Skip to main content
A photo of SU students who are volunteer firefighters.
Image by: Stefan Els and supplied by VWS

Dario Consani, Liam Proctor, Zach Ambrose en Kate Cotterell is deel van ‘n groep toegewyde Maties wat in hul vrye tyd brande help bestry.

Persverklaring Bewaring en bosbou Impak

US se 'bergbokke' skrik nie vir vlamme nie

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
25 Februarie 2026
  • 'n Groep van 13 US-studente handhaaf 'n fyn balans tussen hul veeleisende studies en frontliniereaksie op veldbrande.
  • Vrywillige veldbranddiens-spanne moet in die ontoeganklikste terrein brande met die hand bestry.
  • Van fyn balanseertoertjies tussen akademiese werk tot om vlammemure van so hoog as tien meter in die gesig te staar, herdefinieer hierdie Maties diens.

Terwyl baie studente gedurende lesings na hulle fone loer om boodskappe of kuierplanne na te gaan, monitor 'n klein groepie vrywilligers van die Universiteit Stellenbosch (SU) hulle fone om 'n ander rede. Wanneer die alarmsein deurkom, het hulle 'n paar minute om te besluit – bly in die klas of slaan koers in na 'n brandlyn êrens in die Wes-Kaap. 

"Wanneer daar 'n noodgeval is, hardloop ons soontoe. Ons volg die sirenes," sê Liam Proctor, 'n BSc Menslike Lewenswetenskappe-student wat hoop om geneeskunde te studeer. 

Proctor is een van 'n merkwaardige groep Maties wat as brandweermanne by die vrywillige organisasie Volunteer Wildfire Services (VWS) diens doen. Die VWS is die grootste vrywillige brandbestrydingsorganisasie in Suid-Afrika. Met ongeveer 350 lede oor vier basisse versprei – Stellenbosch, Helderberg, Nuweland en die Suidelike Skiereiland – ontplooi die VWS spanne regoor die provinsie. 

Elke winter ondergaan vrywilligers verpligte jaarlikse heropleiding, wat fisiese, praktiese en teoretiese assesserings insluit. Sodra hulle kwalifiseer, word daar van hulle verwag om gereeld naweke op bystand te wees en te eniger tyd vir ontplooiing beskikbaar te wees. 

Wanneer die meeste mense van die brand probeer wegkom, pak hierdie 13 studente, wat alom as die "bergbokke” bekend staan," met 10 kilogram toerusting op hulle skouers die bergagtige terrein te voet aan om met die moeisame werk te begin om die vlamme met handgereedskap te blus. Geklee in hulle kenmerkende geel en blou uniforms en beskermende toerusting offer hulle ontelbare ure op om van die mees verwoestende brande wat die Wes-Kaap in onlangse jare ervaar het, in die frontlinie te bestry. 

Vlammemure en splitsekonde-besluite

Dario Consani, 'n derdejaar-BA Sportwetenskapstudent met geografiese omgewingsstudie as 'n tweede hoofvak, is aan die VWS bekendgestel toe die organisasie gedurende die US se Verwelkomingsweek 'n stalletjie op kampus gehad het. "Ek het gedink dit is iets avontuurlik om by betrokke te raak. Ek is regtig bly ek het aangesluit," sê hy met 'n groot glimlag. 

Hy erken hy is "ietwat van 'n adrenalienverslaafde", maar die werk verg baie meer as net opwinding. Die VWS spesialiseer in brande wat nie deur voertuie bereik kan word nie. Spanne stap ure lank na ontoeganklike pieke. "Jy het fisiese en geestelike dryfkrag nodig om brande vir meer as 12 uur op 'n slag te kan bestry," verduidelik Consani. Hy doen vyf keer per week kardiovaskulêre en kragoefening om fiks te bly. Brandbestryding is meedoënlose werk, sê hy, maar voeg vinnig by daar is niks wat by die energiegolf kan kersvashou as jy die onbekende betree nie. "Jy weet nooit wat op jou wag nie." 

Volgens Consani het hy in November verlede jaar by Bredasdorp sy vreesaanjaendste oomblik ooit beleef. Die dorp is deur 'n brand omring en hy was lid van 'n span brandweermanne wat met 'n vierwielspoor langs na die brand toe gestap het. "Dit was letterlik 'n tien-meter muur van vlamme vir kilometers," onthou hy. Die stralende hitte was te intens om naby te kom. Sommige toerusting het begin smelt. In die donker was daar geen helikopters vir ondersteuning nie. "Dit was vreesaanjaend om daar te staan en te kyk hoe hierdie vlammemuur na jou toe aankom. Jy voel baie kwesbaar," sê hy. 

Zach Ambrose, 'n derdejaarstudent in meganiese ingenieurswese, beskryf 'n soortgelyke toneel in Elgin verlede Februarie. 'n Teenbrand het onverwags geskuif. "Sonder om dit te besef, het ons basies in die vuur ingery," sê hy. Ervare spanleiers het die situasie gered. "As ons nog 30 sekondes langer daar gebly het, sou die vuur ons net heeltemal ingesluk het."

