Skip to main content
Celebrating Excellence in Teaching-Learning-Assessment
Image by: Ignus Dreyer

Prof Deresh Ramjugernath het die Erkende Dosent-toekenning aan prof Elize Archer van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe oorhandig.

Toekennings en mylpale Gebeure Institusionele nuus

Topdosente in die kollig by OLA-viering

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
01 Junie 2026
  • Die US het top-akademici en innoveerders in onderrig, leer en assessering tydens ’n spoggeleentheid by STIAS vereer.
  • Prof Elize Archer het die Erkende Dosent-toekenning ontvang, terwyl proff Karin Wolff, Deborah Blaine en Sonia Fidder vir hul Nasionale Universiteitsonderrig-toekennings gehuldig is.
  • Prof Ramjugernath het gesê uitnemendheid in onderrig en uitnemendheid in navorsing is “diep verweef” in die vorming van die toekoms van hoër onderwys.

’n Uitgesoekte gehoor het onlangs by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) bymekaargekom vir die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse “Uitnemendheidstoekennings vir Onderrig-leer-assessering”-geleentheid, waar die instelling dosente, navorsers en onderriggenote vereer het wie se werk besig is om hoër onderwys te hervorm in dissiplines wat wissel van ingenieurswese en geneeskunde tot krygskunde en teologie.

Die marimbaritmes wat deur die lokaal weerklink het, het die toon aangegee vir ’n sprankelende program wat tussen toekennings, besinning, musiek en gesprek gewissel het. Die geleentheid, onder leiding van dr Nicoline Herman, Waarnemende Senior Direkteur van die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking (ALOV), het lede van die rektoraat, dekane, visedekane en senior akademici byeengebring.

In sy verwelkomingsboodskap het die Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, aangevoer dat uitstekende onderrig aan die hart lê van wat ’n universiteit definieer. “Ons praat dikwels van die Universiteit Stellenbosch as ’n navorsingsintensiewe instelling,” het hy gesê. “Maar uitnemendheid in navorsing en uitnemendheid in onderrig is nie afsonderlike doelwitte nie; hulle is diep verweef. Uiteindelik is die ware maatstaf van ’n universiteit nie net wat ons ontdek nie, maar wat ons studente in staat stel om te word.”

Ramjugernath het uitnemendheid in onderrig beskryf as doelbewus, reflektief en iets wat deurlopend ontwikkel word. Hy het die akademici wat tydens die geleentheid erkenning ontvang het, geprys vir hul verbintenis tot studentesukses en omdat hulle help om praktyke vir onderrig en leer nie net by die US nie, maar nasionaal te vorm. “As ons onderrig, leer en assessering regkry by hierdie instelling – en in die hoëronderwyssektor – kry ons eintlik die toekoms met betrekking tot die onderwys reg,” het hy bygevoeg.

Meer as blote oordrag van inhoud

Terwyl die eerste helfte van die aand erkenning verleen het aan ’n wye reeks inisiatiewe vir professionele leer – insluitend personeel wat kursusse suksesvol voltooi het en lofwaardige konferensie-aanbiedings gelewer het – was die hoogtepunt van die program die Toekennings vir Uitnemende Onderrig.

Die Vroeëloopbaandosent-toekenning het erkenning verleen aan dr Susan Henrico van die Fakulteit Krygskunde en Na-Ella Khan van die Skool vir Rekeningkunde in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Henrico het besin oor die belangrikheid daarvan om akademiese nougesetheid te kombineer met opregte sorg vir studente wat hul weg deur veeleisende militêre en persoonlike omgewings moet navigeer. Deur van Afrika-voorbeelde, werklike gevallestudies en intelligensiescenario’s gebruik te maak, het sy gepraat oor die skepping van leerruimtes waar studente terselfdertyd ondersteun en uitgedaag voel.

Sy het dosente ook aangemoedig om die opvoedkundige leierskap wat hulle reeds daagliks deur kurrikulumverfyning, studenteondersteuning en deurdagte assesseringsontwerp beoefen, te erken. Goeie onderrig, het sy gesê, het minder met perfeksie te doen as met “eerlikheid, refleksie en ’n bereidwilligheid om aan te hou leer”.

Khan, wat ouditkunde aan voorgraadse en nagraadse studente doseer, het ’n onderrigfilosofie beskryf wat om onafhanklike denke en probleemoplossing sentreer. Sy erken dat ouditkunde vir studente abstrak en intimiderend kan voel, en het gesê sy integreer doelbewus praktiese voorbeelde om leer meer betekenisvol en relevant te maak.

Met inagneming van die druk wat dosente ervaar, het Khan gesê haar motivering word vernuwe deur selfs net ’n enkele betrokke student wat gretig is om te leer. Sy het jonger akademici aangespoor om geleidelike innovasie in hulle onderrigpraktyke te omhels en aangevoer dat klein, konstante veranderinge dikwels die diepste langtermynimpak het.

