Tyrese Human het al vroeg in sy kinderjare in Eldoradopark geleer dat om anders te wees dikwels 'n prys het – maar hy het geweier om toe te laat dat ander bepaal wie hy gaan word. Die finalejaar-opvoedkundestudent het die leer van die Universiteit Stellenbosch (US) se studenteleierskapstrukture geklim terwyl hy steeds daartoe verbind is om ander te help om hulle stem en gevoel van behoort te vind.
Tyrese Human wil hê elke kind moet weet hulle behoort
- #OnsGroeiSaam: In die loop van hierdie Jeugmaand vier ons studente wat geleenthede skep, gemeenskappe bou en ander deur mentorskap, uitreiking, portuurgroepondersteuning en leierskap bystaan. Ons beklemtoon ook die Universiteit Stellenbosch se ondersteuningstrukture wat studente help om te groei, verbintenisse te bou en 'n betekenisvolle impak te hê.
Tyrese Human het op agtjarige ouderdom 'n dapper en kragtige aankondiging aan sy gesin gedoen. Eendag, het hy verklaar, gaan hy oorsee trek, 'n limousine en 'n privaat vliegtuig koop en terugkom om hulle te kom haal.
Sy ma, Samantha Holt, herinner hom vandag nog aan daardie oomblik wanneer hy nog 'n akademiese uitslag, leierskapsaanstelling of prestasie deel. "Dit was vrypostig," lag Human. Maar van agteraf beskou weet hy sy kinderdroom het nie regtig oor die limousine gegaan nie. Dit het oor moontlikhede gegaan.
Die stories wat Human gedurende sy kinderjare in Eldoradopark, suid van Johannesburg, omring het, het gesuggereer het dat sekere toekomste onvermydelik was. Dit is 'n gemeenskap wat dikwels met bendemisdaad, dwelmmisbruik en beperkte geleenthede geassosieer word. Baie jongmense word met die oortuiging groot dat waar hulle gebore word, bepaal waar hulle gaan eindig.
Human het vroeg besluit hy gaan nie daardie storielyn aanvaar nie. "My ma het my met die ingesteldheid grootgemaak dat as ek iets wil hê, ek dit kan kry, mits ek my geloof en nederigheid behou," sê hy. Daardie oortuiging sou een van die bepalende kragte in sy lewe word.
As kind was Human baie lief vir boeke, skoolgaan en leer. Hy was van nature weetgierig en was dikwels tot volwassenes, onderwysers en mentors aangetrokke. Maar om anders te wees was nie altyd maklik nie. "Ek het daarvan gehou om te lees, wat baie vreemd was vir baie seuns van my ouderdom," sê hy. "Om die een of ander rede was die meisies altyd dol oor my op skool. En ek was net so dol oor hulle."
In 'n gemeenskap waar verwagtinge oor hoe seuns moes optree, baie rigied en ontoegeeflik kon wees, het Human dikwels uitgestaan. Sy maniere, belangstellings en persoonlikheid het hom van sy laerskoolloopbaan af tot op hoërskool 'n teiken vir afknouery en boelies gemaak.
Wat hom gehelp het om te volhard, was 'n onwrikbare ondersteuningsnetwerk. Sy ma, sy suster, Simoreece, sy stiefpa, Nolan, en sy uitgebreide familie het voortdurend 'n boodskap versterk wat die verloop van sy lewe sou bepaal: Hy is toegelaat om homself te wees. "Hulle het my daaraan herinner dat ek nie is wat mense van my dink nie. Ek bepaal wie Tyrese Human is."
Om sy plek te vind
Human het by die US aangeland as die eerste een in sy gesin wat universiteit toe kon gaan, danksy die hulp van NSFAS-finansiering. Aanvanklik was hy onseker oor watter graadprogram om te kies. Die onderwys was tot in daardie stadium nie deel van sy groot meesterplan nie. Maar terwyl hy oor grondslagfase-onderwys navorsing gedoen het, het iets net in plek geval.
