Breadcrumb
Gradeplegtighede 2027
US bied van 2027 jaarliks enkele reeks gradeplegtighede
Die Universiteit Stellenbosch sal vanaf 2027 jaarliks in Maart/April een uitgebreide reeks gradeplegtighede aanbied, pleks van die huidige twee jaarlikse grade-tydperke. Die Universiteit se laaste Desember-plegtighede vind vanjaar van 8 tot 12 Desember plaas.
Die Senaat het hierdie belangrike veranderinge aan die Universiteit se akademiese kalender vir 2026 en 2027 by sy vergadering op 30 Mei 2025 goedgekeur na omvattende konsultasie met die Rektoraat, alle fakulteite en die Akademiese Beplanningskomitee (ABK). Die Universiteitsraad is by sy vergadering op 17 Junie oor dié besluit ingelig.
Die Senaat is verantwoordelik en verantwoordbaar teenoor die Raad vir die akademiese en navorsingsfunksies van die Universiteit Stellebosch. As sulks, reguleer die Senaat leer, onderrig, navorsing en akademiesesteunfunksies, en maak aanbevelings aan die Raad oor akademiese beleidsake.
Vrae en antwoorde
- 1. Waarom was dit nodig om die akademiese kalender te hersien?
- 2. Wat is die voordele van ‘n enkele uitgebreide reeks gradeplegtighede in Maart/April elke jaar?
- 3. Hoe sal die Universiteit verseker dat studente nie werksgeleenthede misloop omdat hulle eers in Maart/April gradueer nie?
- 4. Hoe raak dié besluit studente wat hul akademiese programme in 2025 en 2026 voltooi?
- 5. Watter moontlikhede is vir die 2026 en 2027 akademiese kalender oorweeg?
Weens die sameloop van ‘n aantal saakmakende uitdagings met betrekking tot die akademiese kalender, moes die Universiteit Stellenbosch die akademiese jaar en die gekoppelde institusionele kalender hersien. .
- Beduidende toename in studente-inskrywings en gegradueerdes
Die Universiteit Stellenbosch het die afgelope jare ‘n bestendige en beduidende toename in studente-inskrywings en gegradueerdes opgeteken. Hoewel ‘n positiewe verwikkeling, het die bestuur van hierdie groei binne beperkte tydslyne toenemend uitdagings aan ons akademiese en administratiewe spanne gestel, veral met minder as drie weke tussen die laaste A2-assessering in November en die eerste gradeplegtigheid in Desember.
Die hoër studentegetalle het daartoe gelei dat daar elke jaar meer kwalifikasies toegeken word. Gevolglik word personeel in die aanloop tot die Desember-gradeplegtighede onder beduidende druk geplaas vanweë die sperdatums vir nasien van antwoordstelle, modereringsprosesse en die daaropvolgende graadoudits, en die verwagting dat hulle terselfdertyd die integriteit van ons kwalifikasies moet verseker.
Ter illustrasie:
Van 2000, het dit twintig jaar geneem vir studentegetalle om met 9 784 te groei, terwyl inskrywings binne net vyf jaar van 2020 tot 2025 met 4 679 toegeneem het.
Die 9 409 kwalifikasies wat die US in 2024 toegeken het, is die meeste nog ooit. Dit was meer as dubbeld die 4 536 kwalifikasies wat in 2000 toegeken is. Verlede jaar het die Universiteit 35 370 ingeskrewe studente gehad, vergeleke met 21 756 in 2000.
- Verlies aan onderrigtyd weens die laat bekendstelling van die NNS-uitslae en korter akademiese jaar
Sedert die COVID-19-pandemie in 2020, reik die Suid-Afrikaanse Departement van Basiese Onderwys die matriekuitslae (Nasionale Senior Sertifikaat – NSS) elke jaar later uit. Dié vertraging het universiteite se kontakonderrigtyd verkort aangesien die akademiese jaar later as vantevore moes begin. Die Registrateursafdeling is gevolglik versoek om ‘n bykomende kontakweek te identifiseer om te vergoed vir verlore tyd in die klaskamer.
Met die later begin van die akademiese jaar, plus die impak van die ontluikende studentegetalle, was dit egter duidelik dat ‘n bykomende week van kontakonderrig nie volhoubaar sou wees nie, en dat ‘n alternatiewe oplossing gevind sou moes word.
- Integriteit van prosesse en gehalteversekering van kwalifikasies
Die beskikbare tyd van die einde van die A2-assessering in November tot die eerste gradeplegtigheid in Desember vir die nasien van akademiese antwoorstelle, vaslegging van punte, interne en eksterne moderering en die oudit van akademiese rekords is nie meer naastenby voldoende nie.
Met die verskuiwing na ‘n enkele gradetydperk in Maart/April is daar meer tyd vir die nasien van antwoordstelle, die vaslegging, bekragtiging en oudit van finale uitslae en die gekoppelde administratiewe prosesse. Op hierdie manier is dit vir die Universiteit Stellenbosch moontlik om die integriteit van sy prosesse en die gehalteversekering van sy kwalifikasies volhoubaar te bestuur.
