Skip to main content
Group of people CDR
Image by: Skyla Thornton

Van die deelnemers aan die werkswinkel by STIAS in September 2025. Foto: Skyla Thornton

Bewaring en bosbou

US help SA voorberei op koolstofverwydering om aardverwarming te bekamp

Desmond Thompson
Freelance Journalist
12 Desember 2025
  • Die Universiteit Stellenbosch het na vore getree om een van die mees betwiste, maar noodsaaklike gebiede van die respons tot aardverwarming te lei – koolstofdioksiedverwydering.
  • ʼn Eerste nasionale werkswinkel om Suid-Afrika hierop voor te berei, het by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) plaasgevind.

COP30 in Brasilië is dalk nou geskiedenis, maar klimaataksie is dringender as ooit. Dit is in dié kritieke konteks dat die Universiteit Stellenbosch (US) na vore getree het om een van die mees betwiste, maar noodsaaklike gebiede van die respons tot aardverwarming te lei – koolstofdioksiedverwydering (afgekort met CDR in Engels).

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het verlede maand gewaarsku dat die versuim om verwarming te beperk “dodelike nalatigheid” is. Lande besef toenemend dat die vrystelling van kweekhuisgasse nie vinnig genoeg ingeperk word nie, en wend hulle nou toenemend tot CDR – ʼn benaderings wat CO₂ aktief uit die atmosfeer verwyder en dit op land, ondergronds of in die see stoor.

ʼn Eerste nasionale werkswinkel om Suid-Afrika hierop voor te berei, het in September by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) plaasgevind. Toonaangewende navorsers, beleidmakers en wêreldkenners het byeengekom om te praat oor die bewysgebaseerde grondslag wat benodig word vir verantwoordelike koolstofverwydering.

Die geleentheid is aangebied deur die US se Skool vir Klimaatstudies (SCS), in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand, die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk, die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE), en die Presidensiële Klimaatkommissie.

Dit was die begin van ʼn proses om te verseker dat Suid-Afrika sy eie raamwerke ontwikkel vir die evaluering van CDR-opsies – voordat globale druk en die privaatsektor die voorwaardes bepaal.

Wetenskaplike grondslag

Die werkswinkel het voortgebou op ʼn artikel in die South African Journal of Science in 2023 deur die US se proff Pedro Monteiro en Guy Midgley. Hierin vra hulle vir ʼn nasionale vennootskap tussen wetenskaplikes en beleidmakers om rigting te gee aan Suid-Afrika se benadering tot CDR. Hulle waarsku dat kommersiële belangstelling in CDR baie vinniger versnel as die wetenskap daaroor of regulasies om dit te beheer.

Monteiro, voormalige hoofskrywer van die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) se Sesde Assesseringsverslag (AR6), lei nou CDR-navorsing by die US. En Midgley, die stigtersdirekteur van die SCS, word internasionaal erken as een van die wêreld se invloedrykste kundiges oor klimaatsverandering.

In sy openingsrede by die werkswinkel het Monteiro gewaarsku dat CDR reeds groot beleggings lok van tegnologiemaatskappye wat wil opmaak vir hul vrystelling van CO₂. Sonder duidelike wetenskaplike standaarde en goeie regulering, het hy gesê, loop die veld die risiko om ʼn “Wilde Weste” te word.

“Openbare vertroue is noodsaaklik. CDR kan slegs slaag as dit deursigtig en wetenskaplik is, en gepaard gaan met minder uitlaatgasse,” het hy gesê.

Hoewel CDR in die toekoms dalk 10% van die globale reis na netto-nul sal kan bydra, sal dit slegs betekenisvol wees as dit gepaard gaan met diep, volgehoue verminderings in fossielbrandstofvrystellings. As uitlaatgasse nie terselfdertyd met ongeveer 90% verminder word nie, “sal niks ons red nie,” het prof David Ho van die Universiteit van Hawai'i in Mānoa via ʼn regstreekse videoskakel gesê.

Land, see en ‘verkeerde dinge’

Die werkswinkel het gefokus op die ekologiese werklikhede wat in ag geneem word om te verseker verantwoordelike CDR-opsies word benut.

Midgley het uitgelig dat ongeveer 90% van Suid-Afrika se terrestriële biologiese koolstof ondergronds in grond gestoor word, met grasvelde – nie woude nie – as die grootste deel hiervan. Die plant van bome in brand-aangepaste ekosisteme, het hy gewaarsku, kan hierdie grondkoolstofreserwes uitput en selfs plaaslike temperature verhoog.

“Ons moenie verkeerde dinge om die regte redes te doen,” het hy gesê.

