Tieners moet nie geïgnoreer word in stryd teen TB nie.
Die onsigbare middel: Tieners val deur die krake van TB-sorg
- Wêreldtuberkulosedag is op 24 Maart gevier.
- 'n Kenner aan die US het 'n meningsartikel geskryf.
- Tieners word dikwels oor die hoof gesien in die stryd teen TB.
Wêreldtuberkulosedag is op 24 Maart herdenk. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick skryf dr Susan Purchase van die Desmond Tutu TB-sentrum dat tieners dikwels oor die hoof gesien word in die stryd teen TB en deur die krake in ons gesondheidsorgstelsels val.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Susan Purchase*
Toe die 14-jarige Mia* begin hoes het, het sy gedink dis net gewone griep. Maar toe word sy so moeg dat sy nie uit die bed kon opstaan nie en haar ma raak bekommerd. Sy neem haar na die kliniek, maar is verbaas oor die diagnose: middelweerstandige tuberkulose (TB). Mia het TB in haar hele liggaam gehad en ʼn CT-skandering het tumoragtige TB-groeisels in haar brein getoon.
ʼn Lang en gevaarlike reis het gevolg. Mia is in ʼn TB-hospitaal opgeneem, maar het baie sieker geword. Sy het toevalle begin kry en het gou ʼn buis in haar keel nodig gehad om haar te help asemhaal. Kinders ouer as 12 word gewoonlik in volwasse sale behandel, maar Mia was klein en het minder as 30 kg geweeg. Dit was moeilik om te besluit wie haar moes versorg. Sy is uiteindelik na ʼn pediatriese intensiewesorgeenheid (ISE) oorgeplaas.
Ná haar versorging in die ISE is Mia terug na die TB-hospitaal en het die lang herstelproses begin. Sy het eensaam en bang gevoel. Sy was weg van haar gesin en alles wat bekend was. Sy het verlang na die enkele naweke wanneer haar ma genoeg geld gehad het om te kom kuier. Mia onthou hoe haar mamma lekkernye gebring het en altyd haar bes gedoen het om na haar om te sien.
Eendag was Mia verheug toe haar niggies en nefies haar kom besoek het. Maar sy het opgemerk dat hulle almal hartseer was. Hulle het die slegte nuus kom oordra dat Mia se ma aan TB dood is. Mia was verpletter. Haar broer het kort tevore tydens ʼn epileptiese aanval versmoor. Haar suster het ook TB gehad, maar het op straat gewoon. Mia was heeltemal alleen. Sy het weke lank gehuil. Sy het haar mamma so baie gemis. Mia sê dit was net haar geloof in God wat haar deurgedra het.
Mettertyd het Mia vriende in die TB-saal gemaak. Die verpleegkundiges en dokters het soos familie geword. Sy het verstaan dat dit belangrik was om elke dag haar pille te drink, al het dit haar naar gemaak. Sy het by die hospitaal skoolgegaan en die mure rondom haar bed met sketse van haar ma versier.
Ná baie maande is Mia ontslaan en het sy by haar ma se niggie gaan woon. Mia het nie vir haar nuwe vriende gesê sy het TB nie – sy het gedink hulle sal haar vermy. Maar sy was gesond en gelukkig. Sy was terug op skool en was lief vir musiek, TikTok-video’s en om in die kerk te dans.
Ongelukkig is Mia se TB-reis nie uniek nie. TB is steeds die wêreld se dodelikste aansteeklike siekte en veroorsaak elke jaar meer as ʼn miljoen mense se dood. TB raak mense van alle ouderdomme, insluitend tieners. Ongeveer 750 000 tieners ontwikkel dié siekte elke jaar.
Op Wêreldtuberkulosedag (24 Maart) is dit belangrik om weer eens daarop te wys dat Suid-Afrika een van die lande is wat die meeste deur TB geraak word. Ongeveer 8% van TB-gevalle kom onder tieners voor, wat beteken dat bykans 20 000 tieners elke jaar TB opdoen.
Tieners word dikwels oor die hoof gesien in die stryd teen TB. In TB-statistieke word pasiënte in kinders en volwassenes verdeel, dus val tieners tussen dié twee kategorieë. Dit beteken die spesifieke uitdagings wat tieners met TB ervaar, word dikwels oor die hoof gesien.
Volgens navorsers is adolessensie ʼn baie kwesbare tyd vir TB-infeksie en -siekte. Tieners bring meer tyd buite die huis deur – by die skool, by vriende en op openbare vervoer. Dit verhoog hulle kanse om besmet te raak. Veranderinge in hulle immuunstelsel tydens puberteit beïnvloed ook hoe liggame op TB-kieme reageer.
In gemeenskappe met ʼn hoë siektelas word baie tieners vroeg in lewe aan TB blootgestel. Een studie in Suid-Afrikaanse hoërskole het getoon dat ongeveer die helfte van die tieners wat getoets is, reeds tekens van TB-infeksie getoon het.
TB-pille moet daagliks geneem word en newe-effekte kan erg wees. Vir tieners wat skool, hulle sosiale lewe en hulle gesinsverantwoordelikhede moet balanseer, kan dit moeilik wees om hierdie roetine te handhaaf. Een van die medikasies wat gebruik word om middelweerstandige TB te behandel maak die vel donkerder. Belinda*, wat hierdie medikasie neem, het vir navorsers gesê: “Ek is nie meer mooi nie.”
