Registrasieprosedures
Die volgende registrasie-opsies is vir studente beskikbaar wat in fakulteite op die Stellenbosch-kampus studeer:
Opsie 1: Aanlyn registrasie (self-registrasie)
Aangesien die meeste studente aanlyn kan registreer, moedig ons julle aan om die aanlyn registrasieproses via die Studenteportaal te volg.
Installeer Microsoft-toepassing (app) voor registrasie
Alle nuwe en terugkerende studente moet voor registrasie die Microsoft-toepassing (app) vir veelfaktorbekragtiging (multi-factor authentication – MFA) op hul slimfoon of tablet aflaai. Dit is ‘n verpligte vereiste van Microsoft. Raadpleeg die Microsoft Authenticator Guide vir aanwysings.
Die volgende studente sal nie aanlyn kan registreer nie:
- Huidige US-studente met een of meer uitstaande bewys van geskiktheid vir toelating (byvoorbeeld ‘n matrikulasievrystellingsertifikaat, akademiese uitslae of ‘n naskoolse bewys van geskiktheid vir toelating);
- Huidige studente wie se hertoelating tot die Universiteit nog nie bekragtig is nie;
- Studente met uitstaande studie- en/of inwoningsgeld. Raadpleeg studentegelde of stuur epos na [email protected];
- Studente wat registreer vir spesiale programme of as ‘n spesiale student;
- Studente met ‘n akademiese rekord waarop ‘n ander uitslag as ‘Slaag jaar’ aan die einde van die vorige jaar aangedui is.
Aanlyn registrasie kan by https://student.sun.ac.za/ voltooi word vanaf 'n toestel met 'n lessenaar-aansig (desktop view) en internettoegang. Let asseblief daarop dat Microsoft Edge die beste webblaaier is om te gebruik.
Hulp met aanlyn registrasie op die Stellenbosch-kampus:
- Studente (buiten dié in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) wat hulp nodig het om aanlyn te registreer, kan van die rekenaargebruikersarea (kamer E24) in die Langenhoven-studentesentrum (Neelsie) gebruik maak op die dae in die registrasieskedule aangedui.
- As jy nie aanlyn kan registreer nie, of as jy spesifieke vereistes het, kan jy gedurende die tydperk vir ondersteunde registrasie (verwys na opsie 2 hieronder) in die Coetzenburg-sentrum registreer.
Opsie 2: Ondersteunde registrasie (voorgraadse en nagraadse programme) op die kampus
- Ondersteunde registrasie is vir voorgraadse en nagraadse studente beskikbaar wat nie aanlyn kan registreer nie, of probleme ondervind met registrasie op die studenteportaal. Ook as jy ander hulp nodig het, byvoorbeeld kurrikulum-advies, kan jy volgens die registrasieskedule op die kampus registreer.
- Neem asseblief in ag dat spesifieke sperdatums, registrasiedatums en tydgleuwe vir ondersteunde registrasie op die Stellenbosch-kampus aan die onderskeie fakulteite toegeken is. Raadpleeg die registrasieskedule om te verseker dat jy in die bepaalde tydgleuf op die regte dag aanmeld.
- Terugkerende voorgraadse studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat op die Stellenbosch-kampus studeer, kan by Me Jamie Fredericks ([email protected]) in die Coetzenburg-sentrum registreer.