Dr Sishuwa Sishuwa, 'n senior dosent in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is as 'n gasnavorser by die Harvard-Universiteit aangestel.
Dr Sishuwa aangestel as besoekende navorser by Harvard
- Dr Sishuwa is in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe gesetel.
- Hy sal 'n semester as besoekende navorser by Harvard deurbring.
- Hy is die skrywer van meer as 20 eweknie-geëvalueerde publikasies.
Dr Sishuwa Sishuwa, 'n senior dosent in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is as 'n gasnavorser by die Harvard-Universiteit aangestel.
Hierdie aanstelling is die gevolg van samewerking tussen Harvard en die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), waar Sishuwa die houer van die gesogte Iso Lomso-beurs is. Die beurs bied 'n driejaar-verbintenis aan STIAS wat genote in staat stel om 'n langtermyn-navorsingsprogram van hulle voorkeur te ontwikkel en uit te voer.
Sishuwa sal van Januarie tot Junie 2026 sy tyd by die Harvard Universiteit se Sentrum vir Afrikastudie deurbring, waar hy aan sy navorsingsprojek werk wat die politieke rol van die weermag in die versekering van demokratiese winste in suidelike Afrika sedert die oorgang na meerpartypolitiek in die vroeë 1990's ondersoek.
"Die uiteindelike uitset sal 'n akademiese monografie wees wat voorlopig Gunning for Democracy: Why the Military Upholds Democracy in Malawi heet. 'n Sentrale argument van die boek is dat ondanks die afgelope paar jaar se omgekeerde tendens in sommige dele van Wes-Afrika, die weermag steeds 'n positiewe krag in die proses van demokratisering elders is. Dit is in teenstelling met akademiese studies wat net die instelling se grotendeels vyandige rol beklemtoon," sê Sishuwa
Prof Sandra Swart, Voorsitter van die Departement Geskiedenis, het Sishuwa se aanstelling as 'n "uitsonderlike geleentheid" beskryf.
"Dr Sishuwa se akademiese bydraes tot die politieke en intellektuele geskiedenis in Afrika het hom reeds tot een van die oorspronklikste en ernstige stemme van sy generasie verhef. Sy navorsingsproduktiwiteit en openbare vakkundigheid het ons Departement se akademiese profiel versterk en sy werk het beduidende internasionale aandag getrek. Die uitnodiging van Harvard bied nie net belangrike erkenning aan sy prestasies nie, maar sal ook sy (en ons Departement se) langtermyn-navorsingsloopbaan betekenisvol bevorder."
Daar word van Sishuwa verwag om gedurende sy tyd by Harvard tot die intellektuele lewe van die Sentrum by te dra deur akademiese geleenthede – in besonder die Afrikastudie-werkswinkels – by te woon en daaraan deel te neem; om sy voortgesette navorsing en jongste werk te deel; om die Sentrum vir Afrikastudie regoor die universiteit en in streeks- en internasionale netwerke te help vorm, rigting daaraan te gee en te bevorder; en deur van tyd tot tyd as hulpbron of vakkenner vir studente en kollegas op te tree.
Prof Zoe Marks, Fakulteitsdirekteur van Harvard se Sentrum vir Afrikastudie en dosent in Openbare Beleid aan die Harvard Kennedy-Skool, het gesê die universiteit is verheug om as gasheer vir Sishuwa op te tree. "Dit is 'n groot eer om dr Sishuwa by Harvard te hê. Ons beskou onsself as baie gelukkig om 'n institusionele gasheer vir sy boekprojek te wees. Ek is seker sy tyd hier sal baie produktiewe en lonend wees," sê Marks.
Meer oor Sishuwa:
Sishuwa het hom in 2023 by die US aangesluit. Hy het sy DPhil in Moderne Geskiedenis aan die Universiteit van Oxford behaal, waar hy as 'n Rhodes-beurshouer gestudeer het. Hy doen navorsing oor die politieke geskiedenis van suider-Afrika sedert die twintigste eeu, met 'n spesifieke fokus op verkiesings, leierskap, etnisiteit, historiese biografie, populisme, burgerlike samelewing, rasse-nasionalisme en die uitdagings van staatssoewereiniteit en politieke volhoubaarheid in nasionale en streekskontekste.
Hy het drie spesiale uitgawes van akademiese vaktydskrifte geredigeer en meer as 20 eweknie-geëvalueerde publikasies geskryf. Sy boeke sluit in Party Politics and Populism in Zambia (James Currey, 2024) en die Cambridge History of Democracy in Africa (Cambridge University Press, binnekort), waarvan hy saam met Nic Cheeseman, Maame Gyekye-Jandoh en Edalina Rodrigues Sanches mederedakteur was. Benewens Gunning for Democracy, skryf hy tans ook 'n ander monografie, Why Leaders Fail: Presidential Decision-Making in Zambia, 2015-2021.