Skip to main content
Stellenbosch University (SU) has introduced a range of flexible support measures to assist students experiencing financial difficulty.

Die Universiteit Stellenbosch het 'n reeks buigsame ondersteuningsmaatreëls ingestel om studente by te staan wat finansiële probleme ervaar.

Institusionele nuus

US versterk ondersteuning vir studente met registrasie- en finansieringsuitdagings

Stellenbosch University
24 Februarie 2026
  • Die US het die Studenteskuldwerkgroep (SSWG) ingestel om studente met historiese skuld en wat sonder finansiële ondersteuning nie vir 2026 sou kon registreer nie, te ondersteun.
  • Die Universiteit het meer as 95% van die NSFAS-verwante blokkerings opgehef.
  • Die Universiteit werk saam met studente, leiers en vennote om hindernisse uit die weg te ruim en akademiese, finansiële en welstandsbehoeftes te ondersteun.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n reeks buigsame ondersteuningsmaatreëls ingestel om studente by te staan wat finansiële probleme ervaar. Dit sluit reëlings in vir diegene met uitstaande studieskuld, tydelike aanlyn toegang vir studente wat op finansiering wag en samewerking met vennote om innoverende finansiële oplossings vir finalejaarstudente daar te stel.

Hierdie stappe weerspieël die US se verbintenis daartoe om hindernisse vir studentesukses uit die weg te ruim, terwyl die instelling voortgesette gehalte-verblyf en welstandsdienste prioritiseer.

Finansierings- en registrasie-inisiatiewe 

  • Studenteskuldwerkgroep: Die US het die Studenteskuldwerkgroep (SSWG) ingestel om studente met historiese skuld en wat sonder finansiële ondersteuning nie vir 2026 sou kon registreer nie, te ondersteun en het die aansoeksperdatum verleng. Terugkerende studente wat aan al die akademiese en administratiewe vereistes voldoen om hulle studies voort te sit, kom vir eenmalige SSWG-finansiering in aanmerking. Die Universiteit het meer as R15 miljoen beskikbaar gestel om kwalifiserende studente te ondersteun, veral dié in die "verlore middel"- en hoë-risiko NSFAS-kategorieë.
  • Spesiale skuldreëling vir 2026: Studente met uitstaande skuld van R10 000 of minder kan registreer nadat hulle 'n skulderkenning onderteken het en tot 'n gestruktureerde betalingsplan ingestem het.
  • Opheffing van finansiële blokkerings: In 'n daadwerklike poging om studente te ondersteun wat finansiële en akademiese uitdagings ondervind, het die Universiteit vanjaar meer as 8 000 finansiële blokkerings vir akademies verdienstelike studente opgehef en verdere finansieringsgeleenthede heropen om te verseker dat terugkerende studente vir 2026 kan registreer.
  • NSFAS-verwante ondersteuning: Die Universiteit het meer as 95% van die NSFAS-verwante blokkerings opgehef en is steeds besig om uitstaande sake in oorleg met NSFAS op te los.

 

Leer- en verblyfinisiatiewe 

  • Tydelike toegang tot leerplatforms: Studente wat op uitsluitsel oor finansiële kwessies wag, het tydelike toegang tot SUNLearn om te verseker dat hulle nie akademies benadeel word nie.
  • Nood- en tussentydse verblyfmaatreëls: Die US het gedurende die Verwelkomingstydperk 'n protokol vir noodverblyf in werking gestel en kon meer as 150 nuwelingstudente (voorgraads en nagraads) ondersteun. Verder gaan die US voort om waar nodig tussentydse verblyfsondersteuning aan terugkerende studente te bied, met elke geval wat individueel oorweeg word.
  • Bekostigbare maaltydopsies: Besprekings is weer oopgemaak vir bekostigbare maaltydopsies in US-koshuise, waar studente twee maaltye per dag vir net R60 kan geniet. 

 

Skakeling met belanghebbendes

Die Universiteit is terdeë bewus daarvan dat finansiële onsekerheid stres en angs kan veroorsaak. Die US gaan voort om met ons studentleiers en studente in die algemeen te skakel om registrasie- en finansieringsverwante sake sover moontlik op te los. Hierdie oop benadering help ons om algemene en individuele uitdagings beter te verstaan en om kwessies gesamentlik aan te spreek.

Daarbenewens werk die US daaraan om 'n reëling met 'n handelsbank te finaliseer om finalejaarstudente deur gesekureerde leningsmeganismes by te staan. Die US mobiliseer steeds skenkerfinansiering en alternatiewe finansiële roetes om studente te help deur sy Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge.

Die US gaan ook voort om met NSFAS en ander partye oor kwessies te skakel wat met uitstaande betalings (NSFAS-afsluitingsprojek en 2025-betalings), kursuskode-uitdagings, klassifikasie van Stellenbosch as 'n metro vir verblyftoelaes, ensovoorts verband hou.

Omvattende ondersteuning 

SU plaas groter fokus op omvattende ondersteuningsinisiatiewe wat akademiese prestasie, tesame met die psigososiale, finansiële en ontwikkelingsfaktore wat studentesukses vorm, aanspreek. Dit is veral belangrik vir minderbevoorregte studente, wat dikwels verskeie hindernisse in die gesig staar wanneer hulle verder wil studeer.

Hierdie fokus dra tot die Universiteit se deursetkoers (die proporsie van 'n kohort studente wat suksesvol binne die verwagte tydperk gradueer) van meer as 70% (2024: 74,9%) vir voorgraadse baccalaureusstudente by.

Die Universiteit se 2025-uitslae toon dat wyer toegang en die handhawing van akademiese uitnemendheid nie onversoenbaar is nie. Deur administratiewe en finansiële hindernisse uit die weg te ruim, verblyfoplossings uit te brei en studenteondersteuningstelsels te versterk, het die Universiteit byna 10 000 studente in staat gestel om hulle kwalifikasies te voltooi – met 'n toename op voorgraadse, nagraadse én doktorale vlak. 

Terwyl die Universiteit studente deur hierdie maatreëls ondersteun, bly die instelling verbind tot gesonde finansiële bestuur en die langtermynvolhoubaarheid van sy akademiese program. 

Verwante stories