Die voorsitter van die US se Departement Joernalistiek, dr Marenet Jordaan (in die middel), lewer 'n aanbieding by 'n ICA-voorkonferensie, getiteld “Journalistic Roles in Context: Global Views and Local Realities” ("Joernalistieke rolle in konteks: Internasionale sienings en plaaslike werklikhede").
Departement Joernalistiek druk sy stempel af op geskiedkundige eerste ICA-konferensie in Afrika
- Die Departement Joernalistiek het aan die Internasionale Kommunikasievereniging (ICA)-konferensie deelgeneem
- Die Departement het twee voorkonferensies aangebied
- Verskeie akademici het aanbiedings by die konferensie gelewer
'n Sterk teenwoordigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Joernalistiek het gehelp om die heel eerste Afrika-konferensie van die Internasionale Kommunikasievereniging (ICA), wat van 4 tot 8 Junie in Kaapstad gehou is, te laat slaag.
Die ICA is die voorste wêreldwye akademiese vereniging vir akademici wat in die bestudering, onderrig en toepassing van alle aspekte van menslike en bemiddelde kommunikasie belangstel. Vanjaar se konferensie het meer as 3 000 afgevaardigdes na die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum gelok vir vyf dae van paneelbesprekings, navorsingsaanbiedings, hoofsessies en netwerkgeleenthede.
Die 2026-konferensie se tema was “Communication and Inequalities in Context” (oftewel "Kommunikasie en ongelykhede in konteks"). Die konferensie het kritiese nadenke oor die dinamika tussen kommunikasie en ongelykheid in verskillende maatskaplike, kulturele en geografiese kontekste ontsluit. Die doel was om betrokkenheid by navorsing wat die diep verdeeldheid en bestaande interpersoonlike, institusionele en strukturele ongelykhede in samelewings regoor die wêreld ondersoek, aan te moedig.
Prof Herman Wasserman, professor in die Departement Joernalistiek en Direkteur van die Sentrum vir Inligtingsintegriteit in Afrika (CINIA), sê: "Deur hierdie konferensie in Kaapstad aan te bied, toon die ICA nie net 'n betekenisvolle verbintenis tot die uitbreiding van sy internasionale reikwydte nie, maar ook tot die verryking van die gebied van kommunikasievakkundigheid. Insluiting, diversiteit en toegang moet verder as simboliek gaan om te erken dat kennis wat hoofsaaklik deur geleerdes in lande met baie hulpbronne geskep is, slegs 'n gedeeltelike begrip van ons wêreld bied. Ons is verheug dat hierdie konferensie gehelp het om die reeks stemme en perspektiewe wat ons vakgebied vorm, te verbreed."
Personeel en studente van die Departement Joernalistiek het 'n sleutelrol in die aanloop tot en gedurende die konferensie gespeel. Wasserman het saam met die hoof van die Departement, dr Marenet Jordaan, en hulle PhD-programsameroeper, dr Meli Ncube, op die plaaslike reëlingskomitee vir ICA 2026 gedien.
Die Departement het ook twee voorkonferensies in aanloop tot die hoofgeleentheid gereël. Hierdie onafhanklikgeorganiseerde byeenkomste het die geleentheid vir meer gefokusde en diepgaande besprekings oor temas gebied wat met die breër konferensieprogram verband hou.
CINIA, wat deel is van die Departement Joernalistiek, het op 3 Junie gesamentlik 'n voorkonferensie, getiteld “Global Disruptions: Platforms, Power and Contested Communication” (oftewel "Globale ontwrigtings: Platforms, magte en omstrede kommunikasie"), by die Lanzerac-wynlandgoed op Stellenbosch aangebied. Die voorkonferensie het vakkundiges byeengebring om die rol van media en kommunikasie in die ontwrigting van lande en samelewings regoor die wêreld te ondersoek.
