Heroorweging van ons vryheid in ʼn tyd van klimaatkrisis
- Vryheidsdag is op 27 April gevier.
- Vryheid beteken ook dat ons die omgewing moet beskerm.
- Vryheid moet ook gaan oor toestande wat lewe moontlik maak.
Suid-Afrikaners het op 27 April Vryheidsdag gevier. In 'n meningsartikel vir die Cape Argus vestig dr Gibson Ncube van die Departement Moderne Vreemde Tale die aandag op die verband tussen vryheid en die klimaatkrisis. Hy skryf dat ʼn werklik vrye samelewing een is waarin mense in omgewings kan leef wat hulle ondersteun eerder as skade aan hulle berokken. Dis een waarin ekonomiese vooruitgang nie ten koste van ekologiese oorlewing plaasvind nie.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Gibson Ncube*
Suid-Afrikaanse letterkunde worstel al ʼn ruk lank met die realiteite van klimaatsverandering, omgewingsagteruitgang en ekologiese onsekerheid. ʼn Voorbeeld is Lauren Beukes se bespiegelende fiksie, soos die roman Moxyland, waarin toekomste verbeel word wat deur omgewings- en tegnologiese krisisse gevorm word. In Alistair Mackay se roman It doesn’t have to be like this word ʼn Kaapstad verbeel wat deur klimaatsverandering en maatskaplike onrus verwoes is. Hierdie en talle ander skrywers worstel met die groeiende bewustheid dat vrae oor die omgewing en klimaat nie meer randkwessies nie, maar die kern vorm van Suid-Afrikaners se denke oor hulle hede en hoe hulle hul toekoms indink.
Die kwessies wat deur distopiese literatuur uitgebeeld word, is nie bloot fiktief nie. Die tekens is reeds vir baie mense reg oor die land sigbaar. Watertekorte het in talle gebiede meer algemeen geword, terwyl vloede ander gebiede verwoes het. Temperature het ook jaarliks gestyg, wat ʼn regstreekse impak op gewasproduksie, mense se heenkome en die daaglikse lewe gehad het.
Daar was voorts ʼn kommerwekkende toename in siektes, insluitend verskeie vorme van kanker, wat deur talle navorsers met omgewingsagteruitgang en langdurige blootstelling aan besoedelingstowwe verbind word. Hierdie is nie vae of abstrakte kwessies nie. Hierdie ekologiese kwessies beïnvloed hoe mense leef, wat hulle eet en hoe hulle hul toekoms verseker. In die lig van so ʼn situasie kan vryheid nie net as ʼn politieke prestasie verstaan word nie. Dit moet ook gaan oor die toestande wat lewe moontlik maak.
Suid-Afrikaners staan elke jaar op Vryheidsdag (27 April) stil om na te dink oor die historiese oomblik in 1994 toe die land formeel van die ongeregtighede van apartheid weggebreek het. Dis ʼn dag waarop politieke bevryding, die reg om te stem en die belofte van waardigheid vir almal gevier word. Maar met die viering van hierdie belangrike dag moet ons onsself ʼn moeilike, dog noodsaaklike vraag afvra: Wat beteken ons vryheid in ʼn wêreld waar die omgewing self bedreig word?
Soortgelyke patrone het reg oor die vasteland van Afrika ontwikkel. Gemeenskappe wat die minste tot globale omgewingskade en besoedeling bydra, is dikwels dié wat deur die ergste gevolge daarvan in die gesig gestaar word. Hierdie werklikheid ontlok ongemaklike vrae oor geregtigheid en verantwoordelikheid. Dit dwing ons ook om opnuut oor bevryding en huidige vryheid te besin. As mense vry in naam is, maar in besoedelde, onstabiele of uitgeputte omgewings leef, is daardie vryheid ongelukkig broos.
