- Wat doen Innovus?
- Hoe kan Innovus my help?
- Wat is ’n patent?
- Watter idees kan gepatenteer word?
- Wat is die regsvereistes?
- Hoe voer ek ’n patentsoektog uit?
- Is dit die moeite werd om my idee te patenteer?
- Hoe registreer ek ’n patent?
- Wat is die patenteringsproses by die Universiteit Stellenbosch?
- Hoe word my patent gekommersialiseer?
- Wat is die Patentsamewerkingsverdrag?
- Kan sagteware-verwante uitvindsels gepatenteer word?
- Hoe stel ek ’n besigheidsplan op?
Innovus help uitvinders en navorsers aan die Universiteit Stellenbosch om hul idees en uitvindings te kommersialiseer deur middel van patentering, lisensiëring en die stigting van afwentelmaatskappye.
Innovus, tesame met die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch, kan jou help om duidelikheid te kry oor vrae rakende intellektuele eiendom wat verband hou met jou navorsing of navorsingsbefondsing.
As jy ’n uitvinder aan die Universiteit Stellenbosch is, kan Innovus raad gee oor die moontlikheid om jou idee te patenteer en dit ook namens jou patenteer.
Indien jy ’n kommersiële idee het, kan Innovus help met die bemarking en finansiële vereistes om jou idee na die mark te neem.
’n Patent is ’n monopolistiese reg wat deur die staat toegeken word aan ’n uitvinder en wat aan die patenthouer die reg gee om na goeddunke ander uit te sluit van die verkoop, maak, gebruik of kommersiële ontginning van die uitvinding. Hierdie beskerming verval na 20 jaar indien daar aan alle formaliteite voldoen word (sien die Wet op Patente, Wet 57 van 1978).
Enige produk, proses, metode, toestel of ’n kombinasie daarvan of ’n verbetering van enige hiervan kan gepatenteer word. ’n Goeie patentagent sal alles in sy/haar vermoë doen om ’n uitvinding as enige van die bogenoemde alternatiewe of ’n kombinasie daarvan te beskryf, wetend dat hoe breër die beskrywing, hoe beter die beskerming. Daar is geen vaste lys van patenteerbare idees nie; daar is egter sommige uitvindings wat van patenteerbaarheid uitgesluit is, soos mediese behandelingsmetodes, biologiese prosesse vir die produksie van diere, of ontdekkings. (’n Ontdekking is nie patenteerbaar nie omdat dit as ’n natuurlike verskynsel nie deur die vindingryke verstand van ’n individu geskep is nie – dit was nog altyd daar. In teenstelling hiermee is ’n uitvinding ’n nuwe en innoverende skepping.)
'n Wiskundige formule kan ook nie gepatenteer word nie, aangesien dit ’n natuurverskynsel verteenwoordig. Rekenaarprogramme word normaalweg deur kopiereg beskerm. Dit is egter moontlik om sekere aspekte van rekenaarprogramme te patenteer, soos algoritmes of ’n proses in die program. Omdat hierdie veld baie gespesialiseerd en hoogs mededingend is, is dit raadsaam om ’n patentagent te raadpleeg en nie net op kopieregbeskerming vir sagtewareprogramme staat te maak nie. Die moontlike patentering van sagteware word verder bespreek onder Algemene vraag 12.
Daar is drie regsvereistes vir die patentering van ’n idee:
Nuwigheid: ’n Idee moet nuut wees. Indien dit voor die aansoekdatum openbaar bekend was of in gedrukte materiaal beskryf is, kan die idee nie gepatenteer word nie. ’n Ontdekking is nie ’n nuwe idee nie, want as ’n natuurverskynsel was dit nog altyd daar. Geheime toepassing van ’n idee diskwalifiseer dit ook van patentering.
Nie voor die hand liggend nie: Die toets vir hierdie vereiste is soos volg: As ’n kenner wat vaardig is in die kuns en wat vertroud is met die bestaande kuns wat verband hou met die idee tot dieselfde oplossing en gevolgtrekking as die idee kom wanneer hy/sy met dieselfde probleem gekonfronteer word, dan is die idee nie patenteerbaar nie. Daarom moet ’n uitvinding ’n vindingryke stap behels.
