Skip to main content
A photo of Lindsay Gurnell
Image by: supplied

Lindsay Gurnell 

Menings en artikels

Opkoms van populisme plaas demokrasie onder druk

Korporatiewe Kommunikasie
28 April 2026
  • Suid-Afrika vier elke jaar op 27 April Vryheidsdag ter herdenking van die land se eerste demokratiese verkiesings in 1994 – 'n bepalende oomblik wat steeds sy grondwetlike orde vorm. Denkleiers verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) wie se werk met vrae oor bestuur, regte en aanspreeklikheid omgaan, besin teen hierdie agtergrond oor die stand van demokrasie.

Lindsay Gurnell is tans besig met haar meestersgraad in politieke wetenskap aan die US. Sy stel veral in politieke gedrag en demokratiese staatsbestuur belang. Haar meestersnavorsing ondersoek die onderliggende redes waarom mense vir die African National Congress (ANC) se splinterpartye stem, en of hierdie redes beduidend tussen die partye verskil.

Wat beskou jy hedendaags as die grootste bedreigings vir demokrasie? 

Die opkoms van identiteitsgebaseerde populisme is een van die belangrikste bedreigings vir demokrasie wêreldwyd. Populisme word tipies as 'n stryd tussen "die mense" en "die korrupte elite" verstaan. Dit is veral gevaarlik omdat dit op 'n reeks ekonomiese, politieke en maatskaplike griewe steun om hoogs gepolariseerde politieke storielyne aan te dryf. Die gevaar lê in die manier waarop populisme as 'n wettige demokratiese alternatief binne liberale demokrasie aangebied word, terwyl dit dikwels probeer om die kernbeginsels daarvan van binne af te ondermyn. Gevolglik kan ontevrede kiesers populistiese leiers in hulle strewe vir verandering ondersteun, sonder om die potensiële langtermynrisiko's daarvan vir demokratiese stabiliteit ten volle te erken.

Wat gebeur wanneer daardie vertroue afneem, en hoe kan dit in gepolariseerde en ongelyke samelewings herbou word?

Wanneer burgers vertroue in instellings en politieke leiers verloor, verloor demokrasie self legitimiteit. Die gevolg is 'n afname in politieke betrokkenheid en individue word ontvankliker vir nie-demokratiese vorms van bestuur. Hierdie risiko is duideliker in gepolariseerde en ongelyke samelewings, aangesien diep politieke, maatskaplike en ekonomiese verdeeldheid vertroue makliker langs groepslyne laat erodeer

Ten einde vertroue in demokratiese instellings in verdeelde samelewings te herstel moet die legitimiteit van daardie instellings én sosiale fragmentasie aangespreek word. Dit behels die verbetering van dienslewering in gemarginaliseerde gemeenskappe, die versekering dat die oppergesag van die reg konsekwent afgedwing word en die bevordering van gesprekke oor sosiale en politieke grense om gefragmenteerde persepsies van billikheid en verteenwoordiging te verbeter.

Jongmense word dikwels as onbetrokke by formele politiek, maar tog aktief in sosiale bewegings beskryf. Hoe interpreteer jy dit? 

Jongmense het die grootste geneigdheid om deur betogings, sosiale bewegings of digitale aktivisme eerder as formeel by die politiek betrokke te raak. Hoewel deelname aan informele politiek belangrik is, is dit dikwels episodiese en simboliese eerder as volgehoue deelname. Informele politieke aksie kan byvoorbeeld bewustheid suksesvol verhoog of druk op die regering plaas, maar dit lei nie altyd tot langtermynbeleidsverandering nie. Dit skep 'n gaping tussen politieke mobilisering en betekenisvolle politieke invloed. Hoewel informele politiek dus 'n belangrike element van demokratiese deelname is, mag die beskerming van die toekoms van demokrasie vereis dat jongmense informele betrokkenheid met formele politieke deelname soos stemming of deelname aan openbare konsultasies integreer.

Hoe kan tegnologie en sosiale media benut word om demokrasie te bevorder eerder as om dit te ondermyn?

Tegnologie en sosiale media kan demokrasie aanvul deur toegang tot inligting te verbeter, burgerlike deelname aan te moedig en regeringsdeursigtigheid te verhoog. Digitale hulpmiddels soos die Computational Democracy-projek versamel, ontleed en interpreteer burgers se sienings van hulle sosio-politieke omgewing en identifiseer met behulp van kunsmatige intelligensie die belangrikste beleidskwessies. Dit kan regerings en beleidmakers help om openbare bekommernisse beter, vinniger en duideliker te verstaan, wat beleidsoptrede doeltreffender maak.

Die gebruik van tegnologie en sosiale media in Suid-Afrika is veral betekenisvol weens sy geslote-lys proporsionele kiesstelsel. Hierdie stelsel word deur swak direkte aanspreeklikheid gekenmerk. Sosiale media kan help om aanspreeklikheidsgapings binne hierdie stelsel aan te spreek deur direkte skakeling met regeringsamptenare te verhoog. Burgers bevraagteken byvoorbeeld dikwels op X (voorheen Twitter) regeringsamptenare in die openbaar en wys hulle op tekortkominge in dienslewering. Op hierdie manier word regeringsamptenare verplig om in die openbaar te reageer, wat direkte aanspreeklikheid versterk. 

Wat gee jou hoop vir die toekoms van demokrasie?

Daar is verskeie uitstekende inisiatiewe wat demokrasie en menseregte bevorder, veral binne akademiese en navorsingsomgewings. Aan die US dra die Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie (CREDO), die navorsingsprogram van die Leerstoel in Genderpolitiek (SARChI) en die Sentrum vir Internasionale en Vergelykende Politiek (CICP) almal op 'n unieke wyse by tot 'n beter begrip van, en betrokkenheid by demokrasie en menseregte.

Ek vind dit fassinerend om politieke gedrag te bestudeer. Dit beklemtoon die betekenis van elke mens se unieke benadering tot politiek, veral ten opsigte van hulle stemkeuse. Dit verskuif die aandag van makrovlak-verduidelikings van demokrasie na die individuele perspektief en bied 'n meer gelaagde begrip van demokratiese norms en gedrag.

* Hierdie artikel is deel van 'n reeks wat akademiese perspektiewe op demokrasie uitlig. Die menings wat uitgespreek word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig dié van Universiteit Stellenbosch nie. Die Universiteit is verbind tot akademiese vryheid en die uitruil van idees in die ope.

Verwante stories