Skip to main content
Dr Chevarra Hansraj is one of six South African scientists selected to attend the 75th Lindau Nobel Laureate Meeting in Germany from 28 June to 3 July 2026.
Image by: Stefan Els
Toekennings en mylpale Natuur- en wiskundige wetenskappe

US-wiskundige op pad na 75ste Lindau Nobelpryswennerbyeenkoms

Media, Fakulteit Natuurwetenskappe
Media officer, Faculty of Science
23 Junie 2026
  • Dr. Chevarra Hansraj is een van ses Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat deur die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika gekies is om die 75ste Lindau Nobelpryswennerbyeenkoms in Duitsland by te woon.
  • Haar navorsing lê op die kruispunt van wiskunde en fisika, met spesialisasie in relativistiese astrofisika.

Dr. Chevarra Hansraj is een van ses Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat deur die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika, met die ondersteuning van die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (DTI), gekies is om die 75ste Lindau Nobelpryswennerbyeenkoms van 28 Junie tot 3 Julie in Duitsland by te woon. 

Dr. Hansraj, ’n dosent in die afdeling Toegepaste Wiskunde, sê sy het aansoek gedoen omdat die interdissiplinêre tema van vanjaar se byeenkoms diep resoneer met haar eie werk, wat op die kruispunt van wiskunde en fisika lê. Sy sal die byeenkoms saam met meer as 630 jong wetenskaplikes van 88 lande bywoon, ’n geleentheid wat seldsame, direkte toegang bied tot van die mees gevierde wetenskaplikes ter wêreld. 

Sy is gebore en getoë in Durban, KwaZulu-Natal, en het matriek met ag onderskeidings aan die Eden Kollege in Durban geslaag. Daarna het sy haar BSc, HonneursBSc, en MSc (almal summa cum laude) verwerf aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). In 2022 het sy haar PhD in Toegepaste Wiskunde voltooi, ook aan die UKZN, met ’n tesis getiteld: “Semi-tetrad decompositions of the Kerr spacetime and spacetimes with conformal symmetry”, met spesialisasie  in relativistiese astrofisika. Daarna was daar twee nadoktorale genootskappe: ’n Oppenheimer Memorial Trust-genootskap gevolg deur ’n NNS Skaars Vaardighede-genootskap. 

Ek is ook ’n raadslid van die Suid-Afrikaanse Wiskundige Vereniging, asook van die Suid-Afrikaanse Swaartekragverenging. 

Ons het haar oor haar akademiese reis, huidige navorsing en aktiwiteite uitgevra:

Wat het jou gemotiveer om in die veld van wiskundige fisika te studeer, en spesifiek op swaartekrag, gewysigde swaartekragteorieë, swartgatgeometrie en stermodellering te fokus? 

Ek het grootgeword omring deur wiskunde, aangesien my pa ’n professor in hierdie vakgebied is. Maar my eie belangstelling hierin het posgevat met die lees van Stephen Hawking se A Brief History of Time uit ons eie boekrak. Woorde soos "neutronsterre," "swartgate," en "sterrestelsels" het uit die bladsye gespring en het sedertdien deel van my daagliske lewe geword.  

Daardie nuuskierigheid het tydens my voorgraadse studies verdiep, waar ek een van die mees diepsinnige idees in die moderne wetenskap teëgekom het: dat swaartekrag nie ’n krag in die konvensionele sin is nie, maar ’n gevolg is van die geometrie van ruimtetyd. Hierdie intieme verhouding tussen geometrie en fisika het my veral geboei gedurende my honneurskursus in Algemene Relatiwiteit. Die tydsberekening van die Nobelpryse was ook betekenisvol. Die LIGO-opsporing van swaartekraggolwe (bekroon met ’n Nobelprys in 2017) en die eerste beeldvorming van ’n swartgat (bekroon met ’n Nobelprys in 2020) het parallel met my groeiende belangstelling hierin ontvou. Ek het albei aspekte in my PhD-navorsing ingesluit. Ek het ’n studie gemaak van hoe die ruimtetydgeometrie rondom ’n roterende swartgat vervorm soos ’n mens dit nader en kommentaar gelewer oor die bron van  swaartekraggolwe. Dit was inderdaad ’n reis sedert my kindsbeenfassinasie tot waar ek nou ’n betekensivolle bydrae tot die wetenskap kan lewer.  

Wat geniet jy die meeste van jou werk?

Die beste deel is dat ek daagliks ’n ontdekker kan wees. Dit verstom my deurentyd dat ons van die mees ekstreme voorwerpe in die heelal – soos roterende swartgate – suiwer deur middel van wiskunde kan bestudeer, lank voordat fisiese waarneming hulle kan bereik. Ons soek antwoorde op van die mees fundamentele vrae oor die heelal. Ek is mal oor die ritme van navorsing: jy beantwoord een belangrike vraag, net om te ontdek dat dit die deur oopmaak vir nóg ’n paar. Dit bevredig my nuuskierige gees, so daar is selde ’n vervelige dag by die werk! 

Toe ek myself aan die ander kant van die lesingsaal bevind, besig om die honneurskursus in Algemene Relatiwiteit aan te bied en dieselfde passie te deel wat my aanvanklik op hierdie pad geplaas het, was dit vir my ’n betekenisvolle volsirkeloomblik. Daardie ervaring het gelei tot my eerste nagraadse student wat sedertdien sy MSc voltooi het en nou besig is met sy PhD onder my studieleiding. 