Die aand se hoogste individuele eerbewys, die Erkende Dosent-toekenning, het aan prof Elize Archer van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gegaan.

Archer het gepraat oor hoe haar eie reis van kritiekesorgsverpleegopvoeder na spesialis in gesondheidsberoepe-onderwys haar begrip van onderrig oor die afgelope twee dekades verander het. Sy het onderrig beskryf as ’n empatiese en samewerkende proses wat gewortel is daarin om studente te help om eienaarskap van hul eie leerproses te neem.

Een van die belangrikste lesse van haar loopbaan, het sy gesê, was die besef dat suksesvolle onderrig nie gemeet word aan hoeveel inhoud dosente oordra nie, maar aan die vraag of studente waarlik aanklank vind by dit wat hulle leer en dit kan toepas. “Die dae toe ons ’n wysgeer op die verhoog was (a sage on the stage), is verby. Vandag gaan onderrig daaroor om die gids aan die kant te wees, die fasiliteerder van leer eerder as iemand met die alleenreg op kennis,” het Archer afgesluit. 

Herbesinning oor studentesukses

’n Skyfievertoning met die name van al die bekroondes het ’n oorsig gegee van die US se Onderriggenote en die Universiteit se deelnemers aan die Genootskapsprogram vir Onderrigbevordering op Universiteit (TAU). Verskeie genote het die geleentheid gebruik om te besin oor breër vraagstukke wat die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor in die gesig staar. 

Dr Marnel Mouton van die Departement Plant- en Dierkunde, wat erkenning ontvang het vir die voltooiing van ’n US-onderriggenootskap verlede jaar, het eng definisies van studentesukses wat bloot op slaag- en deurvloeikoerse gebaseer is, uitgedaag. Haar genootskapsnavorsing het die ervarings van studente in uitgebreide kurrikulumprogramme oor die Fakulteite Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe en Ingenieurswese heen ondersoek.

Prof Nicola Plastow van Arbeidsterapie, wat ’n tweede SU-onderriggenootskap voltooi het, het besin oor indiensopleidingswerk wat saam met studente in Bishop Lavis onderneem is. Arbeidsterapiestudente het ses weke in ’n maatskaplike behuisingsontwikkeling vir ouer mense deurgebring, waar hulle intervensies wat op die bevordering van maatskaplike deelname en welstand gemik is, mede-ontwerp het. 

Plastow het die projek beskryf as iets wat studente op ’n diepgaande vlak verander het, aangesien dit hulle gedwing het om konflik, verhoudings en geestesgesondheiduitdagings saam met rehabilitasiedoelwitte te navigeer. Sy het gesê haar onderriggenootskappe het haar meer doelbewus en reflektief in haar daaglikse onderrigpraktyk gemaak.

Nasionale erkenning vir samewerking

Die aand het sy hoogtepunt bereik met erkenning vir proff Karin Wolff, Deborah Blaine en Sonia Fidder, ontvangers van die prestigeryke Nasionale Universiteitsonderrig-toekennings (NUTA) se Samewerkingsprys vir hul werk in ingenieursonderwys.

Alhoewel Wolff nie die geleentheid kon bywoon nie, het Blaine hulde gebring aan haar kollega as die dryfkrag agter die inisiatief, en die REEP-groep (Recommended Engineering Education Practices) geprys vir hul rol om ’n kultuur te help skep waarin uitnemendheid in onderrig ’n bron van professionele trots binne die Fakulteit Ingenieurswese geword het.

Fidder het die langdurige samewerking tussen Ingenieurswese en die wiskundige wetenskappe beklemtoon, wat gelei het tot die skepping van innoverende onderriginstrumente wat studente help om die praktiese relevansie van toegepaste wiskunde binne ingenieurswesekontekste beter te verstaan.

Ekenning deur toekennings soos NUTA, het sy gesê, motiveer dosente om tyd en energie in onderriginnovasie te bly belê ten spyte van die mededingende druk van dissiplinêre navorsing. 

Ten slotte het prof Richard Stevens, Waarnemende Viserektor: Akademies, na onderrig verwys as “die stil, konstante werk om toekomste te vorm”. “Wat ons vanaand gevier het, is nie net uitnemendheid nie,” het hy opgemerk, “dit is doelgerigtheid en sorg.”

Stevens het die bekroondes en genote wat aan professionele leer deelgeneem het, bedank dat hulle sulke hoë standaarde stel. “Julle bevorder nie net jul eie praktyk nie, maar julle versterk inderwaarheid ook die fondament van hierdie instelling. Wanneer ons vanaand huis toe gaan, hoop ek ons doen dit met ’n hernude sin vir doelgerigtheid, want môre gaan die werk voort.”

  • 'n Volledige lys van wenners kan hieronder gevind word:

Verwante stories