Bruikbaarheid: ’n Uitvinding moet ’n toepassing hê in die nywerheid, landbou of handel – dit moet waarde toevoeg en die samelewing baat op een of ander manier. Daar word egter nie vereis dat die uitvinding ’n kommersiële sukses moet wees om aan hierdie vereiste te voldoen nie.
’n Idee wat aan hierdie vereistes voldoen, word beskou as ’n uitvinding en is patenteerbaar.
Voordat jy begin met die proses om jou idee te patenteer, moet jy ’n patentsoektog uitvoer om te verseker dat dieselfde idee nog nie deur iemand anders gepatenteer is nie. Suid-Afrikaanse wetgewing vereis nie dat ’n soektog uitgevoer word om nuwigheid te bepaal voordat ’n patent toegestaan word nie en daarom ken die Patentkantoor patente toe aan alle aansoeke wat aan die formele vereistes voldoen. Die onus rus op die persoon wat glo dat hy/sy die oorspronklike uitvinder van ’n idee is wat voorheen deur iemand anders gepatenteer is, om dit in die hof te bewys. Dit is in teenstelling met die internasionale situasie waar die uitvinder moet bewys dat die idee nuut is deur ’n verpligte en uitgebreide nuwigheidsoektog uit te voer voordat enige patent deur ’n patentkantoor toegestaan sal word.
Dit is ’n duur oefening, maar met die voordeel dat jy die prioriteitsdatum behou wat gegee is deur die kantoor waar die voorlopige patent ingedien is, sou die soektog in jou guns wees. Aangesien ’n vorige professionele soektog steeds aanbeveel word vir Suid-Afrikaanse patentaansoeke, is dit moontlik en raadsaam om self ’n voorlopige soektog te doen op gratis soekenjins wat op die internet beskikbaar is voordat ’n patentagent geraadpleeg word. Die Suid-Afrikaanse Patentkantoor het geen sulke fasiliteite nie en Suid-Afrikaanse soektogte moet self per hand gedoen word.
Europa: www.epo.org
Kanada: www.strtegis.ic.gc.ca
WIPO (PCT): www.pctgazette.wipo.int
RSA: www.hahn.co.za
Google-patente
“Anything that won’t sell, I don’t want to invent” – Thomas Edison
Dit is belangrik om markneigings te oorweeg voordat ’n klein fortuin bestee word om ’n uitvinding te patenteer. Soek antwoorde op die volgende vrae rakende jou idee of produk: Los dit ’n probleem op? Is daar ’n mark daarvoor en hoe groot is die aanvraag? Wat is die groeipotensiaal? Kan dit mededingend vervaardig word? Watter mededingende produkte is daar op die mark? Sal die mark steeds daar wees na die inkubasietydperk? Hoe lank sal dit neem om die produk in die mark te plaas? Hoe sal die produk bemark en verkoop word? Om hierdie vrae aan te spreek, is ’n professionele benadering nodig. Eerstens moet bepaal word of die uitvinding probleme tot ’n bepaalde tegniese standaard oplos.
Raadpleeg ook: www.fplc.edu
Dit is ’n spesialisveld en jy moet van ’n patentprokureur gebruik maak. Ingevolge die Wet op Patente mag slegs geregistreerde patentprokureurs ’n volledige patentaansoek indien. Kontak gerus die TTO vir meer inligting.
Die volgende stappe word deur die Universiteit Stellenbosch voorgeskryf vir personeel en studente wat ’n patenteerbare idee ontwikkel het in die normale verloop van hul werk of studie aan die universiteit. Die universiteit glo dat die regte en belange van sy personeel, studente en dié van die universiteit ten beste beskerm word wanneer hierdie stappe gevolg word. Dit word volgens hul diens- of studiekontrak met die universiteit van personeel en studente vereis om uitvindings bekend te maak.
1. Openbaarmaking
Doen ’n voorlopige nuwigheidsoektog om die nuwigheid van die idee te bepaal. Voltooi die openbaarmakingsvorm, insluitend die bestuursgoedkeuringsafdelings. MOENIE enige handtekeninge verkry nie, aangesien die TTO ’n verwysingsnommer toeken en ook verifieer dat die inligting volledig is voordat dit vir ondertekening gestuur word via ’n aanlyn handtekeningplatform. Stel asseblief jou dekaan en departementele voorsitter in kennis van die openbaarmaking sodat hulle bewus is van die projek. Stuur die voltooide (ongetekende) openbaarmaking per e-pos na [email protected]. Let asseblief daarop dat die universiteit almal wat by die openbaarmakingsvorm betrokke is, bind aan die vertroulikheidsooreenkoms in die vorm.
