Nelly Vilakazi het as een van tien kinders vroeg in haar lewe al lesse oor veerkragtigheid en die waarde van onderwys geleer. Nadat sy onsekerheid oor verblyf, finansiering en om te behoort in haar vroeë universiteitsdae te bowe gekom het, het sy haarself daaraan toegewy om ander studente op hulle reis te help.
Nelly Vilakazi gee terug wat sy van ander ontvang het
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en ʼn betekenisvolle impak te hê.
Nelly Vilakazi het in 2022 by die Universiteit Stellenbosch (US) opgedaag met ʼn tas, ʼn paar kledingstukke en ʼn kombers. Daar was R1 500 in haar beursie. Agter haar het jare van ontbering en veerkragtigheid gelê. Voor haar het ʼn toekoms gewink wat sy vasbeslote was om aan te gryp.
Haar ouers het varke en bokke verkoop om haar reis van Springs, oos van Johannesburg, na Stellenbosch te help finansier. Vilakazi het in ʼn groot gesin grootgeword en is een van tien sibbe. Sy en haar tweelingsuster, wat tans aan ʼn meestersgraad in die regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland werk, het moeilike kinderjare gehad.
Haar pa was ʼn politieke aktivis wat hom teen swak dienslewering in hulle gemeenskap in Daveyton uitgespreek het. Die gesin het in ʼn plakkershut gewoon sonder betroubare toegang tot water en elektrisiteit. Toe sy 10 jaar oud was, het die polisie een nag by hulle huis opgedaag en haar pa weggeneem. “Ons het hom amper twee weke lank nie gesien nie,” onthou Vilakazi. “Geen klagte is aanhangig gemaak om aan te dui wat hy verkeerd gedoen het nie.”
Dié ervaring het ʼn blywende indruk gelaat. “Ek dink dis wat my suster laat besluit het om regte te studeer. Ons het baie ongeregtighede ervaar toe ons grootgeword het.” Hoewel haar gesin later na ʼn stiller voorstad verhuis het, het die lewe steeds uitdagend gebly. Haar hoërskool was oorvol en het nie genoeg hulpbronne gehad nie.
“In graad 8 was ons 54 leerlinge in een klaskamer,” vertel sy. “Soms moes ons huis toe gaan omdat daar geen water was nie en die toilette nie kon spoel nie.” Tóg het daardie ervarings ook haar perspektief verbreed. “Toe ek in Stellenbosch aangekom het, was ek soos, ‘Goed, ek het al erger gesien. Ek sal eerder probeer en misluk as om terug huis toe te gaan.’”
Die e-pos wat alles verander het
Die oorgang na universiteit was allesbehalwe glad. Vilakazi het sonder verblyf, sonder bevestigde befondsing en sonder die voordeel van ʼn oriënteringsweek aangekom. Sy het geen idee gehad hoe universiteitstelsels werk, waar haar lesinglokale was of hoe om toegang tot sommige van die aanlyn platforms te kry wat studente as vanselfsprekend aanvaar nie.
In ʼn stadium het sy gewonder of haar droom om te studeer dalk sou eindig voordat dit behoorlik begin het. Toe kom die e-pos. Ná dae van onsekerheid en herhaalde pogings om ʼn plek in ʼn koshuis te verseker, het sy bevestiging ontvang dat haar verblyf uiteindelik goedgekeur is. “Ek kon net nie glo die e-pos was eg nie,” onthou sy met ʼn glimlag. “Kan dit waar wees? Het ek regtig plek in Serruria gekry!?”
Daardie oomblik het alles verander. “Ek het besluit ek gaan seker maak ek doen akademies goed en maak die beste van elke geleentheid.”
Vilakazi was aanvanklik vir maatskaplike werk geregistreer, maar het gou besef dat dié graad nie die regte pasmaat was nie en het na veekunde oorgeskakel. Vandag floreer sy op ʼn gebied wat haar akademiese belangstelling met haar lewenslange verbintenis met boerdery en vee kombineer. “Boerdery is in my bloed,” glimlag sy. Haar droom is om nagraads te studeer en uiteindelik haar eie boerdery-onderneming met ʼn fokus op diereteling en veeproduksie te vestig.
Vergemaklik die pad vir ander
Gedurende Vilakazi se eerste jaar het sy veral geleer hoe belangrik ondersteuning is. Sy onthou steeds die mense wat haar gehelp het om deur daardie moeilike eerste dae te kom. In Admin A is sy deur ʼn “lang Xhosa-vrou met kort hare” begroet wat haar gehelp het om haar tas te dra. Vilakazi was so moeg dat sy nie haar weldoener se naam gevra het nie. “Waar sy ook al is, mag die Here haar seën, want sy was my heel eerste ondervinding van vriendelikheid en hulp by die US.”
Verdere ondersteuning het van koshuispersoneel gekom wat haar laat tuis voel het, mentors wat haar gelei het en die Dell Young Leaders-program wat haar gedurende haar tweede jaar gehelp het toe haar ma haar werk verloor het.
“Ek het so oorweldig gevoel,” onthou sy. “Die Dell Young Leaders-span het ʼn sielkundige vir my gereël. Ná ons sessies het ek besef ek voel beter omdat iemand die moeite gedoen het om te luister en my te lei om oplossings te vind.”
Hierdie ervarings het haar eie leierskapsreis geïnspireer om ander studente te help om hulle voete te vind. Sy het vrywillig as ʼn mentor in die SOAR-program vir eerstegenerasiestudente gewerk, ʼn portuurmentor in die Serruria-koshuis geword en later as ondervoorsitter van die AgriWetenskappe-studentevereniging gedien. Sy werk ook as ʼn onderrigassistent in wiskundige biologie en help eerstejaarstudente om uitdagende kursuswerk baas te raak.
Die belangrikste motivering om leiersposisies te aanvaar was dat ek nie wou hê enigeen moes ervaar wat ek deurgemaak het toe ek op Stellenbosch aangekom het nie,” sê sy. Hierdie rolle het haar help groei en sy het meer selfvertroue gekry. “Elke keer wanneer ek gaan slaap het en daardie maroen baadjie langs my bed gesien het, het ek geweet verantwoordelikheid roep my.”
Terwyl Suid-Afrika die 50ste herdenking van die Soweto-opstand in die loop van Jeugmaand herdenk, is Vilakazi deeglik daarvan bewus dat haar eie geleenthede deur die moed van vorige geslagte moontlik gemaak is. “As die jeug van 1976 nie vir hulle regte en gelyke geleenthede in onderwys geveg het nie, sou ek nie nou in Stellenbosch gewees het nie,” sê sy.
Vandag beskou sy haar rol as die voortsetting van daardie nalatenskap op haar eie manier – nie deur groot gebare nie, maar deur daaglikse dade van mentorskap, ondersteuning en diens. Sy bly innig dankbaar jeens diegene wat haar gehelp het om te volhard.
Met die oog op die toekoms hoop sy om die soort leier te word wat dieselfde vir ander doen. Vilakazi weet immers beter as die meeste mense hoe ʼn enkele vriendelike daad die koers van ʼn lewe kan verander.