Keenen Gilbert, 'n PhD-student het sy nege jaar aan die Universiteit Stellenbosch daaraan gewy om geleenthede in dade van diens te omskep. Van voedselinsamelings en tutor tot studenteleierskap en welstandsinisiatiewe, het hy 'n groot deel van sy universiteitsreis daaraan gewy om ander te help floreer.
Keenen Gilbert omskep deernis in aksie by US
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en 'n betekenisvolle impak te hê.
Keenen Gilbert sê graag grappenderwys sy bloed is maroen en goud. Ná nege jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) met vier grade en ontelbare leierskapsrolle agter sy blad, steek daar dalk 'n greintjie waarheid in dié grap.
Gilbert se liefde vir die US gaan oor baie meer as net institusionele trots. Vir hom het die Universiteit 'n plek geword waar 'n weetgierige seun van Johannesburg ontdek het dat om mense te help nie 'n graad in die geneeskunde, rykdom of invloed vereis nie. Dit vereis bloot 'n bereidwilligheid om te dien.
Vandag is die PhD-kandidaat in die fisiologiese wetenskappe een van die mees herkenbare studentleiers op kampus. Gilbert 'n groot deel van sy universiteitsloopbaan daaraan bestee om een eenvoudige vraag te vra: Hoe kan ek help? – hetsy dit was deur voedselinsamelings te organiseer, sukkelende studente te tutor, geld vir behoeftiges in te samel of om te help om studenteontwikkelingsprogramme te ontwikkel.
'n Wetenskaplike met die hart van 'n dienaar
Gilbert het in Edenvale, oos van Johannesburg, in 'n gesin grootgeword wat groot waarde aan opvoeding, deernis en gemeenskapsdiens geheg het. "My ouers het ons altyd geleer dat jy selfs met die bietjie wat jy het, steeds binne jou vermoë kan gee," verduidelik hy. "Ons is nie ryk mense nie, maar ons het altyd tyd ingeruim om ander te help."
Die wetenskap het hom as kind gefassineer. Sy slaapkamer was vol kristalkweekstelle, mikroskope, mierplase en proefnemingstelle. Deels geïnspireer deur jare se kyk na Grey's Anatomy, het hy aanvanklik daarvan gedroom om 'n dokter te word.
Maar om universiteit toe te gaan, het sy horisonne verbreed. "Nadat ek aan die Universiteit begin studeer en myself begin vind het, het ek besef ek wou nie regtig 'n dokter word nie," sê hy. "Daar is ander maniere om mense te help." Daardie besef het hom uiteindelik na die Spiernavorsingsgroep in die Fakulteit Natuurwetenskappe gelei, waar hy nou besig is met sy PhD wat ondersoek hoe spierstamselle beskadigde weefsel herstel en regenereer.
Terwyl die wetenskap steeds 'n sterk dryfveer is, het Gilbert homself toenemend tot 'n ander passie aangetrokke gevind: mense. "Die US het my geleenthede gebied om diens meer op die voorgrond te plaas," verduidelik hy. "Dit het vir my gewys jy hoef nie goed alleen te doen nie. Daar is eendersdenkende mense wat dieselfde passie deel en 'n verskil wil maak."
Sy benadering is diep mensgesentreerd. "Ja, op die ou einde is jou studie belangrik. Maar om goedhartig, deernisvol en empaties te wees en ander te help is belangriker."
Kos, waardigheid en gemeenskap
As daar een draad is wat Gilbert se vele leierskapsrolle verbind, is dit kos. Oor die jare het hy toebroodjieveldtogte, voedselinsamelings, geldinsamelingsveldtogte en gemeenskapsvoedingsinisiatiewe gereël. Deur saam met organisasies soos Ladles of Love, ShareBite en die Tygerberg-spensprojek te werk, het hy gehelp om duisende rande se kos en noodsaaklike voorrade vir kwesbare gemeenskappe en studente wat nie voedselsekerheid het nie, in te samel.