- Koste-effektiwiteit
Gradeplegtighede is ewe belangrik vir graduandi, hul families en vriende, en vir die Universiteit Stellenbosch. Met die opstelkoste vir ‘n topgehalte geleentheid wat elke jaar skerp styg, sal een gekonsolideerde jaarlikse gradereeks koste-effektiwiteit verbeter deurdat dieselfde geleentheid nie binne enkele maande herhaal hoef te word nie.
Die formaat van talle seremonies versprei oor ‘n aantal dae bly onveranderd, met die Kanselier of Visekanselier wat studente se kwalifikasies individueel op die verhoog toeken.
- Transformerende studente-ervaring
In die huidige gradesiklus, kan studente wat na die A2-assesserings in November aan die vereistes van hulle kwalifikasies voldoen, in Desember gradueer. Studente in dieselfde finale jaar wat in November of vroeg Desember een of meer A3-assesserings of ‘n dekaansvergunningsassessering in Januarie moet aflê, kan dan eers in Maart/April gradueer.
‘n Enkele gradereeks in die herfs beteken dat die kohort graduandi van ‘n bepaalde jaar gelyk kan gradueer en saam hul prestasies kan vier, ongeag bykomende assesserings of administratiewe prosesse.
Hierdie verandering hou ook praktiese voordele vir studente in. Die meeste huurooreenkomste op en rondom die kampus eindig in November. Dit bring mee dat studente gedwing word om terug te keer vir die Desember-gradeplegtighede, of om vir tydelike verblyf te betaal. Die nuwe reëling bring meer effektiewe beplanning, minder logistieke spanning en besparings op bykomende verblyfkostes mee.
- Voorkeur-werkgewer
Voordat studente kan gradueer, moet personeel krities-noodsaaklike stappe voltooi: van die nasien van die finale A2-assesserings; vaslegging van punte; moderering en bekragtiging van punte tot die oudit van akademiese rekords, en die druk van transkripte en sertifikate. Hierdie aktiwiteite moet toenemend binne die beperkte tyd voor die eerste Desember-gradeplegtigheid ingepas word, met aansienlike druk op personeel en gehalteversekeringsprosesse wat ‘n deurslaggewende faktor is in die Universiteit en sy gegradueerdes se uitstekende akademiese reputasie.
Om ‘n voorkeur-werkgewer te wees, is een van die Universiteit se strategiese prioriteite, en om erns te maak met die welwees van ons personeel is daarom ‘n belangrike doelwit. Die verandering in die akademiese kalender met meer tyd om al die vereisde prosesse volgens die Universiteit se hoë standaarde te voltooi, sal die intense druk en risikofaktore verminder.
Die verandering aan die akademiese kalender sal nie die indiensneming van studente nadelig raak nie.
Die Registrateurskantoor sal aan diegene wat teen Desember aan die vereistes van hul akademiese programme voldoen, ‘n brief uitreik as bewys dat hulle die kwalifikasie voltooi het. Dit sal studente in staat stel om sonder vertragings aansoek te doen vir poste, te begin werk of verdere studiegeleenthede te ondersoek voordat hulle amptelik in Maart/April die volgende jaar gradueer.
Die 2025 akademiese kalender is in 2024 goedgekeur. Studente wat in Desember aan die vereistes vir hulle kwalifikasies voldoen, sal in Desember 2025 gradueer, terwyl diegene wat aanvullende assesserings moet aflê van 23 tot 27 Maart 2026 sal gradueer.
Van 2026 en daarna, sal daar nie meer ‘n Desember-gradeplegtigheid aangebied word nie. Alle studente wat hulle voorgraadse en nagraadse programme in 2026 voltooi, sal in die tydperk van 5 tot 16 April 2027* gradueer, soos deur die Senaat op 30 Mei 2025 goedgekeur.
Ander universiteite volg reeds dieselfde praktyk, en die Universiteit Stellenbosch se Registrateur sal met professionele liggame oorleg pleeg om te verseker dat die bewys-van-voltooiing-brief aan hulle vereistes voldoen.
*Die US behou die reg voor om die datums te heroorweeg of te hersien weens enige onvoorsiene omstandighede wat werksaamhede of die afhandeling van die akademiese jaar mag beïnvloed. Amptelike inligting >>
Om ‘n bykomede week van kontakonderrig te kan inwerk, is veelvuldige scenarios oorweeg, onder meer verskillende begintye vir eerstejaar- en senior studente se akademiese jaar, korter assesserings en/of resestydperke, minder aanvullende assesserings, ‘n korter verwelkomingsweek of die aanskuif van die Desember-gradeplegtighede na ‘n week later.
Aangesien nie enige van dié moontlikhede sonder risiko’s is nie, het die Senaat besluit op die uitgebreide, enkele gradetydperk in Maart/April omdat dit die beste voldoen aan die vereistes vir akademiese integriteit en gehalteversekering, ‘n transformerende studente-ervaring en personeel-welwees.