Prof Roodt oorhandig ‘n impak-verslag aan verteenwoordigers van die Gerda Henkel-stigting.
US vier jarelange vennootskap wat in Afrika se toekoms belê
- Die Lisa Maskell-genootskapsprogram het al navorsers uit meer as 17 Afrikalande ondersteun.
- Sedert 2015 het 41 doktorale gegradueerdes hul studies deur die program voltooi.
- Die US bied in Oktober die eerste PANGeA Alumni Homecoming Conference aan.
Terwyl die Gerda Henkel-stigting vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, kyk die Universiteit Stellenbosch (US) terug op die impak van sy eie dekadelange vennootskap met die Stigting – 'n samewerking wat 'n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die versterking van Afrika-navorsing in die geesteswetenskappe.
Een van die Gerda Henkel-stigting se inisiatiewe is die Lisa Maskell-genootskapsprogram, wat na die Stigting se stigter, Lisa Maskell, vernoem is. Deur dié program belê die Stigting in doktorale navorsers in die geesteswetenskappe regoor Afrika.
Sedert die program van stapel gestuur is, het dit opkomende navorsers uit meer as 17 Afrikalande ondersteun en só bygedra tot die versterking van navorsingskapasiteit en die bewaring van kulturele erfenis in samelewings wat deur konflik en verandering gevorm is.
Aan die US bied die Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe, wat deur die Universiteit se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die Gerda Henkel-stigting bekend gestel is, ʼn akademiese tuiste aan Lisa Maskell-genote wat hul doktorale studies voltooi. Terwyl die Stigting die finansiële ondersteuning voorsien, is die Nagraadse Skool verantwoordelik vir die bestuur van die akademiese program.
Die samewerking spruit uit die US se betrokkenheid by die Vennootskap vir Afrika se Volgende Generasie Akademici (PANGeA), 'n netwerk wat die Universiteit as ’n betroubare streekshub vir akademiese uitnemendheid gevestig het en die grondslag gelê het vir volgehoue samewerking regoor die vasteland. Deur navorsers uit dié netwerk te huisves, het die genootskapsprogram institusionele vennootskappe versterk en geleenthede geskep vir gesamentlike navorsing, akademiese uitruiling en samewerkende kennisontwikkeling.
Benewens die US, ondersteun die Stigting ook Lisa Maskell-genote aan Makerere Universiteit in Uganda en die Universiteit van Ghana.
Ter viering van sy 50ste bestaansjaar het die Stigting ’n spesiale befondsingsprogram van stapel gestuur wat vrae oor suksesvolle sosiale naasbestaan ondersoek. Gegrond op die oortuiging dat inklusiewe en volhoubare samelewings van kulturele bewustheid afhanklik is, beoog die inisiatief om die kommunikatiewe, identiteitsvormende en konsensusbouende rol van die geesteswetenskappe en verwante dissiplines te herdefinieer. Dit het ook ten doel om te ondersoek hoe dié rol in die toekoms versterk kan word. Navorsers uit alle velde wat deur die Stigting ondersteun word, is genooi om deel te neem.
"Vyftig jaar van belegging in idees, akademiese navorsing en mense is 'n merkwaardige mylpaal," het Karen Bruns, Hoofdirekteur: Bevordering, Belanghebber-interaksie en Kommunikasie aan die US, gesê. "Ons is veral dankbaar vir die Gerda Henkel-stigting se jarelange vennootskap deur PANGeA en die Lisa Maskell-genootskappe. Saam het ons 'n nuwe geslag Afrika-navorsers ondersteun wie se werk 'n blywende verskil regoor die vasteland maak."
Prof Vasti Roodt, dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het die US by die Stigting se 50ste bestaansviering in Düsseldorf, Duitsland, verteenwoordig. Sy het saam met vennote van regoor die wêreld vyf dekades van steun vir die geesteswetenskappe en geskiedkundige navorsing gevier.
Prof Roodt het die stigting gelukgewens met hierdie mylpaal en die Lisa Maskell-genootskapsprogram geloof vir hul belangrike rol in die ontwikkeling van 'n nuwe geslag Afrika-doktorale navorsers.
“Die Stigting se belegging het doktorale voltooiingsyfers verbeter, die oorgang na die vroeë-loopbaanfase ondersteun en gehelp om hoëvlak-navorsingskapasiteit op die Afrika-kontinent te behou,” het sy gesê.
Prof Roodt het bygevoeg dat die Lisa Maskell-genootskapsprogram daartoe bygedra het om die Fakulteit as ’n intellektuele ruimte te vestig wat nou verbonde is aan, en in vennootskap staan met, die breër Afrika-akademiese gemeenskap.
“Ons streef daarna om van ’n netwerk wat navorsers oplei, te groei na een wat ook gesamentlike kennisontwikkeling bevorder deur samewerkende navorsingsprojekte, mede-outeurskap van publikasies en gesamentlike studieleiding. Dit sal hierdie vakgebiede oor instellings heen met mekaar verbind en die waarde van die netwerk verder versterk.”
Sedert sy eerste kohort in 2015 het die Lisa Maskell-genootskapsprogram 41 doktorale gegradueerdes opgelewer, terwyl ’n verdere 29 genote tans besig is om hul PhD-studies te voltooi.
Die Zimbabwiese historikus dr Peter Uledi, wat sy PhD in Geskiedenis as ’n Lisa Maskell-genoot aan die US voltooi het, het gesê die genootskap het hom in staat gestel om navorsing te onderneem wat vir hom diep persoonlike betekenis het.
“Sonder die Gerda Henkel-stigting sou ek nie my lewenslange begeerte kon vervul om die grond- en omgewingsgeskiedenis van landelike Zimbabwe – ’n onderwerp wat diep gewortel is in my eie grootwordjare op ’n plaas en in landelike gemeenskappe – te bestudeer nie. Ek is vir ewig dankbaar vir hierdie geleentheid.”
Dr Uledi is tans ’n postdoktorale genoot by die International Studies Group aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy navorsing steeds fokus op grond- en omgewingskwessies deur sy projek Plunder for Profit? Zimbabwe’s Look East Policy, Chinese Mining Firms and the Environment 2000–2025.
Van 10 tot 16 Oktober 2026 sal die US, met die ondersteuning van die Gerda Henkel-stigting, ’n weeklange byeenkoms aanbied. Alumni, doktorale kandidate en studieleiers van vennootuniversiteite regoor die vasteland sal saamkom vir ’n doktorale kollokwium en die eerste PANGeA-alumni-tuiskomskonferensie (PANGeA Alumni Homecoming Conference).
- Lees meer oor die impak van die Lisa Maskell-genootskapsprogram.
- Meer oor die Gerda Henkel-stigting.