Skip to main content

Navorsing toon dat die aanspreek van die bioplastiek-besoedelingsdilemma omgewings- en kommersiële voordele inhou

z

Navorsing toon dat die aanspreek van die bioplastiek-besoedelingsdilemma omgewings- en kommersiële voordele inhou

Mikrobioloog Wessel Myburgh het “grootgeword” as 'n wetenskaplike en entrepreneur gedurende sy tyd as lid van die Senior Leerstoel vir Energienavorsing (CoER): Biobrandstowwe en Ander Alternatiewe Skoon Brandstowwe.

Myburgh, medestigter van Urobo Biotech, gebruik sy kennis van hoe gis en ensieme plantgebaseerde afval effektief in nuwe produkte afbreek om die toestand van die planeet wat hy so liefhet te verbeter. Hy doen dit deur die toenemende probleem van wat met gebruikte bioplastiek gebeur, aan te spreek.

Bioplastiek sluit enige plastiekmateriaal in wat biogebaseerd, bioafbreekbaar of beide is. Party soorte bioplastiek word slegs van plantmateriaal gemaak, maar ander het steeds fossielbronne as kernbestanddele, net soos konvensionele plastiek.

“As hulle bioafbreekbaar is, word sommige materiale wat fossielbronne bevat steeds as bioplastiek beskou,” verduidelik Myburgh.

Hy waarsku dat dit eendimensioneel is om aan te neem dat produkte wat van bioplastiek gemaak word noodwendig beter vir die omgewing is, aangesien die verwagte toename in die gebruik van sulke plastiek oor die volgende 25 jaar met sy eie stel probleme sal kom.

“Sulke produkte bied nie ’n klinkklare oplossing vir ons plastiekbesoedelingsprobleem nie. Dit neem ook jare om te ontbind sodra dit weggegooi word, en stel verder koolstofdioksied in die atmosfeer vry. Hoe meer ons bioplastiek produseer en gebruik, hoe meer daarvan beland in die omgewing.”

Op Urobo Biotech se LinkedIn-profiel word daar gesê : “Bioplastiek kan ’n meer volhoubare opsie as tradisionele plastiek wees, maar slegs wanneer die afval daarvan gepas verwerk en herwin word.”

“Hierdie keer het ons egter die voordeel dat ons leer uit die foute wat gemaak is toe konvensionele plastiek bekendgestel is,” verduidelik Myburgh, wat bekend is vir sy pogings om volhoubaar te leef.