Skip to main content
Just weeks after being announced a recipient of the coveted Rhodes Scholarship, Kerry Porrill was awarded Stellenbosch University’s top honour – the Chancellor’s Medal (2025).
Image by: Stefan Els

Slegs 'n paar weke nadat sy as een van die ontvangers van die gesogte Rhodes-beurs aangewys is, is Kerry Porrill met die Universiteit Stellenbosch se hoogste eerbewys bekroon – die Kanseliersmedalje (2025). 

Toekennings en mylpale

Briljante wiskunde-presteerder met US se gesogte Kanseliermedalje vereer

Corporate Communication
Writer
10 Desember 2025
  • Kerry Porrill met die Universiteit Stellenbosch se hoogste eerbewys bekroon – die Kanseliersmedalje (2025).
  • Die Kanseliersmedalje is vir die eerste keer in 1961 ingestel.
  • Porrill is 'n gegradueerde van die Afdeling Wiskunde binne die Fakulteit Natuurwetenskappe en het vandeesweek met 'n BSc-honneursgraad in wiskunde gegradueer.

Slegs 'n paar weke nadat sy as een van die ontvangers van die gesogte Rhodes-beurs aangewys is, is Kerry Porrill met die Universiteit Stellenbosch se hoogste eerbewys bekroon – die Kanseliersmedalje (2025). 

Die Kanseliersmedalje is vir die eerste keer in 1961 ingestel. Die Universiteit ken jaarliks slegs een Kanseliersmedalje toe aan 'n finalejaar- of nagraadse student wat nie net akademies uitgeblink het nie, maar ook op verskeie maniere tot die kampuslewe bygedra het en hard gewerk het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel. 

Porrill is 'n gegradueerde van die Afdeling Wiskunde binne die Fakulteit Natuurwetenskappe en het vandeesweek met 'n BSc-honneursgraad in wiskunde gegradueer. Sy het 'n uitstaande akademiese loopbaan gehad. Sy het op voorgraadse vlak 'n punt van 90% of hoër vir meer as die helfte van haar modules behaal. Op nagraadse vlak het sy 100% in twee van haar modules behaal en onderskeidings in al die ander. 

Sy is ook 'n mede-outeur van 'n referaat, getiteld "Some structural aspects of the ring of arithmetical functions: Prime ideals and beyond". Afgesien van haar uitsonderlike akademiese prestasies, was sy ook by verskeie ander belangrike inisiatiewe betrokke. 

Porrill het die afgelope vier jaar uitmuntend in nasionale en internasionale wiskundekompetisies gevaar. Sy was vroeër vanjaar gesamentlik 109de by die Internasionale Wiskundekompetisie vir Universiteitstudente, wat in Bulgarye gehou is. Sy en nog 'n student was in 2024 die derde beste paar in die Wes-afdeling van die Simon Marais-wiskundekompetisie. 

Sy het ook tot die ontwikkeling van 'n sterk kultuur van deelname aan wiskunde-olimpiades bygedra deur jong wiskundiges te ondersteun en af te rig. Sy was vanjaar Suid-Afrika se spanleier by die Europese Wiskunde-olimpiade vir meisies en was ook die koördineerder van die 2024 Pan-Afrikaanse Wiskunde-olimpiade. Sy het ook in 2024 en 2025 as adjunkleier van Suid-Afrika se Internasionale Wiskunde-olimpiadespan gedien.

Porrill, wat aanstaande jaar haar studie in wiskunde aan die Universiteit van Oxford gaan voortsit, het dit as "ongelooflik" beskryf om die toekenning te ontvang. "Dit is so 'n groot eer. Ek is so geëerd om hierdie (toekenning) te ontvang."

Klik hier om meer oor Porrill se Rhodes-beurs te lees.

Verwante stories