Eerstejaar-natuurwetenskapstudent gekies om jeugwetenskapsforum in Londen by te woon
- Eerstejaar-BSc-student Sibella Murray, is deur die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF) gekies om die 2026 LIYSF (London International Youth Science Forum) by te woon.
- Sy is een van slegs ag (van die 22 studente) van die 2026 NSTF Brilliants Program wie hierdie eer te beurt geval het.
Eerstejaar-BSc-student Sibella Murray, is deur die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NSTF) gekies om die 2026 LIYSF (London International Youth Science Forum) by te woon wat van 19 Julie tot 1 Augustus 2026 in Londen, die Verenigde Koninkryk (VK) plaasvind.
Sy is een van slegs ag (van die 22 studente) van die 2026 NSTF Brilliants Program wie hierdie eer te beurt geval het.
Sibella, wat vir ’n BSc-graad in Biodiversiteit en Ekologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer, sê sy is opgewonde oor die geleentheid: “Ek wil graag met ander jong aspirantwetenskaplikes van regoor die wêreld kennis maak wat uit uiteenlopende kulturele, opvoedkundige en wetenskaplike agtergronde kom. Desnieteenstaande deel ons ’n gemeenskaplike nuuskierigheid oor hoe die wêreld werk en hoe wetenskap gebruik kan word om globale uitdagings by te lê.
“Ek dink dit is baie waardevol om blootgestel te word aan standpunte wat van joune verskil, veral wanneer dit kom by hoe jy komplekse probleme aanpak wat nie eenvoudige oplossings het nie,” sê hierdie alumnus van Hoërskool Durbanville.
Sibella is ook ’n ywerige wildlewefotograaf wat as twaalfjarige reeds haar eie fotografiebesigheid begin het met haar ma se ou kamera.
“My fassinasie met die natuur het begin lank voordat ek ’n kamera vasgehou het. Ek onthou hoe ek kleintyd insekte dopgehou, die name van bome geleer, en die kompleksiteit en intelligensie van ander lewende organismes bewonder het. Terwyl baie mense die natuur bloot as “mooi” beskou, was ek nog altyd gefassineer deur die ingewikkeldheid daaragter, die verhoudings tussen spesies, die aanpassings wat organismes ontwikkel het, dierintelligensie en -gedrag,” verduidelik sy.
In 2025 is Sibella gekies om deel te neem aan die STEM MentHer Program, ’n inisiatief wat daarop gemik is om jong vroue aan te moedig om loopbane in die akademie en navorsing te volg. Prof. Nox Makunga, ’n medisianle plantkundige in die Departement Plant- en Dierkunde aan die US, het as haar mentor opgetree.
“Die mentorskap het my in staat gestel om navorsing te sien as iets veel meer as wat ek in handboeke en artikels lees. Prof. Makunga het my gehelp om beter te verstaan hoe wetenskaplike navorsing nuwe kennis genereer en ’n tasbare positiewe impak op die samelewing het. Hierdie ondervinding het my oortuiging versterk dat biodiversiteit en ekologie die regte keuse vir my was.”
Sy hoop om eendag – deur middel van haar navorsing en fotografie – die wyse waarop mense oor die natuur dink, te verander: “Dikwels word die natuurlewe as blote hulpbron beskou wat gebruik of ontgin kan word. Ek sal graag wil help om ’n breër waardering vir die natuur te bevorder as ’n komplekse, inmekaar geweefde tapisserie van verhoudings wat intrinsieke waarde het, méér as net die voordeel wat dit vir die mens inhou,” sluit sy af.
Prof. Bertie Fielding, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê die fakulteit is baie trots op Sibella se prestasie: “Die feit dat sy gekies is, spreek van haar nuuskierigheid, toewyding en potensiaal, en dit is bemoedigend dat ’n eerstejaarstudent in die Fakulteit Natuurwetenskappe alreeds op ’n internasionale platform met wetensktap omgaan.