ʼn Deel van die probleem spruit myns insiens uit die voortgesette afhanklikheid van ontginningspraktyke. Suid-Afrika is tans verreweg die voorste steenkoolmynbouland op die vasteland. Die grootskaalse ontginning van fossielbrandstowwe, tesame met grootskaalse landbou- en nywerheidsuitbreiding, vorm lank reeds die kern van ekonomiese ontwikkeling.
Maar hierdie aktiwiteite kom dikwels teen ʼn prys. Riviere en die lug word besoedel. Die grond word afgetakel. Gemeenskappe word ontwortel. In baie gevalle word die voordele oneweredig versprei, maar word die omgewingskade wyd gevoel. Hierdie patrone eggo natuurlik ouer geskiedenisse van uitbuiting, al vind dit tans in ander politieke toestande plaas.
As ons dus vandag oor vryheid praat en dit vier, erken ons dat menslike welstand nou aan die gesondheid van die omgewing gekoppel is. Skoon lug, veilige water en stabiele ekostelsels behoort nie luukshede te wees nie. Dis noodsaaklik vir ʼn waardige lewe. Wanneer hierdie dinge in die gedrang kom, geld dieselfde vir die belofte van vryheid. Maar dit beteken nie dat ons ontwikkeling heeltemal moet verwerp nie. Ons moet eerder moeiliker, en selfs ongemaklike vrae vra oor hoe ontwikkeling plaasvind, tot wie se voordeel dit strek en wat dit agterlaat.
Ons het ook die geleentheid om anders te dink. Talle Afrika-tradisies benadruk lank reeds die onderlinge verbondenheid tussen mense en die natuurlike wêreld. Die wese van ubuntu behels byvoorbeeld ʼn begrip van menslike bestaan as fundamenteel verbonde tot en afhanklik van ander, insluitend die omgewings wat lewe in stand hou. Ofskoon hierdie perspektiewe dikwels in hedendaagse beleidsdebatte oor die hoof gesien word, bied dit waardevolle maniere om ʼn meer gebalanseerde verhouding met die omgewing te verbeel. Dit herinner ons daaraan dat die versorging van die aarde en die versorging van mekaar nie afsonderlike begrippe is nie.
Met die viering van Vryheidsdag moet ons die oorspronklike gees daarvan behou en tegelyk die wesentlike betekenis daarvan uitbrei. Vryheid gaan nie net oor die verlede nie, maar ook oor die hede en die toekoms wat ons wil bou. ʼn Werklik vrye samelewing is een waarin mense in omgewings kan leef wat hulle ondersteun eerder as skade aan hulle berokken. Dis een waarin ekonomiese vooruitgang nie ten koste van ekologiese oorlewing plaasvind nie.
Dit vereis kollektiewe verantwoordelikheid, deurdagte beleid en ʼn bereidwilligheid om bekende maniere van dinge doen opnuut te oorweeg. Maar dit bied ook ʼn geleentheid om ʼn dieper betekenis te heg aan wat vryheid self beteken. Die stryd om betekenisvolle vryheid in Suid-Afrika duur voort. Tans sluit dit die dringende taak in om te verseker dat die omgewing waarvan alle lewe in die land afhanklik is, beskerm en herstel en vir toekomstige geslagte in stand gehou word.
- In 'n Vryheidsdag-artikel vir die Mail & Guardian, wat deur die Stellenbosch Bestuurskool gefasiliteer is, voer prof Armand Bam aan dat Vryheidsdag nooit bedoel was om 'n dag van selektiewe herinnering te wees nie. Dit was bedoel om 'n breuk met 'n verlede aan te dui wat ons leer om te hanteer. Vryheid is nie die afwesigheid van verantwoordelikheid nie. Dit is die verpligting om op ʼn eerlik wyse rekening te hou met wat voorheen gebeur het en om anders te bou as gevolg daarvan.
*Dr Gibson Ncube is ʼn senior dosent in die Departement Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch. Sy huidige navorsing fokus op hoe kulturele produksies, veral letterkunde en rolprente, geleefde ervarings van queers in die aangesig van die omgewingskrisis in verskillende Afrika-kontekste verteenwoordig.