Vandag kan hy hom nie indink om iets anders te doen nie. As hy terugkyk, was die tekens al lankal daar. Hy het as kind denkbeeldige leerders rondom 'n witbord by die huis laat vergader en onderwyser gespeel terwyl die volwassenes Sondagmiddagete voorberei het. "Ek besef nou my liefde vir die onderwys was altyd daar."
Die oorgang na die lewe op universiteit was nogal 'n skok. Human het aanvanklik 'n bietjie geïntimideerd en onseker gevoel. Sy instinktiewe reaksie was om besig te bly. Hy het in sy eerste jaar by die Opvoedkundestudentekomitee (OSK) aangesluit en gou 'n passie vir leierskap ontdek.
Wat gevolg het, was 'n merkwaardige reis deur studentebestuur, leierskapsontwikkeling en voorspraak. Hy het mettertyd al hoe groter verantwoordelikhede op hom geneem. Hy het voorsitter van die OSK geword, toe voorsitter van die Akademiese Belangeraad en dien nou as ex officio-lid op die Studenteraad (SR).
Vir Human het leierskap nog nooit oor titels gegaan nie. "Dit gaan terug na my waarom," verduidelik hy. "As ek in een student se lewe 'n verskil kan maak, as een persoon kan sê daar was iemand wat nie op my opgegee het nie, dan het ek gedoen wat ek moes doen."
Hy het langs die pad mentors gevind wat hom gehelp het om te groei. Hy praat met groot deernis van personeellede soos Janice Ghalpie, Delecia Davids en dr Joy Petersen, asook oor baie klasmaats, kollegas en Universiteitsleiers wat hom aangemoedig het wanneer hy in homself begin twyfel het. "Daar is 'n kultuur van gemeenskap by Stellenbosch. Dit is soms oorweldigend om te besef hoeveel mense agter jou staan!"
'n Fakkel wat die moeite werd is om aan te gee
Ondanks sy vele leierskapsverpligtinge, bly Human se toekomsvisie in die klaskamer gewortel. Hy beplan om na sy gradeplegtigheid plaaslik onderwys te gee voordat hy in China gaan onderwys gee. Op die langer termyn hoop hy om deur die onderwysstelsel te vorder terwyl hy praktiese ondervinding met leierskap en beleidsontwikkeling kombineer.
Ongeag watter pos hy ook al uiteindelik sal beklee, sy doel bly konsekwent. "Ek wil hê leerders moet dieselfde bevestiging kry as dít wat ek as kind gehad het." Hy wil hê kinders moet weet hulle drome mag groter as die beperkings van hulle omstandighede wees. Hy wil hê hulle moet verstaan dat hulle verskille nie swakhede is nie. Hy wil hê hulle moet hulle eie agentskap ontdek.
Terwyl Suid-Afrika hierdie Jeugmaand die 50ste herdenking van die Soweto-opstand vier, put Human inspirasie uit jongmense wat geweier het om stil te bly in die aangesig van onreg. "Hulle het nie vir verandering gewag nie," sê hy. "Hulle het opgetree en agentskap geëis. Ja, daar is steeds baie kwessies waarvoor ons vandag onvermoeid moet veg, maar ek kan my nie voorstel hoe ons stryd sou gelyk het as dit nie vir die dapper optrede van die klas van 1976 was nie."
Vandag verstaan die seun wat eens van privaat vliegtuie en limousines gedroom het, dat sukses anders lyk as wat hy gedink het. Dit word nie aan status of materiële waarde gemeet nie. Dit word aan impak gemeet.
Dit word in die student gevind wat selfvertroue ontwikkel, die leerder wat hulle stem ontdek, of die jong persoon wat begin glo hulle toekoms kan bo hulle omstandighede uitstyg. Vir Human was dit nog altyd die punt.
Uiteindelik is die kragtigste ding wat 'n mens kan doen om iemand anders daaraan te herinner dat hulle ruimte mag opneem. Hy maak dus altyd 'n punt daarvan om af te sluit met: "Ek is Tyrese Human en dit is my storie."