Suid-Afrikaanse navorsing moet in ʼn veranderende wêreldlandskap beskerm word
- Suid-Afrika beskik nie oor ʼn nasionale beleid wat aan navorsingsekuriteit toegewy is nie.
- Die versterking van navorsingsekuriteit weerspieël ʼn verbintenis tot openbare vertroue, akademiese integriteit en die billike nastrewing van kennis.
- Navorsingsekuriteit is ʼn verbintenis tot openheid wat in verantwoordelikheid geanker is.
ʼn Doeltreffende benadering tot navorsingsekuriteit kan nie bloot ʼn lys van beperkings wees nie. Dit moet ʼn deurdagte, risikogebaseerde raamwerk wees wat erkenning verleen aan ons unieke geopolitieke posisie, die realiteite van internasionale wetenskapdiplomasie, asook die druk wat deur navorsers in die loopgrawe van globale betrokkenheid ervaar word. Só skryf dr Cornelia Malherbe van die Afdeling Navorsingsontwikkeling in ʼn meningsartikel vir University World News.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Cornelia Malherbe*
Suid-Afrika is by ʼn kruispad in die globale gesprek oor navorsingsekuriteit. Ek het oor die afgelope paar jaar deur my betrokkenheid by universiteite reg oor Europa en die Verenigde Koninkryk (VK) en voortgesette werk in my eie instelling begin besef hoe vinnig die internasionale landskap verander.
Suid-Afrika beskik nie tans oor ʼn nasionale beleid wat aan navorsingsekuriteit toegewy is nie. Pleks daarvan word binne ʼn gefragmenteerde ekosisteem van wetgewing gefunksioneer – intellektuele eiendomsbeskerming, uitvoerbeheerwetgewing, nie-uitbreidingsraamwerke, wetsbepalings oor privaatheid en kuberveiligheid en leiding van liggame soos die Suid-Afrikaansse Akademie vir Wetenskap op gebiede soos kunsmatige intelligensie (KI).
Dit bied gedeeltelike dekking, maar laat ook kritieke gapings, veral op gebiede soos die sifting van buitelandse medewerkings en die tempering van buitelandse inmenging. Die gevolg is ʼn gefragmenteerde en dikwels dubbelsinnige bestuursomgewing wat al hoe moeiliker is om te navigeer soos wat globale verwagtinge toeneem.
Die onlangse aanduiding van die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie dat navorsingsekuriteit hoog op die nasionale agenda vir 2026 sal wees, is bemoedigend en ek meen dit dui op ʼn keerpunt.
Maar totdat ʼn nasionale dialoog in beleid ontwikkel, moet universiteite ʼn oneweredige las dra. Dis veral ingewikkeld vir ʼn land soos ons sʼn, wat doelbewus as onverbonde geposisioneer is. Ons medewerking strek wyd: Westerse vennote, Brics+-netwerke, die Afrika-navorsingsgemeenskap en etlike multilaterale wetenskapplatforms.
Maar onverbondenheid stel ons ook aan ʼn reputasierisiko bloot wanneer ons met lande of instellings skakel wat deur dié met streng navorsingsekuriteitstelsels as “buitelandse lande van kommer” beskou word. Soos ek in verskeie internasionale forums aanskou het, kan hierdie dinamika werklike gevolge hê – nie net vir vennootskappe nie, maar ook vir persepsies van integriteit, betroubaarheid en nakoming.
Een voorbeeld wat die dringendheid van hierdie kwessie by talle rolspelers in die Suid-Afrikaanse sektor tuisgebring het, was die kuberaanval op die Tshwane-universiteit van Tegnologie op 17 Desember 2023. Die diefstal van omvattende sensitiewe institusionele en persoonlike data, die ontwrigting van bedrywighede, asook uiteindelik die skorsing van ʼn senior uitvoerende beampte, het die broosheid van ons stelsels en die erns van die risiko’s waarmee ons te kampe het, benadruk. Voorvalle soos hierdie bring nie net inligting in die gedrang nie – dit ondermyn vertroue, ontbloot swakpunte in bestuur en herinner ons daaraan dat universiteite toenemend aantreklike teikens is vir diegene wat toegang tot waardevolle kennis en digitale infrastruktuur wil hê.
