Trevolin Pillay with his parents, Sagren and Sureshnee Pillay, at the December graduation ceremony at Stellenbosch University this week. He is the first Deaf student to graduate with a BSc Honours in Bioinformatics and Computational Biology.
Dowe student behaal BScHonneursgraad
- Eerste Dowe student om ‘n BScHons-graad in Bioinformatika en Berekeningsbiologie aan Stellenbosch Universiteit te verwerf.
- Trevolin Pillay was doof gebore en is trots daarop om as a Dowe individu erken te word.
- Met behoorlike toegang kan Dowe studente in enige veld presteer, selfs in hoogs gespesialiseerde vakgebiede.
Doof met ’n hoofletter D en trots daarop!
Dit is met hiérdie ingesteldheid waarmee Trevolin Pillay hierdie week oor die verhoog sal stap om sy HonsBSc-graad in Bioinformatika en Berekeningsbiologie te ontvang gedurende die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtighede.
Trevolin is heeltemal doof gebore en lid van die Dowe gemeenskap van Suid-Afrika – ’n groep met ’n eie unieke kultuur, primêre taal (Suid-Afrikaanse Gebaretaal of SASL soos dit in Engels bekend staan), en identiteit.
Alhoewel hy homself as “net ’n gewone Dowe persoon van Chatsworth, KwaZulu-Natal” beskryf, is hy ook vasbeslote om die versperrings af te breek wat kommunikasie tussen die dowe en horende wêrelde belemmer.
Kyk hier na sy boodskap vir die Dowe (én horende) gemeenskap.
Tot op hede is hy baie dank verskuldig aan sy liefdevolle ouers en ouer broer vir hulle volgehoue ondersteuning. En dan is daar die stewige akademiese grondslag wat hy by Fulton School for the Deaf in Gillits in KwaZulu-Natal gekry het: “Ek was die toppresteerder in al die grade en het vele toekennings ontvang, waaronder die toekenning as Dux-leerder in matriek,” skryf hy in ’n e-pos.
Na skool het hy geskiedenis gemaak as een van die eerste groep Dowe studente wat ’n baccalaureusgraad in Inligtingstegnologie aan die Belgium Campus iTversity verwerf het – en die eerste Dowe student wat dit met lof slaag: “Daar was goeie hulpbronne en studiemateriaal vir die dowe studente beskikbaar, asook goeie SASL-tolke om ons te ondersteun om ons doelwitte te bereik en te gradueer,” verduidelik hy.
Met sy aankoms by die US aan die begin van 2025 was Trevolin egter die enigste Dowe persoon op kampus: “Gedurende my hele skoolloopbaan en voorgraadse studie was ek omring van ander Dowe studente. Ek moes leer om by hierdie nuwe omgewing aan te pas. Stadig maar seker het ek begin om hierdie onafhanklikheid te geniet en die kampus en omgewing te verken.”
Rahkeenah Peterson, administratiewe assistent by die Sentrum vir Bioinformatika en Berekeningsbiologie, het hom gedurende daardie eerste dae verwelkom. Sy het slegs vier maande vantevore ’n beginnerskursus in SASL voltooi: “Die dag toe Trevolin in my kantoor instap, kon ek hom groet, my naam in gebaretaal spel, en hom vra hoe dit gaan. Ek het hom ook gevra om sy naam vir my uit te spel. Gedurende die jaar het hy gereeld na my kantoor gekom met allerhande vrae en in die meeste gevalle kon ek hom verstaan. Ek het ook geleer by hom – wanneer ek iets verkeerd gewys het, het hy my vriendelik reggehelp.”
Vir sy studieleier, dr. Lenine Liebenberg van die Sentrum vir Epidemiologie en Navorsingsinnovasie, was die samewerking met Trevolin “’n ootmoedige en dankbare ervaring” in haar akademiese loopbaan.
Sy verduidelik: “As span het ons ’n bewuste poging aangewend om ’n inklusiewe omgewing te skep. Ons het die gebruik van SASL-apps, spraak-na-teks-hulpmiddels en WhatsApp-boodskappe vir intydse kommunikasie aangemoedig en SASL-opleiding voorgestaan. Ons was ook gelukkig om die ondersteuning te hê van die US se gebaretaaltolke, Trudie Theunnissen en Marsanne Neethling, wat ons vergaderings bygewoon en nou saam met Trevy gewerk het om vir akademiese aanbiedings voor te berei.”
Wat haar egter die meeste opgeval het, was Trevolin se deursettingsvermoë: “Hy het ’n ruimte betree wat meestal nuut was vir hom—beide die biologiese en berekeningsvelde—en hy het dit met moed en grasie aangepak. Teen die einde van die jaar het hy nie net sterk bioinformatika- vaardighede ontwikkel nie, maar hy het ook ’n diepgaande begrip van die menslike papilloomvirus, die rol daarvan in servikale kanker, en ’n praktiese begrip van die gereedskap gekry wat gebruik word om virale dinamika te bestudeer.
“Op ’n persoonlike vlak het hierdie jaar my belangrike lesse geleer in geduld, bewustheid, en die geleefde realiteit van die Dowe gemeenskap. Ek is deeglik bewus van die krag van doelbewuste insluiting – nie net vir die student nie, maar vir almal in die vertrek.”
Vir SASL-tolk Trudie Theunissen, is dit belangrik dat Dowe studente weet dat hulle behoorlike akademiese toegang van die begin van hul studies af kan, en behoort te verwag: “Baie Dowe studente is nie altyd bewus daarvan dat hulle die reg tot professionele SASL-tolking, toeganklike studiemateriaal en gelyke deelname in akademiese ruimtes het nie.
“Dit is ook belangrik om te weet dat samewerking met tolke ’n vennootskapsverhouding is. Wanneer die universiteit, dosente en tolke openlik kommunikeer, word die proses gestroomlyn. Eenvoudige dinge, soos om die skyfies vooraf te deel, kan ’n groot verskil maak,” voeg sy by.
Laastens moet elke Dowe student weet dat die feit dat hulle ’n tolk benodig, hulle nie akademies benadeel nie. Met behoorlike toegang kan Dowe studente in enige veld presteer, selfs in hoogs gespesialiseerde vakgebiede.
Trevolin se raad aan Dowe studente is om “nooit tou op te gooi nie”, selfs wanneer jy jou motivering om te studeer verloor: “Ek was baie naby aan ophou gedurende die eerste twee weke van my studie nadat ek die selbiologie-leermateriaal gesien en gelees het. Ek het gesukkel om die biologie te verstaan, veral die lang en moeilike woorde. Vandag is ek bly dat ek hierdie struikelblokke oorkom en nie moed opgegee het nie. Dis als te danke aan my mentor, studieleier en medestudieleiers.”
Hy wil ander Dowe studente aanmoedig om meer geleenthede vir dowe mense in die horende wêreld te help skep.
“Ek is net ’n gewone Dowe persoon van Chatsworth, KwaZulu-Natal, wat daarop fokus om doelwitte te bereik – dit is wie ek is.”
