Skip to main content
New species of magic mushroom is indigenous to Southern Africa
Image by: Talan Moult

A newly described African species in the magic mushroom family confirms its evolutionary origin. Psilocybe ochraceocentrata is found growing on cattle dung in the grasslands of southern Africa and Zimbabwe.

Persverklaring Geneeskunde en gesondheid

Nuwe Afrika-sampioenspesie bevestig evolusionêre oorsprong van towersampioen

Wiida Fourie-Basson
Media officer, Faculty of Science
11 Maart 2026
  • ’n Nuutbeskryfde Afrika-spesie in die towersampioen-familie bevestig sy evolusionêre oorsprong vanuit Afrika.
  • Psilocybe ochraceocentrata het ongeveer 1,5 miljoen jaar gelede laas ’n gemeenskaplike voorouer met P. cubensis gedeel.
  • Die bevindings werp lig op die natuurlike oorspong van gekweekte P. cubensis en verskaf nuwe genetiese bronne vir navorsing oor psigotropiese sampioene.

’n Uitgerekte debat oor die evolusionêre oorsprong van Psilocybe cubensis – die “towersampioen” wat wêreldwyd die meeste gekweek word, is dalk nou op ’n einde – die toedoen van wetenskaplikes van Suider-Afrika en die Verengide State van Amerika (VSA).

In ’n navorsingsartikel wat onlangs in die vaktydskrif Proceedings B of the Royal Society gepubliseer is, beskryf hulle die ontdekking van ’n nuwe spesie van die towersampioen, Psilocybe ochraceocentrata, afkomstig uit die grasvelde van Suid-Afrika en Zimbabwe. Psilocybe ochraceocentrata  (wie se naam ontleen is van die okergeel kleur in die middel van die sampioenhoed), het ongeveer 1,5 miljoen jaar gelede laas ’n gemeenskaplike voorouer met P. cubensis gedeel. 

Dit weerlê die heersende siening dat P. cubensis per abuis in die Amerikas beland het toe beeste in die 1500s vanuit Afrika en Europa na die kontinente ingevoer is. P. cubensis is in 1906 vir die eerste keer in Kuba aangeteken en beskryf. 

Breyten van der Merwe, ‘n mikoloog en PhD-student in chemiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê alhoewel die twee spesies baie dieselfde lyk, het hul verskillende genetiese, ekologiese en chemiese kenmerke. Hy is een van die mede-outeurs van die artikel.

Hy sê die bevindings werp lig op die natuurlike oorspong van gekweekte P. cubensis en verskaf nuwe genetiese bronne vir navorsing oor psigotropiese sampioene.

P. ochraceocentrata is vir baie jare wêreldwyd gekweek onder die naam “NSS” (wat staan vir “Natal Super Sterkte”) of “Transkei”: “Dit is een van die mees gewilde towersampioenstamme, aangesien dit nogal kragtig is en maklik om te kweek. Maar tot hierdie studie het niemand nog besef dat dit ’n heeltemal afsonderlike spesie van hierdie klassieke psigotropiese towersampioen is nie,” verduidelik hy.

Die studie is onderneem in samewering met dr Alexander Bradshaw van Clark Universiteit, prof Bryn Dentinger van die Universiteit van Utah Gesondheid in die VSA, dr Keaton Tremble van die Duke Universiteit, asook dr Cathy Sharp van die Natuurlewegeskiedenis-museum van Zimbabwe. DNS wat onttrek is uit voorbeelde wat oor Suider-Afrika heen versamel is, asook uit historiese tiperingsmonsters, is gebruik om multilokus filogenetiese analises, molekulêre klokdatering, en ekologiese nismodellering te doen.

Dr Sharp het in 2013 reeds van die eerste voorbeelde van P. ochraceocentrata in Zimbabwe gevind. Tot op hede is Afrika egter steeds ver agter met monsterneming in die ondersoek van swamdiversiteit.

In die artikel, getiteld: “Discovery of the closest free-living relative of the domesticated ‘magic mushroom’ Psilocybe cubensis in Africa”, bied die span verskeie moontlike scenario’s oor wanneer en hoe die spesie miljoene jare gelede gedivergeer het. Gedurende  hierdie tyd het grasvelde in Suid-Amerika gediversifiseer. Herbivore wat wei, het voedsel (beesmis) verskaf waarop hierdie sampioene kon groei, wat toe uitgebrei het uit Afrika, na Eurasië. Daar word gespekuleer dat hierdie ekologiese veranderinge nis-areas oopgemaak het vir die aparte spesiasie van P. cubensis and P. ochraceocentrata.

In die tussentyd onderneem Van der Merwe verdere navorsing oor towersampioene en plaaslike psigoaktiewe plante: “Ons beplan om die verskillende verbindings wat hierdie plante en sampioene produseer, te karakteriseer en te isoleer. Dan wil ons dit toets en vergelyk met modelle vir die behandeling van posttraumatiese stresversteurings, angs en depressie.”

Verwante stories