Vir Gilbert verteenwoordig kos baie meer as net voeding. "Kos is nie net voeding nie," dring hy aan. "In my kultuur, in my gemeenskap, is kos 'n geestelike ervaring. Dis gemeenskap, dis liefde, dis alles."
As studenteleier, tutor, uitvoerende lid van Golden Key en deelnemer aan die Luister, Leef en Leer (LLL)-program, het hy herhaaldelik geleenthede gesoek om ruimtes te skep waar studente ondersteun, gewaardeerd en verbonde gevoel het.
Die LLL-program het vir een van sy trotsste bydraes gesorg toe sy koshuisgemeenskap die Verenigde Nasies se Doelwit vir Volhoubare Ontwikkeling van Zero Honger omarm het. Hulle het saam meer as 'n halwe ton kos ingesamel en meer as 100 kospakkies vir studente gepak wat voedselonsekerheid gedurende die assesserings- en vakansietydperk ondervind het.
Vir Gilbert het leierskap nog nooit oor titels gegaan nie. "Jy is daar om te dien," sê hy eenvoudig. "Jy is daar om mense se behoeftes te verteenwoordig."
Groei deur gemeenskap
Al het Gilbert 'n bekende gesig in leierskapskringe geword, is hy vinnig om die Universiteitsgemeenskap te eer vir hulle rol om hom te help gedy. Van die Simonsberg-manskoshuis en studenteverenigings tot akademiese departemente en studenteondersteuningsdienste, praat hy met groot deernis oor die mense wat sy ervaring gevorm het. "Ek het hier gemeenskap gevind," glimlag hy. "Ek het my vriende gevind. Ek het geleenthede gevind. Dit het my as persoon gevorm."
Hy is veral passievol daaroor om studente aan te moedig om die Universiteit se ondersteuningstrukture te benut, insluitende akademiese berading, die Kampusgesondheidsdiens en die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling. "Al hierdie dienste is daar om jou te ondersteun. Jy hoef net uit te reik."
Sy eie leierskapsreis het hom belangrike lesse oor balans en veerkragtigheid geleer. "Die grootste les is om te leer om nee te sê," erken hy. "Jy kan nie oral op een slag wees nie." Hy glo ook in die krag van beplanning. "Outlook se kalender is jou beste vriend. My akademiese skedule, sosiale geleenthede, selfs my gesinsbyeenkomste word in my Outlook-kalender aangeteken. As dit nie daar is nie, gebeur dit nie!" grap hy.
Gilbert praat dikwels oor hoe die beloning die uitdaging daarvan om 'n aktiewe studenteleier te wees, oortref. "As jy een student aanraak, as jy een student inspireer, as iemand onthou dat jy hulle gehelp het toe hulle dit nodig gehad het, dan is dit alles die moeite werd."
Terwyl Suid-Afrika hierdie Jeugmaand die 50ste herdenking van die Soweto-opstand gedenk, glo Gilbert jongmense het 'n voorreg én 'n verantwoordelikheid het om voort te gaan om 'n beter samelewing te bou. "Ons het die tyd, ons het die energie en ons het die stem. Ons kan nie net ledig sit en wag dat dinge gebeur nie. Ons moet self verandering bring."
Gilbert hoop om in die hoër onderwys te bly en op studenteontwikkeling, -welstand en -sukses te fokus. Maar waar sy reis hom ook al neem, lyk een ding seker: Diens sal aan die kern daarvan bly. Hy glo immers vas enigiemand kan 'n verskil maak.
"Moet nooit dink jy kan nie mense help net omdat jy 'n student is nie," sê hy. "Daar is geleenthede om uit te gaan en mense op kampus te help en te dien. In jou gemeenskap is daar NRO's, daar is sukkelende skole, daar is mense langs die pad wat jou hulp nodig het. Moet dus nooit dink jy is nie nodig nie of dat jy niks kan doen nie."