Reis is nog ’n voordeel van hierdie veld. Ek het reeds wyd plaaslik en internasionaal gereis om my navorsing voor te dra. Ek het die voorreg gehad om in Rome ’n lesing deur prof. Stephen Hawking by te woon en in Glasgow skouers te skuur met die einste mense wat die handboeke geskryf het waaruit ek van algemene relatiwiteit geleer het (Schutz, Wald, MacCallum, Poisson). En net hier in Stellenbosch het ek kennis gemaak met prof. George Ellis, mede-outeur van die Large Scale Structure of Spacetime saam met Hawking. By die Heidelberg Pryswennerforum was ek bevoorreg om verskeie ontvangers van die Fields-medalje en Abel-pryswenner soos prof. Dennis Sullivan te ontmoet en hand te  skud met die legendariese duo “Diffie-Hellman” van kriptografiefaam wie se werk ek gedurende my voorgraadse studie bestudeer het. Ek was diep beïndruk deur hul nederigheid, ondersoekende gees en bereidwilligheid om met jong navorsers te gesels. Dit het ook die idee ingeprent dat wetenskaplike ontdekkings van generasie tot generasie oorgedra word. 

Daar is ook iets wonderlik toeganklik omtrent hierdie veld. Die ruimte boei amper almal en baie van die terminologie het deel van die popkultuur geword, wat dit maklik maak om mense van 5 tot 80 jaar oud te betrek. Ek dink dit maak my ook ʼn goeie gas om die etenstafel – ek kan gesels oor films soos Interstellar, Gravity, en Oppenheimer en dit verskaf my groot vreugde om te teoretiseer oor wat agter ʼn gebeurtenishorison lê. Ek het ál bogenoemde byeen gebring in ʼn prettige werkswinkel wat ek verlede jaar gedurende die Heidelberg Pryswennerforum aangebied het, getiteld: "The Mathematical Structure of Black Holes". 

Hoekom het jy aansoek gedoem om die Lindau Nobelpryswennerbyeenkoms by te woon en wat wil jy daar ervaar?

Ek het aansoek gedoen om die 75ste Lindau Nobelpryswennerbyeenkoms by te woon omdat die interdissiplinêre tema diep resoneer met my eie werk, wat op die kruispunt van wiskunde en fisika lê. Ek is ook geaffilieer met die Heidelberg Pryswennerforum nadat ek dit in 2024 as jong navorser bygewoon het en in 2025 as alumnus teruggekeer het.  

’n Lindau-lesing maak deel uit van die jaarlikse program, so toe ek die advertensie sien, het ek geweet dit is ’n geleentheid wat ek nie kon misloop nie. Ek voel geëerd dat ek gekies is om hierdie gesogte byeenkoms by te woon. Ek sien die meeste uit daarna om direk met Nobel-pryswenners soos Genzel, Perlmutter, Riess, en Queloz kontak te maak, wie se baanbrekerswerk oor swartgate, swaartekraggolwe en kosmologie die weg help baan het om my eie navorsing te vorm. Hulle het die waarnemingsbevestiging verskaf vir idees waarmee teoretiese astrofisici soos ek elke dag werk. Ek sien ook uit daarna om bande te smee met jong medenavorsers van ander dissiplines en om dit waaraan ons elkeen bou, te vier. 

Vertel ons ’n interessante feit oor jouself

Geometrie of meetkunde was aanvanklik die onderwerp in skoolwiskunde waarvan ek die minste gehou het. Die lewe het ’n wonderlike sin vir ironie, aangesien dit nou die fondament is van alles wat ek doen en ek is absoluut gek daaroor.

In 2024 het ek ’n konferensie oor hoë-energiefisika (HIGGS24) in Uppsala, Swede bygewoon en die Nobelprysmuseum in die nabygeleë Stockholm besoek. Dit het die hoogtepunt van die reis geword, naas die Noorderligte wat ek kon aanskou. 

Wat my die meeste getref het, was hoe tasbaar wetenskapsgeskiedenis daar gevoel het. Ek het handgeskrewe briewe van Albert Einstein gesien waarin hy sy Nobelprys erken; die toerusting wat verband hou met die eerste waarneming van swaartekraggolwe; en ’n merkwaardige lewendige diagram deur Penrose wat swaartekragineenstorting in ’n swartgat wys. Iets wat veral roerend was, was die oorhoofse “carousel”-plakkaatuitstalling van Nobelpryswenners en hul bydraes wat stadig deur die museum beweeg het soos ’n lewende tydlyn van ontdekkings. Ek sal sien hoe dít by die Lindau-byeenkoms tot lewe kom.

In my vrye tyd stel ek ook baie belang in films en kuns. Op my reise het ek dit geniet om die werke van Van Gogh, Monet, en Picasso te besigtig. Meer onlangs, nadat ek Van Gogh se Sterrenag by die Museum vir Moderne Kuns in New York gesien het, het ek ’n legkaart van 1500 stukke en ’n LEGO-weergawe daarvan van 2 300-stukke gebou – beide deur die kunswerk geïnspireer.

Jy is betrokke by inisiatiewe om vroue in die natuurwetenskappe en ingenieursvelde te ondersteun. Hoekom is dit so belangrik vir jou? 

Ek is bekommerd oor die onderverteenwoordiging van vroue in die wetenskap deur die geskiedenis heen. Daarom raak ek betrokke by aktiwiteite wat belangstelling in wetenskapsvelde onder jong vroue bevorder. Ek was bevoorreg om in 2024 die Women of The Niels Bohr Institute-konferensie in Kopenhagen, Denemarke by te woon. Plaaslik bestuur ek die Universiteit Stellenbosch se nodus van STEM MentHER, ’n mentorskapprogram vir leerders om hulle by te staan met belangrike besluite oor hul toekomstige loopbane. 

Merkers

Wiskunde

Verwante stories