Een van tieners se grootste probleme is die stigma van TB. Hulle is bekommerd oor wat hulle maats dink en weier dalk om medikasie te gebruik. Navorsing toon ʼn groter geneigdheid by tieners om hulle behandeling te onderbreek as by jonger kinders. Dis kommerwekkend omdat onvolledige behandeling insinking of middelweerstandige TB kan meebring.
Sommige tieners is bang dat hulle van hulle portuurgroepe uitgesluit sal word omdat hulle ʼn “vuil” siekte het. Hulle isoleer hulleself eerder as om verstoot te word. Hierdie sosiale isolasie kan tot angs, depressie en ander geestesongesteldhede lei.
TB het langtermyngevolge vir sommige tieners. Akhona* was byvoorbeeld ʼn uiters talentvolle 17-jarige rugbyspeler. Toe hy in graad 11 TB gekry het, moes hy ophou speel. Dit het beteken hy kon nie aansoek doen vir die sportbeurs wat hom in staat sou stel om verder te studeer nie. Walden* was in matriek toe hy TB opgedoen het. Hy het sy matriekeksamen gemis en dit nooit reggekry om terug skool toe te gaan nie.
Tieners is in ʼn stadium van hulle lewe wanneer hulle romantiese verhoudings begin aanknoop. Navorsing toon dat tieners baie huiwerig is om hulle TB aan hulle romantiese maats te openbaar. Sommige voel dat hulle hierdie verhoudings moet beëindig. Ander steek net die feit dat hulle TB het weg.
Gesondheidsdienste word dikwels óf vir klein kinders óf vir volwassenes ontwerp. Kenners verwys na tieners as “die onsigbare middel” in TB-sorg. Tieners woon dikwels klinieke alleen by, maar voel ongemaklik in volwasse wagareas. Baie tieners sukkel om kwessies soos stigma, behandelingsnakoming, geestesgesondheid en seksuele verhoudings met volwasse gesondheidswerkers te bespreek.
Dis bemoedigend dat wetenskaplikes en openbare gesondheidskundiges al hoe meer aandag aan TB onder adolessente gee. Navorsers bestudeer hoe behandeling makliker gemaak kan word en hoe entstowwe hierdie kwesbare groep kan beskerm.
Baie moet egter nog verander. Adolessentvriendelike TB-dienste, skoolgebaseerde TB-opvoeding en portuurgroepe vir tieners is dringend nodig.
Tydens ʼn onlangse besoek aan haar ou TB-saal het Mia al haar verpleegsters en dokters drukkies gegee en die kinders vertel hoe belangrik dit is om elke dag TB-behandeling te kry. Sy tel die dae af tot die einde van Maart, wanneer haar eie TB-behandelingsreis uiteindelik verby sal wees.
Maar Mia wens sy kon die verlede oorhê. Sy wens iemand het haar gewaarsku dat TB met iemand van haar ouderdom kan gebeur. Sy wens sy en haar ma het geweet hoe om hulleself te beskerm toe haar suster die eerste keer TB opgedoen het.
As ons TB wil beëindig, moet ons op hierdie Wêreld-TB-dag en daarna besef ons kan dit nie bekostig om tieners oor die hoof te sien en toe te laat dat hulle deur die krake in ons gesondheidsorgstelsels val nie.
*Name is verander om identiteite te beskerm.
*Dr Susan Purchase is ʼn navorsingsklinikus by die Desmond Tutu TB-sentrum aan die Universiteit Stellenbosch.
Bykomende inligting oor TB in Tieners: Mites vs Feite
❌ Mite 1: “TB is 'n siekte van die verlede.”
✔ Feit: Tuberkulose is steeds een van die infeksiesiektes wat die meeste sterftes wêreld veroorsaak. In lande soos Suid-Afrika word adolessente elke jaar gediagnoseer.
❌ Mite 2: “Tieners kry nie TB nie.”
✔ Feit: Adolessente loop 'n werklike risiko, veral as iemand in hul huishouding TB het. Die tienerjare is 'n tydperk van biologiese en sosiale verandering, en TB kan in hierdie kwesbare lewensfase toeslaan.
❌ Mite 3: “As jy TB het, moes jy iets verkeerd gedoen het.”
✔ Feit: TB is 'n luggedraagde infeksie. Enigeen kan die TB-bakteria inasem. Dit word nie deur slegte gedrag veroorsaak nie, en dit is nie 'n “vuil” siekte nie. Stigma doen dikwels meer skade as die siekte self.
❌ Mite 4: “TB-behandeling is vinnig en eenvoudig.”
✔ Feit: Behandeling duur gewoonlik ten minste ses maande en vereis die neem van veelvuldige antibiotika. Vir tieners wat skool, vriendskappe en eksamens balanseer, kan dit moeilik wees om by behandeling te bly – maar ondersteuning maak 'n groot verskil.
❌ Mite 5: “’n TB-diagnose verwoes jou toekoms.”
✔ Feit: TB is geneesbaar. Met vroeë diagnose en behoorlike behandeling herstel die meeste tieners ten volle en keer hulle terug na die normale lewe. Nuwe, korter voorkomende behandelings maak dit ook makliker om jongmense te beskerm voordat hulle siek word.