2. Navorsingsontwikkeling en TTO
Die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling, in oorleg met die TTO, doen ’n voorlopige assessering van die idee en beide kantore onderneem om binne enkele dae terugvoer te gee. Die assessering sal ’n voorlopige ekonomiese evaluering van die idee sowel as ’n voorlopige nuwigheidsondersoek insluit.
3. Patentkomitee
Die TTO sal die voorlegging tydens 'n projekvergadering evalueer en besluit of die uitvinding beskermbaar is en kommersiële potensiaal het. Daar kan van jou verwag word om die tegniese meriete tydens die projekvergadering te verduidelik. Die TTO sal na die behoorlike ondersoek na goeddunke oor die toepaslike intellektuele eiendomsbeskerming besluit.
4. Terugvoer
Die TTO gee binne vier weke terugvoer oor die status van die bekendgemaakte idee, tensy anders ooreengekom. Hierdie terugvoer sal ’n aanduiding gee of die universiteit met die voorlopige patenteringsproses of enige ander beskermingsmetode sal voortgaan. Prima facie onpatenteerbare idees sal ook in hierdie stadium terugbesorg word, met die tekortkominge wat uiteengesit word om die uitvinder die geleentheid te gee om die idee weer in te dien. Die universiteit sal eers later afstand doen van die intellektuele eiendomsreg indien die universiteit verkies om nie self die idee te benut nie.
5. Verfyning deur TTO
Goedgekeurde bekendgemaakte idees word deur die TTO, in noue samewerking met die uitvinder, verfyn en strategieë word ontwikkel om die uitvinding te benut. Hierdie stap behels die ontwikkeling van ’n sakeplan, marknavorsing, finansieringsalternatiewe en produkverfyning, maar is nie beperk hiertoe nie.
6. Kommersialisering
Indien die tegnologie deur ’n afwentelmaatskappy gekommersialiseer word, sal die University of Stellenbosch Enterprises (Edms Bpk) (USE) en die TTO betrokke raak. USE is ’n privaat maatskappy wat besit word deur die Universiteit Stellenbosch. Hierdie maatskappy bestuur die besigheidsaspekte van die intellektuele eiendom van die universiteit en besit aandele in die universiteit se afwentelmaatskappye. Die TTO sal help met die stigting van die maatskappy en jy sal voorsien word van die voorwaardes vir loodsondernemings wat alles uiteensit wat jy moet weet oor die stigting van ’n maatskappy en die ondersteuning wat die TTO en USE bied.
7. Verdeling van netto inkomste uit die kommersialisering van intellektuele eiendom
Die uitvinder en sy departement sal finansieel baat in ooreenstemming met die amptelike intellektuele eiendomsbeleid (Artikel 6).
Die volgende alternatiewe is beskikbaar vir die kommersiële gebruik van patente:
Die patentregte kan direk verkoop word aan ’n belangstellende party wat in ’n beter posisie is om waarde toe te voeg tot bestaande produkte deur die patent te gebruik, of om dit as ’n nuwe produk in aanvulling tot hul bestaande produklyn te gebruik, of om ’n nuwe bemarkbare produk te ontwikkel. Dit is baie moeilik om die waarde van voortydige idees en patente sonder enige markgeskiedenis te bepaal, en sulke patente word gewoonlik teen ’n redelik lae fooi verkoop.
Die patent kan gelisensieer word aan ’n belanghebbende party, verkieslik een wat spesialiseer in die spesifieke veld. Dit is belangrik om te onderhandel vir die betaling van tantième wat gebaseer is op omset en nie op winste nie, aangesien maatskappye hul winste en verliese kan manipuleer. ’n Prestasieklousule is ook raadsaam, aangesien dit jou in staat sal stel om die tegnologie of patentregte terug te kry indien die lisensiehouer nie bevredigend presteer in die ontginning van die patent nie.
