Skip to main content
•	Having grown up across several countries, Hannah Sieberhagen learned early how to navigate uncertainty, adapt to different cultures and find connection in unfamiliar places.
Image by: Stefan Els

Omdat sy in verskeie lande grootgeword het, het Hannah Sieberhagen vroeg al geleer hoe om onsekerheid te navigeer, aan te pas by verskillende kulture en verbintenisse in onbekende plekke te vind.

Kampuslewe

Hannah Sieberhagen omskep idees in gemeenskappe

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
11 Junie 2026
  • #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en 'n betekenisvolle impak te hê.

 

Hannah Sieberhagen het vir 'n groot deel van haar kinderjare 'n lewe gelei waarmee min studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) kan identifiseer. Haar ouers is Suid-Afrikaners en sy is in Suid-Afrika gebore, maar sy het in haar vroeë kinderjare tussen lande gereis terwyl haar sendelingouers in Sentraal-Asië gedien het. Teen die tyd dat sy op negejarige ouderdom na Suid-Afrika teruggekeer het, het sy reeds meer kulturele oorgange en onsekerheid ervaar as wat baie mense in hulle leeftyd ervaar.

"Ek was net drie maande oud toe my ouers my na Oesbekistan geneem het," vertel sy. "Ek het in verskillende lande in Sentraal-Asië grootgeword en ook 'n tyd in die Verenigde State deurgebring." 

Danksy hierdie ondervinding het sy 'n Amerikaanse aksent ontwikkel wat vandag nog vrae laat ontstaan. Soms het dit haar soos 'n buitestaander laat voel, maar meestal dink mense dis cool, lag sy. Tog het daardie jare haar ook iets geleer wat van onskatbare waarde is. "Ek sukkel regtig nie so baie soos ander oor kulturele heen nie, want ek is gewoond daaraan om by verskillende kulturele omgewings aan te pas. My ondervindings gedurende my kinderjare het my ook geleer hoe om onsekerheid te hanteer."

Sieberhagen, nou in haar derde jaar van haar BA Geesteswetenskappe-program met Frans en sielkunde as hoofvakke, is iemand wat instinktief tot verbintenisse aangetrokke voel. Sy het deels die US gekies omdat sy die lewe buite haar tuisdorp, Gqeberha, wou ervaar, maar ook omdat sy aangetrokke tot iets minder tasbaar was. "Ek het gevoel Stellenbosch het uitgestaan ten opsigte van die gemeenskap wat dit geskep het en die geleenthede wat dit bied om verbintenisse te sluit en 'n lewe buite die akademie te hê."

Dit is presies wat sy in die Harmonie-koshuis gevind het. "Dis 'n plek waar jy verbintenisse kan sluit, nuwe dinge kan leer en 'n veilige ruimte het om vriende te maak." 

Bou brûe deur aksie 

As daar een frase is wat Sieberhagen se benadering tot die lewe vasvang, is dit haar persoonlike leuse: "Waarom nie ek nie?" Dit is 'n filosofie wat 'n groot deel van haar leierskapsreis gevorm het. 

As Harmonie se huiskomiteelid vir sosiale impak het sy al hoe meer van die finansiële druk bewus geword wat baie studente in die gesig staar en die toenemende gesprekke oor ongelykheid op kampus. Eerder as om net die kwessie te bespreek, wou sy 'n praktiese manier vind om te help. 

Die uitvloeisel hiervan was die gewilde 'Dunk a Prim'-veldtog. Die konsep was misleidend eenvoudig. Studenteleiers van koshuise en pendelgemeenskappe sou water oor hulle primarias gooi en ander studentegemeenskappe benoem om dieselfde te doen, terwyl hulle donasies aan die #Move4Food-inisiatief – wat studente ondersteun wat voedselonsekerheid ervaar – aanmoedig.