Daar is insgelyks krities na see-opsies gekyk. In ʼn videoopname het prof Catriona Hurd van die Universiteit van Tasmanië gewaarsku dat grootskaalse “oseaanbebossing” met behulp van seewier wat vrylik ronddryf nie wetenskaplik is nie, en beduidende ekologiese risiko's inhou. Die kweek van seewier aan die kus hou wel voordele in, maar pogings om dit na die oopsee op te skaal, ignoreer fundamentele oseanografie en plantfisiologie.

Ander internasionale kenners het gewaarsku dat talle CDR-tegnologieë nog nie netto negatief is as alle energie- en materiaalinsette ingesluit word nie – wat die behoefte aan robuuste monitering, verslagdoening en verifikasie voor enige ontplooiing versterk.

Snel, maar wys

ʼn Herhalende tema was dat Suid-Afrika nie moet toelaat dat entoesiasme vir nuwe tegnologieë regulering oorskadu nie. Met groeiende belangstelling van die privaatsektor in die koolstofmark en -verrekening, is duidelike nasionale beginsels en koördinering noodsaaklik.

Dr Brian Mantlana, die hoof van klimaatsverandering by die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing, het die belangrikheid van ʼn gedeelde nasionale visie beklemtoon. 

“Ons sien die volgende paar jaar as krities. Wetenskaplikes, die bedryf en die staat moet koppe bymekaarsit,” het hy gesê.

Barney Kgope, Direkteur van Biodiversiteitsrisikobestuur by die DFFE en Suid-Afrika se hoofonderhandelaar by die VN-Konvensie oor Biologiese Diversiteit, het opgemerk dat private belang vinnig toeneem. 

“Ons moet versigtig te werk gaan,” het hy gewaarsku. “Ons het duidelike beginsels nodig, én moet konteks en leiding aan politieke besluitnemers gee.”

Monteiro het bygevoeg dat ʼn langtermynverbintenis en befondsing wat dekades lank voortduur benodig sal word vir navorsing, monitering en beleidsbelyning. “Beleidskepping moet kennis neem van wetenskaplike dente, en die wetenskap benodig beleid om by finansierders in te tree,” het hy gesê.

Nuwe vaardighede 

Die werkswinkel het beklemtoon dat CDR ʼn nuwe generasie navorsers sal vereis wat in staat is om oor dissiplines heen te werk – van biodiversiteit en oseanografie tot ingenieurswese, modellering en datawetenskap. Suid-Afrika se kombinasie van Suidelike Oseaan-observatoria, kundigheid oor terrestriële biodiversiteit en langtermyn-moniteringsnetwerke gee die land ʼn sterk basis om van te bou.

Die SCS doen sy deel om kapasiteit te versterk. In Januarie 2026 sal die Skool nuwe MPhil- en Nagraadse Diploma-programme in Klimaatsrisiko en Rampvermindering van stapel stuur, wat sal bydra tot sy bestaande interdissiplinêre netwerke in atmosferiese wetenskap, hidrologie, data-analise en beleidstudies.

“Ons benodig gegradueerdes wat nie net klimaatwetenskap verstaan nie, maar ook daarop kan reageer – in die staatsdiens, sakesektor en gemeenskappe namate ons aanpas by ʼn veranderende klimaat,” het Midgley gesê.

Gekoördineerd vorentoe

Teen die einde van die werkswinkel het deelnemers verskeie stappe geïdentifiseer om Suid-Afrika se benadering tot CDR te rig. Dit sluit in die stigting van ʼn nasionale werkgroep, die saamstel van ʼn gesamentlike wetenskaplike artikel, ʼn beleidskontrolelys, en ʼn nasionale konferensie in 2026. Die integrasie van CDR-oorwegings in Suid-Afrika se nasionale strategieë vir klimaatsverandering en biodiversiteit sal ook van kritieke belang wees.

Monteiro het die werk wat voorlê beskryf as ʼn “langtermynprojek vir ons agterkleinkinders”. 

Die fondamente – wetenskaplik, institusioneel en opvoedkundig – word nou gelê. As Suid-Afrika vinnig en eendragtig hierop voortbou, kan die land ʼn voorbeeld stel van hoe klimaatoplossings nagestreef kan word sonder om die nasionale belang te na te kom.

ONDERSKRIF:

Van die deelnemers aan die werkswinkel by STIAS in September 2025. Foto: Skyla Thornton

* Bykomende verslaggewing deur Skyla Thornton, media-assistent by die US se Skool vir Klimaatstudies.

* Desmond Thompson is ʼn vryskutjoernalis.

Merkers

Afrika

Verwante stories