Die Kamer van Mynwese-gebou by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Aardwetenskap het met opwinding gegons toe studente, akademici en bedryfsafgevaardigdes onlangs daar bymekaargekom het vir die bekendstelling van 'n kragtige nuwe wetenskaplike instrument – een wat belowe om navorsing oor die fisiese en aardwetenskappe te transformeer.
US vier installasie van gevorderde instrument, lui nuwe era vir isotoopwetenskap in
- Hipermoderne navorsingstegnologie plaas US aan die voorpunt van hoë-presisie isotoopontleding in Afrika.
- Die nuwe instrument sal geleenthede vir Suid-Afrikaanse studente en navorsers skep om sleutelvaardighede in analitiese wetenskap te bekom.
- Universiteits- en bedryfsleiers het die installasie as 'n mylpaal beskou wat deure open vir navorsing en samewerking van wêreldgehalte.
Die Kamer van Mynwese-gebou by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Aardwetenskap het met opwinding gegons toe studente, akademici en bedryfsafgevaardigdes onlangs daar bymekaargekom het vir die bekendstelling van 'n kragtige nuwe wetenskaplike instrument – een wat belowe om navorsing oor die fisiese en aardwetenskappe te transformeer.
Met die seremoniële onthulling van die Neoma Multikollektor, Induktiefgekoppelde Plasma, Massaspektrometer (Neoma Multi-Collector, Inductively Coupled Plasma, Mass Spectrometer – MC-ICP-MS), 'n gevorderde instrument wat deel is van die BIOGRIP-node vir grond- en waterontleding en in die Elementêre en Isotoopanalise-laboratorium gehuisves word, het die Universiteit hom formeel by vooraanstaande wêreldwye navorsingsinstellings in hoëpresisie-isotoopontleding aangesluit.
"Isotope vertel stories wat van die geboorte van die heelal tot die toekoms van ons planeet strek," het prof Gary Stevens, Direkteur: Sentrale Analitiese Fasiliteite by die US, verduidelik toe hy die geleentheid geopen het. "Hulle verbind ons met die grootste vrae in die wetenskap, van die begrip van die evolusie van ons landskappe tot die verkenning van die prosesse wat minerale, waterstelsels en die atmosfeer vorm."
Volgens Stevens stel die MC-ICP-MS navorsers in wese in staat om "diep binne-in" rotse, water en biologiese monsters te kyk – wat help om prosesse soos besoedeling, mineraalvorming of antieke klimaatsverandering na te speur met 'n vlak van detail wat nie voorheen in Afrika haalbaar was nie.
Analitiese tegnologie van wêreldgehalte
Ander sprekers het die verreikende impak van die nuwe MC-ICP-MS, die eerste van sy soort in Afrika, verduidelik en beklemtoon dat die verkryging moontlik gemaak is danksy die ondersteuning van die Biogeochemie-navorsingsinfrastruktuurplatform (BIOGRIP), 'n nasionale navorsingsinisiatief. BIOGRIP word deur die Departement van Wetenskap en Innovasie gefinansier en fokus op die bevordering van die studie van hoe biologiese, geologiese en chemiese prosesse op mekaar inwerk om die omgewing te vorm.
Die direkteur van BIOGRIP, dr Roger Diamond, het uitgebrei oor die platform se doelwit om analitiese fasiliteite van wêreldgehalte te bou, tegniese kapasiteit te ontwikkel en wetenskaplike leierskap te bied.
"'n Platform soos BIOGRIP wys hoe medewerking ons in staat stel om toegang tot nuwe infrastruktuur te kry wat ons normaalweg nie alleen sou kon bekom nie," het prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, gesê. "Ons is danksy voortgesette beleggings van wetenskapsrade, universiteite en die bedryf op die regte pad om ons Universiteit op die vasteland en wêreldwyd aan die voorpunt van wetenskaplike navorsing te posisioneer," het Moyo gesê.
Die MC-ICP-MS is beskryf as 'n spelwisselaar vir die meting van isotope in geologiese, omgewings- en selfs argeologiese materiale. Die massaspektrometer se vermoë om verskeie isotope gelyktydig met ongekende akkuraatheid te ontleed, sal wetenskaplikes in staat stel om nuwe kennis nie net oor die geologie van Afrika nie, maar oor die gedeelde geskiedenis van die Aarde as planeet te ontsluit.
"Om hierdie toerusting te hê, verseker dat die navorsing wat ons oplewer internasionaal mededingend is. Wat nog belangriker is, is dat dit aan ons nagraadse genote, ontluikende navorsers en medewerkers regoor Afrika toegang tot tegnologie bied wat gewoonlik buite hulle bereik is," het Moyo gesê. "Ons het reeds groot belangstelling van buurlande in ons opleidingskursusse en werksessies gesien."
Bou op vennootskappe
Medewerking was 'n herhalende tema, met verskeie sprekers wat erkenning aan die konstellasie van individue en organisasies gegee het wat nodig was om die projek tot uitvoering te bring. Diamond het die US se prestasie binne 'n globale konteks geplaas en opgemerk dat moderne navorsingsinfrastrukture van langtermynbeplanning, uitgebreide hulpbronne en 'n gees van samewerking afhanklik is.
"Laboratoriums wat internasionaal meeding, vereis meer as net toerusting – hulle het visionêre denke, kundige personeel en die gesamentlike wil nodig om grense te verskuif," het Diamond gesê. "Hierdie bekendstelling toon wat moontlik is wanneer die regering, universiteite en die bedryf met 'n gemeenskaplike doel saamwerk."
Verskeie medewerkers is opreg bedank by die bekendstellingsgeleentheid: Riana Rossouw, die bestuurder van die Elementêre en Isotoopanalise-laboratorium en die Departement van Aardwetenskappe se Prof Cristiano Lana vir hulle visie en toewyding aan die bevordering van geochemiese navorsing; en David Visser van Anatech en Daniele Recenti van Thermo Scientific vir hulle tegniese ondersteuning in die installasie en inwerkingstelling van die nuwe tegnologie.
Lana het die gehoor geboei met sy gedetailleerde demonstrasie van die werking en funksionaliteite van die MC-ICP-MS. Hy het verduidelik dat die instrument se buitengewone sensitiwiteit navorsers in staat stel om alles te ontleed – van die chemiese samestelling van oeroue rotse tot die struktuur van dinosourus-eiers. Die tegnologie kan die stories wat in fossiele versteek is, ontbloot, soos om die ouderdom van dinosourus-eierdoppe te bepaal en hulle chemiese samestelling te ondersoek, wat leidrade oor prehistoriese omgewings en die lewe wat eens hier gedy het, openbaar, het hy gesê. Lana het ook beskryf hoe die instrument reeds vir baanbrekerswerk in geochronologie gebruik word om te help om die ingewikkelde geskiedenis van minerale en die evolusie van die aardkors te verstaan.
Bedryfsleiers het ook op de breër betekenis van die instrument gewys. Met meer akkurate data kan mynbou- en omgewingsektore by baanbrekeroplossings en volhoubare praktyke baat vind. Vennootskappe tussen die Universiteit en die bedryf wat deur gedeelde toegang tot hierdie fasiliteit bevorder word, is nou gereed om uit te brei.
- Kyk na 'n video oor die baanbrekersmetode wat 'n span wetenskaplikes by die US ontwikkel het om die ouderdom van gefossileerde dinosourus-eiers met behulp van die MC-ICP-MS te bepaal.