Die patent kan deur die uitvinder self benut word. Dit is baie ingewikkeld omdat die uitvinder dikwels nie vaardig is in sakebestuur nie. Dit is belangrik om te besef dat dit ’n sakeonderneming is wat ’n professionele benadering vereis ten opsigte van (a) ’n sakeplan, (b) die bou van ’n tegnologie-infrastruktuur rondom die patent, (c) die aanspreek en implementering van logistieke, bestuurs- en operasionele aksieplanne (insluitend die vervaardiging en bemarking van die produk) en (d) die finansiering van die onderneming. Dit is deel van OIP se dienste om werknemer- en studentuitvinders op hierdie manier te help met die benutting van hul uitvindings.
Vennootskappe kan gesluit word tussen finansiers, ontwikkelaars of maatskappye. ’n Tipiese struktuur van so ’n vennootskap kan die stigting van ’n maatskappy wees waar elke vennoot aandele hou pro rata tot die waarde wat hy/sy bydra of sal bydra tot sodanige vennootskap. Innovus hanteer ook sulke sake.
Agente kan aangestel word om die patent te bemark. Hulle eis dikwels ’n groot kommissie sonder om self enige wesenlike risiko te dra. Daarom is hulle nie noodwendig die beste opsie vir die ontginning van ’n uitvinding nie. Pasop vir agente wat voorafbetalings of -kommissies eis.
Die Patentsamewerkingsverdrag (PCT) is ’n internasionale verdrag met meer as 150 lidstate. Die PCT maak dit moontlik om gelyktydig patentbeskerming vir ’n uitvinding in ’n groot aantal lande te verkry deur ’n enkele “internasionale” patentaansoek in te dien in plaas daarvan om verskeie afsonderlike nasionale of streeks-patentaansoeke in te dien. Die toestaan van patente bly onder die beheer van die nasionale of streekspatentkantore in wat die “nasionale fase” genoem word.
Lidstate: https://www.wipo.int/pct/en/pct_contracting_states.html
PCT-tydlyn: https://www.wipo.int/export/sites/www/pct/en/seminar/basic_1/timeline.pdf
Hierdie vraag is die onderwerp van hewige debat as gevolg van die hoë kommersiële waarde van sagteware. Die Patentwet is baie duidelik in hierdie verband en artikel 25(2)(f) bepaal dat geen rekenaarprogram patenteerbaar is nie. Artikel 25(3) laat egter die deur oop vir patentering in baie beperkte gevalle. Hierdie bepaling is nog nie in ons howe getoets nie, en patentprokureurs laat hulle lei deur buitelandse hofbeslissings wanneer hulle advies gee. In Suid-Afrika word die probleem vermy deurdat geen formele patentsoektog of -ondersoek vereis word nie.
Indien ’n sagteware-uitvinding ’n integrale deel van ’n spesifieke taak of proses is, kan dit as patenteerbaar beskou word. Hierdie antwoord is egter nie voldoende nie en vir ’n beter perspektief op die probleem is dit nodig om na hofbeslissings uit die VSA te kyk waar die volgende riglyne oor die afgelope paar jaar ontwikkel is:
Om patenteerbaar te wees, moet sagteware-verwante uitvindings steeds voldoen aan die kriteria om ’n proses, produk of toestel in eie reg te wees, soos enige ander uitvinding, en daarom moet dit nie net ’n patenteringsproses aanvul nie. As gevolg van die dubbelsinnige definisies van howe rakende hierdie vereiste, het die Patentkantoor van die VSA die volgende riglyne gepubliseer om die saak te verduidelik:
- ’n Rekenaar of ander programmeerbare apparaat waarvan die aksies deur ’n rekenaarprogram of ander vorm van sagteware gerig word, kan as ’n “masjien” beskou word.
- ’n Rekenaar-leesbare geheue wat gebruik kan word om ’n rekenaar te rig om op ’n spesifieke manier te funksioneer wanneer dit deur die rekenaar gebruik word, kan ’n “vervaardigde artikel” wees.
- ’n Reeks spesifieke operasionele stappe wat op, of met behulp van, ’n rekenaar uitgevoer moet word, word as ’n “proses” beskou. Gedetailleerde inligting oor hierdie riglyne is hier beskikbaar.
