Breadcrumb
Toegangskaartjies en aankomstyd
Aankomstyd
Die Coetzenburg-sentrum se deure sal 'n uur voor die aanvang van die plegtigheid open. Ons versoek vriendelik dat jy én jou gaste nie minder nie as 30 minute voor die aanvang van die plegtigheid julle sitplekke sal inneem.
Alle graduandi moet direk na die Coetzenburg-sentrum gaan. Maak seker dat jy jou gehuurde akademiese drag by jou het. Jou toegangskaartjie sal jou toegewese sitpleknommer insluit, en jy sal jou aankondigingskaart op jou toegewese sitplek vind.
Toegangskaartjies vir gaste
Die Coetzenburg-sentrum se populasiesertifikaat bepaal die maksimum aantal mense wat op enige gegewe tydstip in die lokaal toegelaat word. Aangesien dit 'n wetlike vereiste is, kan die Universiteit slegs 'n vasgestelde aantal gastekaartjies per graduandi uitreik:
- Voorgraadse en honneursgraduandi mag twee gaste nooi.
- Meestersgraduandi mag drie gaste nooi.
- Doktorale graduandi mag vier gaste nooi.
Aangesien ons geen bykomende kaartjies kan uitreik nie, nooi ons familie en vriende uit om die plegtighede aanlyn by www.su.ac.za/streaming te volg.
Kaartjieskedule
Jou toegangskaartjies (jou eie en jou gaste se kaartjies) sal vanaf Donderdag 4 Desember 2025 per e-pos aan jou amptelike @sun.ac.za-adres gestuur sal word. Jy kan verwag om jou kaartjies ten minste twee dae voor jou plegtigheid te ontvang.
As die e-pos nie opdaag nie, kan jy steeds jou kaartjies op die dag van jou plegtigheid by die inligtingskiosk by die Coetzenburg-sentrum afhaal.
Indien jy aangedui het dat jy in absentia gaan gradueer, sal jy steeds jou kaartjies per e-pos ontvang vir ingeval jy van plan sou verander.
Kaartjies kan gedruk of op selfone gestoor word en moet by die deur getoon word. Let daarop dat hierdie reëling vir graduandi én gaste geld.
‘Kaartjiehandel' is verbode
Indien jy nie jou gradeplegtigheid gaan bywoon nie, moet jy asseblief nie jou kaartjies verkoop, oordra of andersins aan 'n ander graduandi of gas gee nie, aangesien dit streng verbode is. Deur dit te doen, sal jy aan dissiplinêre stappe blootgestel word ingevolge die Kode vir Studentedissipline en sal dit daartoe lei dat die bykomende kaartjies gekanselleer word.
Lokaaletiket
Kom ons werk saam om te verseker dat al ons graduandi en gaste die beste moontlike ervaring het:
1. Wees asseblief betyds. Mense wat laat aankom, selfs diegene met toegangskaartjies, kan toegang tot die lokaal geweier word.
2. Gun al ons graduandi en hulle gaste die geleentheid om fees te vier deur tot aan die einde van die plegtigheid te bly sit.
3. Bring asseblief slegs ongegeurde water in die lokaal in en geen kos of ander drankies nie.
4. Gradeplegtighede is lank en kan vermoeiend vir voorskoolse kinders wees. Ons moedig julle aan om alternatiewe reëlings te tref vir die versorging van klein kindertjies. Indien dit nie moontlik is nie, onthou asseblief dat elke persoon wat die lokaal binnekom, insluitende kleuters, 'n kaartjie moet hê.
5. Indien jy beplan om 'n privaat fotograaf in die lokaal in te bring, moet hulle ook 'n kaartjie hê wat uit jou gastetoewysing sal moet kom. Ons vra vriendelik dat private fotograwe daarop bedag is om nie afbreuk te doen aan die verrigtinge of amptelike fotograwe in die uitvoering van hulle pligte te belemmer nie.
6. Gaste wat sonder kaartjies by die Coetzenburg-sentrum opdaag, sal in twee oorlooplokale in die Sportwetenskapgebou (nr 9 op die parkeerkaart), direk agter die Coetzenburg-sentrum, gehuisves word, waar hulle die plegtigheid via die regstreeks stroomuitsending sal kan volg.
Indien jy enige verdere vrae het, stuur gerus 'n e-pos aan ons by [email protected].