Translational Fellow Programme
Universiteite gee die pas aan vir die ontwikkeling innovering en talent in Suid-Afrika. Die Universiteit Stellenbosch (US) het die Translational Fellow Programme (TFP) gestig om hierdie talentpoel, wat voortspruit uit wêreldklasnavorsing by die universiteit, te benut om onlangs-gegradueerdes te bemagtig om entrepreneurs te word terwyl navorsingsuitsette in innoverende nuwe besighede omskep word.
- onlangs-gegradueerdes in staat te stel om ’n entrepreneuriese loopbaan te volg terwyl hulle entrepreneuriese, tegnologie-oordrag- en kommersialiseringsvaardighede ontwikkel.
- die wêreldklasnavorsing wat by die US gedoen word te omskep in innoverende produkte en dienste wat ’n positiewe impak op die samelewing het.
Suksesvolle kommersialisering van die innoverings wat voortspruit uit navorsing by universiteite vereis gewoonlik verdere ontwikkeling om ’n kommersiële sakeplan daar te stel. Die sakeplan is die sleutel om toegang te verkry tot beleggings en markte. In ons ervaring is voortgesette betrokkenheid van die onlangs-gegradueerde wat ’n belangrike rol in die navorsing gespeel het die mees effektiewe manier om ’n sakeplan te ontwikkel. Hierdie benadering bou voort op die bestaande momentum van die gegradueerde en verseker dat sy/haar kundigheid nie verlore gaan in die kommersialiseringsproses nie. Dikwels wil die gegradueerde betrokke bly by die kommersialisering, maar finansiële beperkings dwing hom/haar om die arbeidsmark te betree en ’n salaris te begin verdien. ’n Gebrek aan sake- en entrepreneursvaardighede dra dikwels by tot die besluit om die sekuriteit van ’n permanente werk te soek.
Die US-ekosisteem het al die bestanddele wat nodig is vir die vestiging van suksesvolle tegnologie- en wetenskapgebaseerde maatskappye. Eerstens is die gehalte en vernuwende aard van navorsing ’n konstante bron van potensiële innovering. Tweedens lewer die navorsing nie net innoverings nie, maar ook hoogsgeskoolde graduandi. Derdens het die US se tegnologie-oordragspan by Innovus wêreldklaskennis ten opsigte van die kommersialisering van universiteitsnavorsing. Laastens word US-afwentelmaatskappye geïnkubeer by die US LaunchLab wat erken word as een van die top-inkubators in Afrika.
Hierbenewens is die US TFP belyn met die universiteit se Visie 2040 en spreek dit direk tot die strategiese temas van ’n transformatiewe studentervaring, navorsing vir impak, en ’n florerende US.
Om onlangs-gegradueerdes in staat te stel om hul entrepreneuriese reis te begin, bied die SU TFP die volgende ondersteuning:
- ’n Toelaag van tot R325 000 vir ’n tydperk van een jaar om lewenskoste te dek. Hierdie toelaag verseker dat die gegradueerde sy/haar entrepreneuriese reis kan voortsit en nie weens finansiële beperkings op die arbeidsmark verlore gaan nie.
- Kommersialiseringsondersteuning van Innovus. Dié ondersteuning sluit in markvalidasie, die ontwikkeling van ’n sakeplan, kommersialiseringstrategie, en die identifisering en verkryging van befondsing.
- Die beskerming van en toegang tot die Intellektuele Eiendom (IE) wat deur die navorsing geskep is.
- Inkubasie by die US LaunchLab, insluitend mentorskap, entrepreneuriese ontwikkeling en ondersteuning vir besigheidsontwikkeling.
Nagraadse studente wat die einde van hul studies nader, kan op die uitkyk wees vir die jaarlikse oopstel van aansoeke deur die TFP.
Die US TFP word befonds uit die universiteit se strategiese fonds. Vir die tydperk 2021-2023 kon die program twee genote per jaar uit hierdie begroting befonds. Die aanvraag om aan die program deel te neem oorskry verreweg die twee beskikbare genootskappe. In 2021 is 11 aansoeke ontvang.
Organisasies en individue wat ons oortuiging deel dat ons meer entrepreneurs moet bemagtig, meer werksgeleenthede moet skep en die innovering van staatsbefondsde navorsing in die land moet benut om ’n florerende Suid-Afrika te skep, word genooi om vennote en medebefondsers van die US TFP te word.
Belangstellendes kan die TFP-bestuurder, mev. Nolene Singh, per e-pos kontak by [email protected].