Skip to main content

Omwenteling in die beheer van haaie

z

Omwenteling in die beheer van haaie

Die SharkSafe Barrier TM kombineer bionabootsing van 'n digte kelpwoud met magnetiese velde om mense teen haaie te beskerm sonder om die haaie of enige ander groot mariene spesies skade aan te doen. Bionabootsing is die praktyk waar strategieë wat in die natuur gevind word, nageboots word om menslike uitdagings op te los.

Die natuur-geïnspireerde SharkSafe Barrier TM-tegnologie wat oor ’n tydperk van 15 jaar ontwikkel is, is tans die enigste omgewingsvriendelike alternatief vir haainette. Haainette, wat ook “mure van die dood” genoem word, is sedert 1950 in gebruik. Dit keer egter nie net haaie nie, maar maak elke jaar duisende onskadelike haaie, walvisse, dolfyne, seeskilpaaie en groot visse dood. Volgens nuwe data wat deur die regering van Nieu-Suid-Wallis gepubliseer is, was byna 90% van die seediere wat die afgelope jaar in haainette langs hierdie Australiese staat se kus gevang is, nie die geteikende spesies nie.

Dr Sara Andreotti, buitengewone dosent in mariene biologie aan die US en ’n stigtersdirekteur van SharkSafe Barrier TM, sê die kelpagtige woud wat deur hul versperringstegnologie geskep word, is ontwerp om vir ten minste 20 jaar in die water te bly met minimale onderhoud. Uiteindelik verander dit in ’n rifagtige hawe vir plaaslike seelewe.

Die versperring is breedvoerig in Suid-Afrikaanse kuswaters getoets – van die ruwe, rotsagtige oewers van Gansbaai tot die sandstrande van Glencairn – sowel as in die tropiese waters van Réunion en die Bahamas. Die SharkSafe Barrier TM in die Bahamas is die eerste kommersiële installasie van hierdie tegnologie. Andreotti werk nou saam met kusmunisipaliteite in Suid-Afrika om alternatiewe befondsingsmeganismes vir plaaslike installasie te ontwikkel, sowel as met munisipale owerhede in Australië en Nieu-Kaledonië.