Breadcrumb
Gradueer in absentia
Indien jy nie jou gradeplegtigheid kan bywoon nie, het jy tot Vrydag, 6 Maart 2026 om reëlings te tref om in absentia te gradueer.
Hoe om aan te dui dat jy in absentia gradueer:
Meld aan by die studenteportaal en gaan na Akademics > Graduation ceremony > kies Nee vir bywoning van jou gradeplegtigheid > kies óf koerieraflewering óf self afhaal.
Voltooi asseblief die aanlyn vorm teen Vrydag, 6 Maart 2026. Jy moet ook teen Vrydag, 6 Maart 2026 bevestig dat jy self jou gradueringsdokumente wil kom afhaal. Na dié datum sal geen verdere versoeke oorweeg word nie, want die dokumente word verpak en na die Kliëntediens-inligtingstoonbank versend om afgehaal te word.
Verkeerde persoonlike inligting wat op dokumente verskyn
Jy moet so gou moontlik jou persoonlike inligting (naam of name en van) op jou studenteprofiel bevestig, aangesien die besonderhede wat ons op rekord het, op jou gradueringsdokumente sal verskyn. Indien jy versuim om jou besonderhede te bevestig of by te werk en jou dokumente met die verkeerde persoonlike inligting by jou opdaag, sal 'n bykomende bedrag van R500 gehef word vir die heruitreiking van die dokumente. Ons sal jou ook versoek om 'n koerier te reël.
Self afhaal
Indien jy teen 6 Maart 2026 gekies het om jou gradueringsdokumente self te kom afhaal, sal jou dokumente verpak word en vanaf Maandag, 30 Maart tot 30 Junie 2026 gereed wees vir afhaal by die Kliëntediensinligtingstoonbank in die Anorganiese Chemiegebou (no 4 op die kampuskaart). Jy kan jou gradueringsdokumente op enige weeksdag tussen 08:00 en 16:30 afhaal.
Koerieraflewering van gradueringsdokumente
Let asseblief daarop dat koerieraflewering die Universiteit Stellenbosch se verstekopsie is. Daarom sal ons outomaties jou gradueringsdokumente laat koerier indien ons nie teen Vrydag, 6 Maart 2025 'n ander opdrag ontvang het nie en jy afwesig is by jou gradeplegtigheid.
Ons sal jou gradueringsdokumente na afloop van die gradeweek koerier. Jou verstek-koerieradres sal die woonadres op jou studenteprofiel wees. Om jou dokumente by 'n ander adres te ontvang, moet jy asseblief die besonderhede in die spasie daarvoor op die studenteportaal voltooi.
Neem in ag dat die Universiteit se koerierdiens, DHL, nie by 'n posbusadres kan aflewer nie.
Adres en kontakbesonderhede
Indien jy aangedui het dat jy koerieraflewering verkies, sal DHL jou gradueringsdokumente by jou aflewer, hetsy plaaslik of in die buiteland. Die verstekadres sal die woonadres op jou studenteprofiel wees. Om te verseker dat jy jou dokumente so gou moontlik ontvang, maak asseblief seker dat ons jou korrekte besonderhede en kontaknommer het.
Die Universiteit kan ongelukkig nie verantwoordelikheid aanvaar vir verkeerde, laat of geen aflewering indien jy nie jou adres en kontakbesonderhede op ons stelsel bygewerk het nie.
Maak asseblief seker dat jou korrekte besonderhede en kontaknommer op ons stelsel verskyn.
Om jou besonderhede by te werk, stuur asseblief teen 12:00 op Vrydag, 6 Maart 2026 'n e-pos aan ons by [email protected].
Tydsraamwerk vir aflewering
Ons sal vanaf Donderdag, 2 April 2026 gradueringsdokumente begin versend. Plaaslike aflewerings neem gewoonlik tussen twee en vyf werksdae, hoewel aflewerings na afgeleë gebiede effens langer kan neem.
Na gelang van waar jy jou bevind, kan internasionale aflewering tot sewe werksdae neem.
Opsporing en kennisgewing van jou aflewering
DHL sal vir jou 'n SMS stuur met jou DHL-opsporingsnommer en jou telefonies van die aflewering te verwittig. Daarom moet jy voor 12:00 op Vrydag, 6 Maart 2025 seker maak dat jou korrekte selnommer op ons stelsel verskyn.
Verkeerde of geen aflewering
*Let asseblief daarop dat die Universiteit nie aanspreeklik gehou kan word vir verkeerde besonderhede (adresse en kontaknommers) op die stelsel wat daartoe kan lei dat DHL-koerierdienste jou dokumente by die verkeerde woonadres aflewer of weens verkeerde kontaknommers nie gegradueerdes kan kontak om aflewering te bevestig nie.
Jy sal 'n bykomende bedrag van R500,00 moet betaal vir enige gradueringsdokumente wat weens verkeerde besonderhede op die stelsel heruitgereik moet word.
Vir verdere navrae oor die aflewering of opsporing van jou gradueringsdokumente, skakel DHL by 021 872 4717. Vir ander hulp, stuur gerus 'n e-pos aan ons by [email protected].