Leon Visser (64) is een van 21 vrywilligers wat op die bergpieke van Boosmansbos afgelaai is, om oor drie dae 16 276 indringerdenne teen die hange uit te kap.
Matie onder ‘helikappers’ wat rekordgetal indringerdenne verwyder
- Matie onder ‘helikappers’ wat rekordgetal indringerdenne verwyder.
- Leon Visser (64) is een van 21 vrywilligers wat op die bergpieke van Boosmansbos afgelaai is, om oor drie dae 16 276 indringerdenne teen die hange uit te kap.
- Die Boosmansbos-wildernisgebied, ’n beskermde wêrelderfenisterrein en belangrike strategiese waterbron, is deurslaggewend vir watersekerheid in die streek.
’n Matie-alumnus help voer die stryd teen indringerplante tot nuwe hoogtes. Leon Visser (64) was in November 2025 deel van ’n inisiatief waarin vrywilligers met ’n helikopter in die byna onbegaanbare Boosmansbos-wildernisgebied naby Barrydale in die Wes-Kaap laat sak is om indringerdennebome uit te kap.
Die operasie, wat deur Helihack, ’n organisasie sonder winsoogmerk, uitgevoer is, was die suksesvolste tot nog toe en het ’n nuwe rekord opgestel vir die getal denneverwyderings sowel as die oppervlakte wat gedek is. Danksy ’n memorandum van ooreenkoms met CapeNature, brei Helihack tans die reikwydte van sy werk uit.
As een van 21 vrywilligers wat op die bergpieke van Boosmansbos afgelaai is, het Visser en die res van die span oor drie dae 16 276 indringerdenne teen die hange uitgekap. Die gebied beslaan sowat 2 500 ha.
Visser is ’n boomkenner van Stellenbosch, en avontuur is sy kos. Hy het ’n BSc in Bosbou in 1984 en ’n BScHons in Bosbou in 1988 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Dié kranige boomklimmer het nie net al van die hoogste bome op Stellenbosch – waaronder die hoogste boom in die Boland – uitgeklim nie, maar het ook die hoogste aangeplante boom, wat in Magoebaskloof staan, uitgeklouter en gemeet.
“Om drie-drie honderde meter in die lug aan ’n tou te hang is op sigself opwindend, maar jy kry boonop die kans om die natuur van bo af te bekyk,” sê Visser. “As jy daarvan hou om met ’n kettingsaag te werk, die berge geniet, nie vir harde werk skrik nie, en dan ook nog die geleentheid kry om uit ’n tjopper in die ongerepte berge af te sak, hoekom nie?” Hy voeg by: “Maar bowenal is dit fantasties om deel te wees van ’n inisiatief waardeur ons ’n aansienlike verskil maak om die verspreiding van ongewenste bome in ons opvanggebiede en op ons bergpieke teen te werk.”
Voorbereiding en die regte toerusting is uiters belangrik, waarsku hy, veral aangesien hulle ook in die berge oornag het. Hoewel hy meestal sy eie toerusting gebruik, stel organisasies soos CapeNature, die dryfkrag agter die projek, ook finansiering beskikbaar om te sorg dat vrywilligers behoorlik toegerus is. “Op die berg kan die weer in ’n japtrap verander, en jy moet voorbereid wees om net daar in ’n ‘bivi’ [bivouac-tent] te oornag. Goeie, stewige skoene of stewels, ’n geskikte rugsak, ’n klimhelm, harnas, oogbeskerming en kos en water vir 12 tot 24 uur is alles ononderhandelbaar,” verduidelik Visser. “Vrywilligers het onder andere ook sonbeskerming, helder klere wat uit die lug sigbaar is, kopligte, ’n noodhulpkis, handskoene, ’n meerdoelmes, ’n GPS-toestel of kompas, en koorde en karabynhake waaraan kettingsae en brandstofbottels kan hang.”
Waarom indringerplante moet waai
Die Boosmansbos-wildernisgebied, ’n beskermde wêrelderfenisterrein en belangrike strategiese waterbron, is deurslaggewend vir watersekerheid in die streek. Die opvanggebied dien as toevoer vir die Duivenhoksdam en voorsien sowat 15 000 inwoners in die omgewing van water.
Die hoofbedreiging in die gebied is die aanwesigheid van watergulsige uitheemse indringerplante, veral dennebome, wat aansienlik meer water as die inheemse fynbos verbruik. Die indringerplante is ‘waterdiewe’ in wat eintlik ’n waterskaars streek is, en dreineer ’n wateropvanggebied wat veronderstel is om die ekosisteme waarop ons almal staatmaak te onderhou.
Helihack wil hierdie noodsaaklike ekosisteemdienste beskerm en toekomstige wateroorlewing te midde van klimaatsverandering verseker. Volgens CapeNature bou hierdie jongste operasie voort op drie jaar se werk in Boosmansbos, waar Helihack reeds altesaam 43 189 dennebome verwyder en 6 380 ha herstel het, en sodoende gesorg het dat 40% van Boosmansbos nou indringerplantvry is. Die huidige drie jaar lange vennootskap tussen CapeNature en Helihack is in 2024 amptelik gemaak ná suksesvolle proewe in onderskeidelik April 2023 en April 2024.
Die vennootskap verseker dat die Helihack-strategie voortgesit word in Boosmansbos, met verdere uitbreiding na vier ander CapeNature-reservate. Dít weerspieël ’n sterk verbintenis tot die bewaring van die Wes-Kaap se biodiversiteit en die beskerming van noodsaaklike waterhulpbronne vir gemeenskappe én die natuur.
Vrywilligerwerk het sy vereistes
Deelname is nie vir almal nie, sê Visser. “Trouens, dit kan baie gevaarlik wees, en veiligheid kom altyd eerste. Afgesien van die fisiese uitdaging om rond te beweeg op ’n steil en ruwe bergterrein wat blootgestel is aan die elemente, moet jy ook vaardig wees met touwerk, soos die veilige gebruik van statiese toue en eenvoudige takelwerk,” sê hy. “Jy moet ook die grondbeginsels van kettingsaagveiligheid verstaan en verantwoordelik optree rondom aktiewe kapsones. Ons is immers daar om bome uit te kap, so jy moet ’n basiese kennis hê van boomkappery, onder andere om die oorhelling van ’n boom, ontsnaproetes en veilige saagposisies te bepaal.” Daarbenewens moet deelnemers vertroud wees met basiese helikopterprosedures, -moets en -moenies.
Bronne:
CapeNature en die Mapula Trust