Die titel van die tweede voorkonferensie, wat deur Jordaan gereël is, was “Journalistic Roles in Context: Global Views and Local Realities” (oftewel "Joernalistieke rolle in konteks: Internasionale sienings en plaaslike werklikhede"). Besprekings het ondersoek ingestel na hoe universele joernalistieke ideale met plaaslike kulturele norme, politieke strukture, mediaplatforms en kontekstuele werklikhede kruis. Nadine Christians en Landi Slatter, doktorale studente in die Departement, asook 'n oudstudent, dr Andre Gouws, het ondersteuning gebied met die geleentheid se reëlings.
Konferensie
Personeel en studente van die Departement was ook aktief by die hoofkonferensieprogram betrokke en het onder meer sessies gelei en navorsing oor 'n wye reeks onderwerpe aangebied.
Prof Mehita Iqani, Direkteur van die Sentrum vir Wetenskap-en-Tegnologie-massakommunikasie (CENSCOM) en voorsitter van die DWT-NNS Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapskommunikasie, wat binne die Departement Joernalistiek gesetel is, het saam met 'n postdoktorale genoot, dr Christel Antonites, 'n referaat, getiteld "Messy Baboons, Angry Humans: Waste as Multispecies Mediator in a Neighbourhood in South Africa se Noordhoek Valley" (oftewel "Morsige bobbejane, kwaai mense: Afval as multispesie-bemiddelaar in 'n buurt in Suid-Afrika se Noordhoekvallei") gelewer.
Iqani het ook aan 'n paneelbespreking van die Suid-Afrikaanse Kommunikasievereniging oor “Waste and Luxury as Lenses for Inequality in African Contexts” (oftewel "Afval en luuksheid as lense vir ongelykheid in Afrikakontekste") deelgeneem en 'n tweede referaat, “From Zibi to Bingo: South African Anti-littering Adverts and the Discourse of Personal Responsibility” (oftewel "Van Zibi tot Bingo: Suid-Afrikaanse anti-rommeladvertensies en die diskoers van persoonlike verantwoordelikheid"), aangebied.
Wasserman en Yossabel Chetty, 'n navorser by CINIA en PhD-kandidaat in die Departement, het saam 'n referaat, getiteld "Hate Speech and Intersectionality in Africa" (oftewel Haatspraak en interseksionaliteit in Afrika) as deel van 'n paneel oor internasionale haatspraaknavorsing aangebied.
Daarbenewens het Wasserman 'n sessie, getiteld “Who Makes Crisis Visible? Platforms, NGOs and News Media” (oftewel "Wie maak krisisse sigbaar? Platforms, NRO's en nuusmedia"), gelei. Hy het ook aan 'n paneel oor politieke invloed in 2026 deelgeneem en tot 'n sessie bygedra wat die demokratiese implikasies van die wêreldwye opkoms van politieke beïnvloeders ondersoek het. Hy het ook die boek Media on the Margins in South Africa bekendgestel, waarvan hy saam met prof Franz Krüger en prof Sarah Chiumbu mederedakteur was en wat die rol van gemeenskaps- en plaaslike media ondersoek.
Die konferensie was ook 'n uiters waardevolle geleentheid vir personeel en studente om meer te leer by vooraanstaande internasionale akademici wat navorsing in die kommunikasieruimte doen en om met hulle in gesprek te tree.
Jordaan sê: "Die US se Departement Joernalistiek was baie goed by die geleentheid verteenwoordig, met personeel en studente wat aanbiedings by die hoofkonferensie en voorkonferensies gedoen en dit bygewoon het. Dit het aan ons Departement die geleentheid gebied om ons navorsing en idees op 'n internasionale verhoog ten toon te stel. Die Departement se wye betrokkenheid by die konferensie en verwante geleenthede is 'n aanduiding van sy volgehoue reputasie in die breër akademiese gemeenskap. Ons is trots op ons verteenwoordigers vir hulle harde werk om te verseker dat die Departement Joernalistiek en die US hulle stempel op die eerste ICA-konferensie in Afrika afdruk."