
Transformasie onder die loep by Studentetransformasie-indaba
- Studente en personeel vra vir transformasie wat verder as toegang en statistiek tot geleefde ervarings en insluiting strek.
- Dialoog beklemtoon die dringendheid daarvan om finansiële ongelykheid, verblyfuitdagings en samewerking tussen Universiteitstrukture aan te spreek.
- Oproep tot outentieke leierskap en 'n humaniserende kultuur wat studente as medeskeppers van verandering bemagtig.
Transformasie by die Universiteit Stellenbosch (US) is skerp in fokus gebring tydens die onlangse Studentetransformasie-indaba 2025, 'n dinamiese forum van debat en besinning wat 'n beroep op die Universiteitsgemeenskap gedoen het om "verder as getalle" na ware tuishoort te beweeg.
Met die tema van “Wat is transformasie? Oorsig van die vordering van die instelling in die rigting van die transformasie-agenda van 2015 tot nou,” het die Indaba studente, personeel en universiteitsleiers byeengebring om te ondersoek hoe betekenisvolle toegang en transformasie 'n dekade ná die aanvang van groot institusionele hervormings moet lyk.
Verder as toegang: heroorweging van insluiting en geleefde ervaring
Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het ter inleiding teruggegaan op die instelling se transformasiereis sedert 2000. Hy het 'n kragtige besinning gebied oor wat transformasie beteken en het die belangrikheid van samewerking tussen studenteleiers en personeel beklemtoon. Hulle is nie teëstanders nie, maar vennote om studente se belange te beskerm, het hy beklemtoon. “Ons kan nooit ophou vra watter soort universiteit ons wil word nie,” het hy gesê en 'n beroep op deelnemers gedoen om 'n kultuur te kweek wat "mekaar as ten volle mens beskou".
Die eerste paneel, onder die bedrewe voorsitterskap van die nagraadse student Abongile Quthu, het om toegang – nie net tot toelating nie, maar tot opregte deelname – gesentreer. Die US se Registrateur, dr Ronel Retief, het opgemerk dat toegang nie tot getalle alleen ingekort kan word nie. "Toegang gaan nie net daaroor om mense in die stelsel te kry nie, maar om prosesse te fasiliteer waar studente vennote word om hierdie ruimte te skep," het Retief gesê.
Simiso Langa, voorsitter van die Studenteraad se Tussentydse Uitvoerende Komitee, het dit beaam en teen abstrakte transformasieretoriek gewaarsku. "Kan ons spesifiek wees oor wat ons wil transformeer?" het sy gevra. "Hoe kwantifiseer jy die vermoë om oor die kampus te stap en nie te voel dat jou ras, geslag of finansiële agtergrond jou ervaring definieer nie?"
Studente het openhartig oor selfuitwissing gepraat. “Om gemaklik op Stellenbosch te wees, offer jy soveel van jou identiteit op,” het Langa opgemerk. “Ter wille van gemak en selfbehoud gee jy dele van jouself prys.”
Verblyf, finansiering en tuishoort
Regdeur die besprekings het toegang tot verblyf en finansiering as bepalende kwessies na vore gekom. Retief het genoem dat die noodverblyf-taakspan reeds samewerking verbeter het om die las op studenteleiers verlig.
Luigia Nicholas, kampvegter vir insluiting van gestremdhede, het besin oor haar dekade lange ervaring by die US en die veranderinge wat sy gesien het. “Daar was ‘n groot poging om beleid en infrastruktuur te verbeter, maar ons sukkel steeds om ingesteldhede te verander. Samewerking en die insluiting van studentestemme is uiters belangrik,” het Nicholas opgemerk.
Vanuit 'n studenteperspektief het die koste van behoort 'n herhalende tema gebly. "Vir baie is koshuis net 'n dak oor hulle kop, nie 'n ruimte van tuishoort nie," het Quthu gesê. Xavier Benyani, lid van 'n huiskomitee, het bygevoeg dat selfs sosiale ervarings vervreemdend kan wees. “Sommige studente het nog nooit 'n huispartytjie bygewoon nie omdat hulle dit nie kan bekostig nie,” het hy gesê. “Ons moet heroorweeg hoe insluiting in die alledaagse kampuslewe lyk.”
Die ekonomie van transformasie
Candice Eagan, verteenwoordiger van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, het verduidelik hoe die US se geldinsamelingspanne werk om 'n balans tussen studentebehoeftes met skenkerprioriteite te vind. "Daar is dikwels 'n gaping tussen wat skenkers bereid is om te gee en wat studente nodig het. Ons rol is om daardie behoeftes in iets om te skakel wat skenking motiveer," het Eagan verduidelik.
Sy het die Bridge the Gap-veldtog as een poging genoem om klein, gereelde bydraes te mobiliseer om studente in finansiële nood te help. “Elke vlak tel,” het sy gesê. “Transformasie beteken ook om te verseker dat finansiële ondersteuningstelsels die studente bereik wat dit die nodigste het."
Studente het groot frustrasie oor die afwesigheid van 'n ten volle verkose verteenwoordigende studenteraad die afgelope twee jaar uitgespreek. "Leierskap moet aanspreeklik wees. Ons moet hersien hoe die SR aangestel word. Gesprekke oor verkiesings moet vinnig plaasvind sodat ons nie dieselfde foute herhaal nie," het Benyani gesê.
Deelnemers het van die vloer af koshuisbeleide, die standaard van private verblyf en die tempo van transformasie in histories weerstandbiedende ruimtes bevraagteken. In reaksie hierop het Brigitta Joubert, Senior Bestuurder: Studenteverblyf, deurlopende beleidshersienings uiteengesit en 'n beroep op studente gedoen om swak toestande direk aan te meld: "Ons kan slegs ingryp as ons weet daar is 'n probleem," het Joubert beklemtoon.
Hernieude hoop
Ten spyte van die uitdagings wat onder die loep gekom het, was daar by die Studentetransformasie-Indaba optimisme dat daar ‘n verbintenis is tot daadwerklike oplossings.
Quthu het ter afsluiting van die sessie 'n oproep tot aksie gerig: "Daar is geen instelling sonder studente nie. As jy die stelsel wil verander, begin nou optree. Ons kan nie aanhou sê ons sal aanstaande jaar daaroor praat nie. Transformasie, inklusiwiteit, diversiteit – dit is groot woorde, maar ons moet dit uitleef."
Die 2025 Studentetransformasie-indaba het hernieude hoop gebring, het organiseerder Simamkele Tozela, transformasiebestuurder van die 2024/25-SR, gesê. "Dit het getoon dat bestuur bereid is om sinvol met studente in gesprek te tree om transformasie te bevorder. Ons waardeer personeel wat aanhou opdaag en studente ondersteun. Kom ons versterk samewerking, beplan vooruit en verseker dat die US 'n meer inklusiewe en responsiewe instelling vir almal word."