak en te versprei. Een spesifieke ervaring het ’n blywende indruk gelaat.
’n Student het ’n versoek vir verskeie noodsaaklike items ingedien. Nkgoedi het begin pak, net om te ontdek dat die spens amper niks oorgehad het om te gee nie. “Die enigste ding wat ons in voorraad gehad het, was ’n pakkie kits-bruinuiesop,” onthou hy.
Hierdie ervaring het hom geweldig gefrustreer. “Ek het moedeloos gevoel en gedink: Wat kan ek doen om werklik te help?” Eerder as om te wag dat iemand anders die probleem oplos, het Nkgoedi en sy medestudenteleiers studente self begin aanmoedig om deel van die oplossing te word. Skenkingsveldtogte is van stapel gestuur, bewusmakingsveldtogte is uitgebrei en gesprekke met die fakulteitsbestuur het nuwe momentum gekry.
Die doel was nooit om net kos te verskaf nie. “’n Baie belangrike oorweging is om die waardigheid van studente te respekteer en te herstel,” sê hy.
Die Spensprojek ondersteun nou studente wat met ’n verskeidenheid uitdagings van voedselonsekerheid tot menstruasie-armoede en finansiële swaarkry worstel. Versoeke word anoniem hanteer om te verseker dat studente sonder verleentheid of stigma ondersteuning ontvang.
Vir Nkgoedi kan hierdie klein dade van omgee ’n diepgaande impak hê. “Om hulp te kry, laat mense meer menslik, raakgesien en versorg voel. Jy neem hulle bekommernis weg oor waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom.”
Een hand was die ander
Aan die hart van Nkgoedi se leierskapfilosofie is ’n eenvoudige Xhosa-uitdrukking: Izandla ziya gezana – een hand was die ander. Dit is ’n beginsel waarna hy gereeld terugkeer. Of hy nou kosinsamelings organiseer, kliniese drag (scrubs) vir eerstejaarstudente insamel, of gesprekke oor ongelykheid en maatskaplike geregtigheid fasiliteer, sy fokus is altyd op die bou van gemeenskappe waar mense mekaar ondersteun.
“Wanneer ons as een saamwerk, sal ons vuur as ’n gemeenskap nooit ophou brand nie,” sê hy. Sy geloof in kollektiewe verantwoordelikheid is nie net deur sy opvoeding gevorm nie, maar ook deur sy ervarings by die US.
Voordat hy op die kampus aangekom het, was hy nog nooit aan so ’n uiteenlopende verskeidenheid mense, perspektiewe en lewenservarings blootgestel nie. “Die Universiteit Stellenbosch het my oë oopgemaak vir die werklikheid dat ons ’n ongelyke land is,” sê hy. “Ons groepeer onsself gewoonlik binne daardie ongelykhede. In ’n smeltkroes soos ons kampus, moet ons uit ons gemaksones beweeg en mekaar ontmoet.”
Die Universiteit het hom ook waardevolle lesse oor veerkragtigheid geleer. Een van die grootste uitdagings wat hom in die gesig gestaar het, was om die vrees vir mislukking te oorkom. Vroeë leierskapambisies het nie altyd ontvou soos beplan nie. Tog het daardie teleurstellings hom uiteindelik gelei na wat hy beskryf as sy grootste prestasie van die afgelope paar jaar – om hom nou in ’n posisie te bevind waar hy baanbrekerswerk kan doen wat werklik saak maak.
“My grootste prestasie is dat ek ’n kans in leierskap gegun is om dinge te doen wat werklik ’n impak maak, soos die sukses van ons kliniese-drag-insameling, die verbeterings in spense oor die kampus heen, en hoe uiteenlopende groepe mense hulleself oopgestel het om aan moeilike gesprekke deel te neem.”
Terwyl Suid-Afrika hierdie Jeugmaand die 50ste herdenking van die Soweto-opstand herdenk, glo Nkgoedi jongmense het ’n verantwoordelikheid om die opofferings van vroeëre generasies deur aksie te eer. “Hulle wou iets beter hê vir hulleself en vir ons. Vir my begin dit by hoe ek, as ’n individu, ’n verskil kan maak.”
Buite die wêreld van die geneeskunde en studenteleierskap geniet hy dit om te sing, te dans, wat hy beskryf as “flou grappies” te maak, en om tyd saam met vriende deur te bring. “Ek is ’n mens wat baie waarde heg aan menslike verbintenisse,” sê hy.
Nkgoedi hoop om eendag die geneeskunde met openbare gesondheidsleierskap te kombineer om sodoende te help om gesondheidstelsels en dienslewering in Suid-Afrika te verbeter. Sy ambisie brand steeds net so helder as toe hy ’n kind was wat papiervliegtuigies in ’n hospitaalsaal gevou het.
“Ek hou altyd daarvan om groot te dink en myself af te vra: ‘Hoe kan ek die grootste impak maak om mense se lewens te verbeter?’” Dan glimlag hy. “Ek glo die lewe ontmoet jou op die vlak van jou waagmoed.”