Howe het ook ’n duidelike onderskeid getref tussen breë algoritmes en suiwer wiskundige algoritmes. Laasgenoemde impliseer dat die menslike verstand gedupliseer word (“ ... eise was nie patenteerbaar nie omdat hulle eintlik tot ’n wiskundige algoritme gedistilleer is wat ’n denkproses verteenwoordig wat nie op fisiese elemente of prosesstappe toegepas word nie.”) en is dus nie patenteerbaar nie. Wiskundige metodes word spesifiek uitgesluit van patenteerbare onderwerpe in die Patentwet.
Breë algoritmes kan gedefinieer word as “’n vaste stap-vir-stap prosedure om ’n gegewe resultaat te bereik, gewoonlik ’n vereenvoudigde prosedure om komplekse probleme op te los”, en is patenteerbaar. Dit word aan die howe oorgelaat om oor hierdie saak te beslis.
Verdere onderskeid moet getref word tussen sagteware en rekenaarprogramme. Laasgenoemde kan beskou word as ’n stel stellings of instruksies wat direk of indirek deur ’n rekenaar gebruik word om ’n sekere resultaat te bewerkstellig. Sagteware, aan die ander kant, is ’n breër term wat rekenaarprogramme, biblioteke, databasisse en nutsdienste kan insluit.
Tipiese voorbeelde uit die VSA se regspraak is soos volg:
Nie patenteerbaar nie:
“Stelselsagteware”
“Algoritme vir die opstel van alfanumeriese vergelykings”
“Rekenaarprogram vir die vertaling van natuurlike tale”
Patenteerbaar:
“Stelselsagteware”
“Algoritme vir die opstel van alfanumeriese vergelykings”
“Rekenaarprogram vir die vertaling van natuurlike tale”
Alle sagtewareprogramme word ook as ’n aparte kategorie beskerm deur die Kopieregwet en dit word aanbeveel dat die volgende nota in elke program ingesluit word vir ’n mate van beskerming indien jou patentaansoek verwerp word: Kopiereg © (JAAR) Outeur Alle regte voorbehou, waar (Jaar) die jaar van eerste “publikasie” is. Verdere inligting oor hierdie onderwerp is hier beskikbaar.
’n Idee met ’n goeie sakeplan het ’n beter kans om te slaag as ’n briljante patent sonder ’n sakeplan. As jy jou idee wil patenteer en dit kommersieel wil ontwikkel, is ’n sakeplan noodsaaklik. Die doel van ’n sakeplan is om ander te oortuig om jou idee te ondersteun en hul hulpbronne te gebruik om jou idee suksesvol te ontgin. Finansiering of waagkapitaal is tipiese voorbeelde van sulke hulpbronne en die mense wat die besluite neem oor die toewysing van waagkapitaal het streng vereistes om hulle te oortuig dat jou idee moontlik ’n kommersiële sukses kan wees. Jou sakeplan sal waarskynlik ook met soortgelyke planne vir dieselfde hulpbronne meeding, daarom is ’n professionele benadering die enigste manier om suksesvol mee te ding.
’n Goeie sakeplan sal ten minste die volgende insluit:
- Inleiding
- Beskrywing van besigheid (oorsig van bedryf, produkte, produksieprosesse)
- Die mark (kompetisie, grootte, kliënte, markneigings)
- Finansies (inkomstestaat, uitgawes, kontantvloeistaat)
- Ondersteunende dokumentasie (bemarkingsplanne, ens.)
Dit sal tot jou voordeel wees as jou projeksies realisties is, want die mense wat jou sakeplan sal ontleed, is bedrewe in die identifisering van onrealistiese voorleggings. Selfs al benodig jy nie die hulp van enige ander persoon of instelling nie, is dit steeds raadsaam om so ’n plan op te stel. Hierdie oefening dwing jou om die hele idee strategies te benader en al die opsies te oorweeg voordat jy iets probeer wat nie haalbaar is nie.
Daar is baie goeie sagteware beskikbaar wat jou kan help om ’n sakeplan op te stel. Die voordeel van hierdie programme is dat invoerwaardes voortdurend aangepas kan word om verskillende scenario’s in ag te neem. OIP kan personeel en studente aan die Universiteit Stellenbosch help om sakeplanne op te stel. Die (voormalige) SBDC het ook riglyne saamgestel vir die opstel van sakeplanne.