Nog meer onlangs het ʼn navorser, Marcel Bucher, twee jaar se akademiese werk verloor nadat hy ʼn “datatoestemming”-stelling in ChatGPT afgeskakel het, wat veroorsaak het dat alle gestoorde gesprekke en projeklêers permanent en sonder waarskuwing uitgevee is. Dit het die aandag gevestig op die kwesbaarheid van navorsingsmateriaal wat in derdeparty-KI-instrumente gestoor word, veral wanneer verkeerdelik aangeneem word dat platformkontinuïteit aan datasekuriteit gelyk is. Hoewel geen kwaadwillige optrede beoog is nie, het hierdie geval getoon dat afhanklikheid van wolkgebaseerde of KI-ondersteunde instrumente sonder robuuste, instellingsbeheerde rugsteun beduidende risiko’s vir navorsingsekuriteit, data-integriteit en intellektuele eiendomsbeskerming inhou.
In die breër globale konteks blyk navorsingsekuriteit ʼn gedeelde bron van kommer vir toonaangewende wetenskaplande te wees. Die Groep van Sewe gevorderde ekonomieë (G7) se definisie hiervan strook grootliks met my eie begrip: die verbintenis tot die bevordering van oop navorsing terwyl erken word dat daar omstandighede is wat proporsionele beperkings (my klem) op toegang tot kennis, data en tegnologie vereis. My blootstelling aan hierdie beginsels – veral die klem op die voorkoming van die wanaanwending van navorsingsuitsette deur diegene wat nie akademiese norme respekteer nie – het my denke oor verantwoordelike medewerking gevorm.
As Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings moet ons begin deur onsself moeilike, dog noodsaaklike vrae af te vra: Hoe ontwerp ons interne stelsels in die afwesigheid van nasionale leiding? Hoe bly ons betekenisvol oop terwyl ons ons navorsers, infrastruktuur en intellektuele bates beskerm?
Deur my navorsing en institusionele werk het ek tot die besef gekom dat ʼn doeltreffende benadering tot navorsingsekuriteit nie bloot ʼn lys van beperkings kan wees nie. Dit moet ʼn deurdagte, risikogebaseerde raamwerk wees wat erkenning verleen aan ons unieke geopolitieke posisie, die realiteite van internasionale wetenskapdiplomasie, asook die druk wat deur navorsers in die loopgrawe van globale betrokkenheid ervaar word.
Dit sluit in omsigtigheidsprosesse vir medewerkers en befondsers, risikokategorisering, assessering van kommerwekkende dubbele gebruik van navorsing, asook duidelike interne riglyne om geloofwaardige bedreigings aan te pak. ʼn Geloofwaardige bedreiging sal die akademiese vryheid troef wat ons so desperaat wil beskerm. Maar die vraag is: Wie moet oordeel of daar wel ʼn geloofwaardige bedreiging is?
Die uitdagings is dikwels meer akuut op die vlak van individuele navorsers. Talle van die dilemmas gaan nie met kwaadwillige bedoelings gepaard nie – dit behels bloot ʼn gebrek aan bewustheid van die kompleksiteite wat met buitelandse medewerkings verband hou, veral dié waarby hoërisiko-instellings of sensitiewe tegnologieë betrek word. Dit dien as ʼn herinnering dat deursigtigheid die hoeksteen van verantwoordelike medewerking is. Affiliasies wat nie openbaar gemaak word nie, verborge kontrakte of teenstrydige verbintenisse lyk dalk met die eerste oogopslag van geringe belang, maar het werklike implikasies vir institusionele verantwoordbaarheid en die beskerming van reputasies.
Tegelyk het navorsers te kampe met al hoe meer druk van buitelandse befondsers, talentprogramme of geopolitieke verwagtinge wat met ons wetlike of etiese raamwerke kan bots. Om akademiese vryheid met maatskaplike verantwoordelikheid te balanseer is moeilik, maar noodsaaklik – en in sommige gevalle kan dit vereis dat ons selfbeperking toepas wanneer die risiko’s te groot word.