Ambrose, wat van Pretoria afkomstig is, droom reeds sedert vyfjarige ouderdom daarvan om 'n brandweerman te word. Hy het gekies om by die US te studeer, deels omdat hy geweet het hy kan by die VWS aansluit. "Dit was 'n groot deel van my motivering," sê hy met 'n glimlag. "Moet net nie vir my ma sê nie!"

Balanseertoertjie tussen ingenieurswese en brandbestryding

Kate Cotterell, 'n derdejaarstudent in elektriese en elektroniese ingenieurswese, se belangstelling in brandbestryding het al in graad 7 begin toe haar onderwyser se man, 'n strukturele brandweerman, haar klas besoek het. Jare later het 'n vriend by die VWS-basis in Nuweland stories oor ontplooiings vertel wat haar finaal laat besluit het. "Ek was gretig om ná my 18de verjaardag aan te sluit," sê sy. "Ek het besluit dit sou geriefliker wees om by die Universiteit Stellenbosch aan te sluit."

Gerief het geblyk om relatief te wees. Die brandseisoen respekteer nie akademiese roosters nie. "Ek het nie besef hoeveel tyd brandbestryding in beslag neem nie," erken Cotterell. "Ons is baie keer op baie ongeleë tye na veldbrande uitgeroep, soos op dae wanneer ek assesserings gehad het." In haar eerste jaar het opleidingsverpligtinge soms met universiteitstoetse en -eksamens gebots. Sy was ook by lewensredding betrokke. Diensbeurte het gebots. "Ek het dit baie moeilik gevind om brandbestryding, ingenieurswese, lewensredding en talle ander aktiwiteite te balanseer."

Tog is sy geensins spyt nie. "My eerste brand was 'n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie," sê sy. "Dit is so lonend. Ek het nou 'n baie groter waardering vir alle brandbestryders en almal wat betrokke is omdat ek nou weet hoe uitputtend hulle werk is." Nadat sy haar graad voltooi het, hoop sy om as helikoptervlieënier te kwalifiseer en voort te gaan met brandbestryding "vanuit die lug".

Die bergbokke klim hoog 

Wanneer stadsbrandbestryders huise en plase met behulp van voertuie en watertenks beskerm, word die US se "bergbokke" met hulle jeugdige uithouvermoë en ratsheid dikwels deur spanleiers ingespan om na die hoogste, ontoeganklikste dele van 'n brand te klim. "Hulle wys na die verste punt, die hoogste piek, en sê, gaan takel die vuur daar," sê Proctor. "Soms is dit plekke wat die helikopters nie eens kan bereik nie."

Maar hy beklemtoon dat vrywilligerswerk nie net beteken om moeilike terrein te voet aan te pak nie. Die VWS maak staat op 'n wye netwerk van rolle – van logistiek en versending tot voertuigbestuurders en spanleiers – wat die werk aan die gang hou. Sonder dié werksaamhede agter die skerms sou voorste brandbestryders in die frontlinie nie weet waarheen om te gaan of die nodige gereedskap hê om hulle werk te doen nie. "Daar is 'n plek vir almal," merk Proctor op terwyl hy studente aanmoedig om by die VWS aan te sluit.

Die besluit om te reageer bly 'n dissiplinetoets, erken die toegewyde spanlede. "As jy 'n lesing misloop, kan jy later inhaal, maar soms is dit 'n moeilike keuse omdat ons ook ons akademiese werk prioritiseer," sê Proctor.

Ambrose moes al soortgelyke besluite neem en het een keer net twee uur geslaap voordat hy die oggend moes klas toe gaan. "Ek is nie spyt oor enige van die kere wat ek gekies het om brande te gaan blus nie," sê hy. "Dit het gelei tot van die beste herinneringe wat ek altyd sal koester."

Vrywilligers ontvang geen salaris vir hulle harde werk nie. Daar word swaar op donasies en ondersteuning vir brandstof, toerusting en voertuie gesteun. "Ons kan nie by die brande uitkom en help om 'n bydrae te lewer sonder die gemeenskap- en die sakesektor se ondersteuning nie," sê Proctor.

Ondanks die risiko's het die VWS verlede jaar sy 25ste bestaansjaar gevier – sonder ernstige beserings of sterftes. "Ons veiligheidsmaatreëls en voorsorgmaatreëls voldoen aan die hoogste standaarde," sê Consani. Hy is 'n veteraan wat reeds 15 brande help bestry het, maar het as vrywillige brandweerman nog net ligte snye en kneusplekke opgedoen. 

Ambrose sê hulle sal graag meer Maties in hulle geledere wil verwelkom. "As jy iemand in 'n geel hemp sien, moenie huiwer om te kom hallo sê nie," glimlag hy. "Jy is vir 'n baie kort tydperk van jou lewe 'n student. Dit is nou die tyd wat jy veronderstel is om jou energie en krag ten beste aan te wend. Wat is nou 'n beter manier om 'n positiewe verskil te maak as om 'n vrywillige brandbestryder te word?"

Verwante stories