Afrika-geleide wetenskap én oorsigbestuur nodig om honger in Afrika te beëindig
- Wêreldhongerdag was op 28 Mei.
- Prof Scott Drimie van die Afdeling Menslike Voeding het ʼn meningsartikel geskryf.
- Hy het op die beëindiging van honger in Afrika gefokus.
Wêreldhongerdag was op 28 Mei. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian het prof Scott Drimie van die Afdeling Menslike Voeding verduidelik hoekom dit belangrik is om die toestande te skep waaronder Afrika-geleide kennis, gekoördineerde optrede en politieke toewyding gesonder en veerkragtiger voedselstelsels kan lewer wat die vasteland nodig het.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Scott Drimie*
Op Wêreldhongerdag (28 Mei) is dit belangrik om daarop te let dat meer as een uit elke vyf mense in Afrika vandag honger ly, en byna ses uit tien matige of ernstige voedselonsekerheid ondervind. Die jongste Stand van Voedselsekerheid en Voeding in die Wêreld-verslag van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) toon dat honger steeds op die vasteland toeneem, selfs al daal dit elders, en voorspel dat byna 60% van die wêreld se chronies ondervoedes teen 2030 Afrikane sal wees.
Afrika het nie 'n tekort aan bewyse oor hoe om homself te voed nie. Navorsers, boere, burgerlike organisasies en beleidsinstitute regoor die vasteland het reeds dekades spandeer om dít wat werk te dokumenteer: watter gewasse floreer onder veranderende klimaat, watter markte bedien die armes, watter intervensies verminder kinderagterstand, watter handelsreëls maak voedsame diëte moontlik of ondermyn dit. Die bewysbasis is ryk, dikwels plaaslik gegenereer en dikwels geïgnoreer.
Honger in Afrika duur nie hoofsaaklik voort omdat die wetenskap ons ontbreek nie, maar omdat die verbindingsweefsel tussen bewyse, beleid en implementering swak is. Strategieë lê op rakke. Kruis-sektorale koördinering struikel. Die stemme wat die meeste geraak word – vroue wat huishoudelike voedselsekerheid bestuur, kleinskaalse boere, informele handelaars wat Afrikastede eintlik voed – bly op die rand van besluitneming eerder as om in die middelpunt daarvan te staan. En baie van die druk wat honger dryf, insluitende klimaatsveranderlikheid, voedselprysvolatiliteit, ontwrigte voorsieningskettings, die verspreiding van dieetverwante siektes, respekteer nie nasionale grense nie. Dit is streeksverskynsels wat streekreaksies vereis.
Die Afrika-streeksamewerking vir Landbou, Voeding en Gesondheid (ANH-ARC), wat op 30 April in Accra van stapel gestuur is, is een roete om dit te verander. Die ARC, wat gesamentlik deur die Universiteit van Ghana, Ethiopië se Instituut vir Beleidstudie en die Universiteit Stellenbosch (US) gelei word, poog om die reeds bestaande bewyse sistematies saam te voeg, te ontleed en te integreer, om nuwe Afrika-geleide navorsing te inisieer en uit te voer waar bestaande bewyse nie antwoorde verskaf vir die vrae wat beleidmakers vra nie, en om albei direk met regerings, streekliggame en instellings op die vasteland te verbind wat besluite oor voedsel, landbou, handel en gesondheid neem.
Die ARC word onderskei deur sy beklemtoning daarvan dat hierdie verbindende werk op sigself 'n vakgebied en nie 'n kommunikasie-nagedagte van navorsing is nie, maar 'n volgehoue bestuurspraktyk wat sy eie bewyse, metodes, vermoëns en institusionele ankering vereis.
Drie verbintenisse gee vorm aan die inisiatief.