Voordat ʼn besluit oor selfbeperking geneem word, moet ʼn situasie ʼn “kritieke bedreiging” verteenwoordig. ʼn Geloofwaardige bedreigingsassessering verg ʼn gestruktureerde proses wat die aard van die vennootinstelling, die navorsingsdomein, die sensitiwiteit van die betrokke data of tegnologie, asook die spesifieke bepalings van die medewerking in hersiening neem.
Instellings in Europa en die VK het komitees gestig wat spesifiek aan hierdie werk toegewy is. Hul ervaring demonstreer beide die waarde van institusionele ondersteuning én die gevaar daarvan om op ad hoc- of individuele assesserings staat te maak – veral op gebiede wat dubbele gebruikstegnologieë, polities blootgestelde entiteite of potensiële militêre toepassings behels.
By die Universiteit Stellenbosch (US) was ons op ons eie leerreis. Die insigte wat ek by agt universiteite in België, Nederland, Noorweë en die VK opgedoen het, was van onskatbare waarde, maar het ook benadruk hoe moeilik dit kan wees om nakoming met akademiese vryheid te balanseer. In etlike gevalle het oordrewe streng regulasies in die buiteland verlamming veroorsaak – navorsers wat te bang om op te tree of onseker was oor hoe om dubbelsinnige wetlike verpligtinge te benader. Vir my was dit ʼn kragtige herinnering aan waarom ons eie benadering eweredig, deursigtig en kontekstueel gegrond moet wees.
By die US het ons ʼn raamwerk ontwikkel wat die volgende insluit: risikokategorisering, beter sifting van befondsers en medewerkers, navorsersbewustheid, die gebruik van internasionale klankborde, asook die vestiging van en deelname aan nasionale en streeksnetwerke, soos die nuutgestigte Gemeenskap van Praktyk vir Navorsingskontrakte en -nakoming van die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging en EUTOPIA se gesprekke oor verantwoordelike internasionalisering. Hierdie pogings is geensins volledig nie, maar dit help ons om ʼn kultuur van sekuriteitsbewuste, oop wetenskap te vestig – een wat op etiek, verantwoordelikheid en kollektiewe beraadslaging gegrond is.
Die versterking van navorsingsekuriteit in Suid-Afrika is nie bloot ʼn nakomingsoefening nie; dit weerspieël ons verbintenis tot openbare vertroue, akademiese integriteit en die billike nastrewing van kennis. Ons onverbonde posisie bied aan ons unieke geleenthede vir wye medewerking, maar plaas ons ook onder ʼn skerper kollig.
As ons ʼn vertroude vennoot wil bly, moet ons benadering tot vennootskappe toon dat ons ons verantwoordelikhede ernstig opneem en dat ons bereid is om moeilike besluite te neem wanneer dit nodig is, insluitend die weiering van medewerking wat onaanvaarbare risiko’s inhou. Ek het geleer dat verantwoordelike openheid meer as welwillendheid vereis – dit verg doelbewuste bestuur, institusionele moed en ʼn bereidwilligheid om die breër gevolge van ons navorsingskeuses te ondersoek.
Waarvan ek oplaas oortuig is, is dat navorsingsekuriteit nie die teenoorgestelde van openheid is nie, maar dat dit voortgesette openheid moontlik maak. Wanneer ons ons mense, ons kennis en ons institusionele geloofwaardigheid beskerm, skep ons die toestande waarin betekenisvolle medewerking kan gedy. En wanneer ons eties gegrond en bewus van globale norme bly, beskerm ons nie net ons eie werk nie; ons versterk ook Suid-Afrika se posisie in die globale navorsingsekostelsel. Vir my is dit die kern van navorsingsekuriteit: dis ʼn verbintenis tot openheid, maar openheid wat in verantwoordelikheid geanker is.
*Dr Cornelia Malherbe is die Direkteur: Navorsingskontrakte en -nakoming in die Afdeling Navorsingsontwikkeling, asook ʼn senior dosent in die Departement Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.