Wat as 'n enkele uitdaging op sosiale media begin het, het vinnig oor die kampus versprei. Koshuise, pendelgemeenskappe, verenigings, klustersameroepers en studenteleiers het ook begin deelneem. Teen die einde van die veldtog is meer as 1 500 voedselitems geskenk wat honderde studente deur kospakkies ondersteun het. Vir Sieberhagen het die grootste sukses van die veldtog baie verder as net die donasies self gestrek. "Dit was 'n manier vir studenteleiers om te sê hulle sien studente raak wat deur opvoedkundige skeidsmure geraak word." 

Daardie begeerte om mense vir 'n gemeenskaplike doel bymekaar te bring, strek ook verder as kampusgeldinsameling. Sy het gehelp om tutor-inisiatiewe by die Aitsa-nasorgsentrum in Kylemore te koördineer waar Harmonie-inwoners leerders uit minderbevoorregte agtergronde ondersteun. Sy het ook uitreikaksies met inwoners van die Utopia-tehuis vir bejaardes gereël wat studente help om betekenisvolle verhoudings oor verskillende generasies heen te bou.

Die onderliggende oortuiging van al hierdie projekte is dat gemeenskap doelbewus gebou word. "As jy 'n behoefte sien, moenie verwag dat ander daarin sal voorsien nie," sê sy. "Steek jou hande uit die moue en raak betrokke." 

Skep plekke waar mense behoort 

Die beste voorbeeld van daardie filosofie het waarskynlik na vore gekom toe Sieberhagen 'n gaping op kampus opgemerk het. Sy het as 'n eerstejaarstudent in Frans gefrustreerd geraak oor hoe moeilik dit vir studente wat Frans leer, was om met ander Franssprekendes en uitruilstudente te skakel.

Eerder as om die situasie bloot net te aanvaar, het sy besluit om 'n Franse Vereniging op die been te bring. Die proses was allesbehalwe maklik. Sieberhagen en twee vriende het dag en nag gewerk om 'n grondwet op te stel, lede te werf en 'n uitvoerende komitee te vestig.

Sy is deur die oortuiging gemotiveer dat studente 'n ruimte nodig gehad het waar hulle rondom 'n gedeelde passie bande kon smee. "Dit was vir my baie belangrik dat dit nie net vir mense was wat Frans as vak neem nie," verduidelik sy. "Ek wou hê enigiemand met 'n belangstelling in Frans moes welkom voel." Vandag floreer die Franse Vereniging steeds.

Vir Sieberhagen maak dit elke hindernis die moeite wanneer studente vir haar sê hulle het vriendskap, 'n gevoel van behoort en 'n gemeenskap gevind.

Terwyl Suid-Afrika hierdie Jeugmaand die 50ste herdenking van die Soweto-opstand vier, glo sy jongmense het steeds 'n belangrike rol om in die aanspreek van onreg en die vorming van die samelewing te speel. "Wanneer ek 'n probleem sien, wil ek iets daaraan doen, ongeag wat die risiko is," sê sy.

Dit is 'n filosofie wat in geloof gewortel is, deur ervaring versterk word en sigbaar is in alles wat sy doen. Sieberhagen se benadering tot leierskap word baie sterk deur haar Christelike geloof onderstut. Sy sê die manier waarop sy oor gemeenskap, deernis en diens aan ander dink, is deur haar geloof in Jesus gevorm. Om in sendinggemeenskappe groot te word en die positiewe invloed te sien wat geloofsgebaseerde netwerke op mense se lewens kan hê, het haar oortuiging versterk dat mense floreer wanneer hulle verbonde, ondersteun en gewaardeer voel.

Afgesien van haar studie en gemeenskapswerk, spandeer Sieberhagen haar tyd aan fotografie, dans, sang, stap en reis. "Een van my grootste uitdagings is dat daar soveel dinge is wat ek wil doen en deel van wil wees, maar daar is net nie genoeg tyd vir alles nie," lag sy.

Of sy nou 'n kampuswye geldinsamelingsveldtog reël, 'n kulturele vereniging bou of ander deur sosiale-impakprojekte mentor, keer Sieberhagen steeds terug na dieselfde idee: Gemeenskappe word sterker wanneer mense kies om ruimtes te skep waar ander kan behoort.

Merkers

News

Verwante stories