Registrasieproses en -datums
Nuweling-eerstejaarstudente word aangeraai om die datums vir aanlyn registrasie en die registrasieskedule vir ondersteunde registrasie in die Coetzenburg-sentrum noukeurig te volg. Sommige programme sal moontlik sluit sodra die betrokke teikengetal bereik is. Ons volg die beginsel van eerste kom, eerste bedien: hoe gouer jy dus in jou betrokke tydgleuf registreer, hoe groter is jou kans om plek te kry.
- Die Universiteit kan nie plek waarborg vir studente wat nie betyds volgens die registrasieskedule geregistreer nie.
- Vir programme wat reeds die toegelate perk bereik het, sal laat registrasie buite die geskeduleerde, progragram-spesifieke registrasiedatums, nie geakkommodeer kan word nie.
- Raadpleeg jou fakulteitsjaarboek om te verseker dat jy presies volgens die program se goedgekeurde vereistes registreer.
Installeer Microsoft-toepassing (app) voor registrasie
Alle nuwe en terugkerende studente moet voor registrasie die Microsoft-toepassing (app) vir veelfaktorbekragtiging (multi-factor authentication – MFA) op hul slimfoon of tablet aflaai. Dit is ‘n verpligte vereiste van Microsoft. Raadpleeg die Microsoft Authenticator Guide vir aanwysings.
Registrasiedatums en -prosedures
Die volgende registrasiedatums en registrasie-opsies is vir studente beskikbaar wat in fakulteite op die Stellenbosch-kampus studeer:
Opsie 1: Aanlyn registrasie (self-registrasie)
- 22 Januarie 2026: Aanlyn registrasie open vir nuweling-eerstejaarstudente.
- Aangesien die meeste studente aanlyn kan registreer, moedig ons julle aan om die aanlyn registrasieproses via die Studenteportaal te volg.
- Aanlyn registrasie kan by https://student.sun.ac.za/ voltooi word vanaf 'n toestel met 'n lessenaar-aansig (desktop view) en internettoegang. Let asseblief daarop dat Microsoft Edge die beste webblaaier is om te gebruik.
- Hulp met aanlyn registrasie op die Stellenbosch-kampus: studente (buiten dié in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) wat hulp nodig het om aanlyn te registreer, kan van die rekenaargebruikersarea (kamer E24) in die Langenhoven-studentesentrum (Neelsie) gebruik maak op die dae in die registrasieskedule aangedui.
Opsie 2: Ondersteunde registrasie op die Stellenbosch-kampus
- Ondersteunde registrasie is vir nuweling-eerstejaarstudente beskikbaar wat nie aanlyn kan registreer nie, of probleme ondervind met registrasie op die studenteportaal. Ook as jy ander hulp nodig het, byvoorbeeld kurrikulum-advies, kan jy volgens die registrasieskedule in die Coetzenburg-sentrum op die kampus registreer.
- Neem asseblief in ag dat spesifieke sperdatums, registrasiedatums en tydgleuwe vir ondersteunde registrasie op die Stellenbosch-kampus aan die onderskeie fakulteite toegeken is. Raadpleeg die registrasieskedule vir nuweling-eerstejaarstudente om te verseker dat jy in die bepaalde tydgleuf op die regte dag aanmeld.
Tygerberg-kampus: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Studente wat vir die eerste keer vir ‘n voorgraadse program in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe registreer, moet die registrasiedokument vir dié fakulteit raadpleeg vir die registrasiedatums. Dit sluit studente in wat voorheen ‘n ander graad (bv. BSc) aan die US verwerf het.
Studentekaarte
Alle nuweling-eerstejaarstudente moet na registrasie ‘n studentekaart bekom. Jy sal jou studentekaart vir verskeie doeleindes nodig kry; so hou dit altyd byderhand wanneer jy op kampus is.
Alle nuweling-studente, ook diegene wat aanlyn kon registreer, sal by die Coetzenburg-sentrum gehelp word om hul studentekaarte te bekom.