Die eerste is die belyning met Afrika-prioriteite en -raamwerke. Die ARC se werkprogram is spesifiek rondom die Omvattende Afrika-landbouontwikkelingsprogram (CAADP) 2026–2035, die Kampala-verklaring oor Landbou en Voedselsekerheid, die Vryhandelgebied van die vasteland van Afrika en Agenda 2063 ontwerp. Hierdie word nie as dekoratiewe verwysings aangehaal nie. Die ARC sal die analitiese steierwerk verskaf om regerings te help om verbintenisse op die vasteland – insluitende die Kampala-belofte om te verseker dat 60% van Afrikane teen 2035 'n gesonde dieet kan bekostig — in handelsreëls, fiskale instrumente, verkrygingshervormings en aanspreeklikheidstelsels kan omskakel wat sal bepaal of daardie verbintenisse in die praktyk iets beteken.
Die tweede is geslagsgelykheid en klimaatsveerkragtigheid as kernanalitiese dimensies en nie as bykomende byvoegings nie. Voedselstelsels in Afrika word deur geslagsgebaseerde patrone van voedselverkryging, ongelyke beheer oor huishoudelike hulpbronne en klimaatswisselvalligheid wat produksie, pryse en toegang ontwrig, gevorm. 'n Beleid wat hierdie werklikhede ignoreer, sal ongelyke uitkomste lewer of onder druk misluk. Die ARC se bewyswerk, van handelsmodellering tot navorsing oor geleefde ervarings, behandel geslag en klimaat as analitiese lense waardeur elke intervensie ondersoek word.
Die derde – en dit is waar die werk mees onderskeidend voel – is oorsigbestuur as 'n navorsingsfokus én as 'n praktyk wat aktief deur die samewerkende inisiatief gekweek word. Die Universiteit Stellenbosch lei die ARC se Wetenskap–Beleid-koppelvlak en Voedselstelseloorsigbestuur-werk en ondersoek hoe CAADP-verbintenisse in nasionale beleid omgeskakel word, hoe regverdige oorgange in veestelsels klimaat-, voeding- en bestaansdoelwitte kan balanseer en hoe dialoog met verskeie rolspelers die politieke spanning wat hervorming beperk, kan navigeer.
Oorsigbestuursnavorsing is egter net so nuttig as die bestuursvermoë van diegene wat die werk doen. Dit is waarom die ARC die anker vir 'n Leersentrum vir Voedselstelselbestuur by die US is wat saam met Ghanese en Ethiopiese vennote aangebied word. Die Leersentrum hanteer aan die hand van ses Afrika-voedseldialoë, gestruktureerde leerlaboratoriums in drie lande, praktisynswerksessies en sessies tussen verskillende generasies wat nagraadse navorsers met senior beleidsakteurs integreer, kapasiteitsuitbreiding as die roete waardeur bewyse volhoubare praktyk word. Die metodologie bou voort op die Learning Journeys-benadering wat die Suider-Afrikaanse Voedsellaboratorium sedert 2009 verfyn het. Hierdie werk toon konsekwent dat voedselstelselverandering deur volhoubare verhoudings, eerlike oorweging van kompromieë en die ontwikkeling van bestuursvaardighede onder navorsers, praktisyns en beleidmakers plaasvind.
Wat beteken dit vir die beëindiging van honger?
Die ARC alleen sal nie honger in Afrika beëindig nie. Geen enkele inisiatief kan dit doen nie. Maar dit weerspieël 'n duidelike verbintenis tot wat die beëindiging van honger werklik vereis: Afrika-geleide bewyse, oorsigbestuur wat ernstig opgeneem word as 'n navorsingsonderwerp én 'n praktyk, en die geduldige uitbreiding van vermoë regoor 'n vasteland wat nog nooit aan kennis ontbreek het nie, maar slegs aan die institusionele middele om daarop op te reageer. Die uitdaging op hierdie Wêreldhongerdag is nie om te herontwerp wat ons reeds weet nie. Dit is om die toestande te skep waaronder Afrika-geleide kennis, gekoördineerde optrede en politieke toewyding uiteindelik die gesonder en veerkragtiger voedselstelsels kan lewer wat die vasteland nodig het.
*Scott Drimie is 'n buitengewone professor in die Afdeling Menslike Voeding van die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch.