'n Kunstenaar se indruk van die Kaapse Wynlande-lughawe
Kaapse Wynland-lughawe en die US smee strategiese vennootskap vir slim en volhoubare ontwikkeling
- Die Kaapse Wynland-lughawe en die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan wat daarop gerig is om innovasie onder die gedeelde temas van “Slim” en “Groen” ontwikkeling te bevorder.
- Deur hierdie vennootskap sal albei partye aktief geleenthede soek om akademiese navorsing, bedryfskundigheid en infrastruktuurontwikkeling belyn te kry om werklike uitdagings die hoof te bied en nuwe geleenthede te ontsluit.
- Namate die lughawe oor die komende dekades ontwikkel, is die vennootskap daarop gerig om te verseker dat akademiese navorsing, innovasie en vaardigheidsontwikkeling nou verbonde bly aan die praktiese realiteite en geleenthede wat voortspruit uit een van die land se mees ambisieuse lugvaartinfrastruktuurprojekte.
Die Kaapse Wynland-lughawe en die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan wat daarop gerig is om innovasie onder die gedeelde temas van “Slim” en “Groen” ontwikkeling te bevorder. Die vennootskap weerspieël ’n gesamentlike verbintenis om volhoubare groei te bevorder en akademiese vooruitgang aan te dryf.
Die ooreenkoms skets ’n wye reeks fokusareas vir samewerking, insluitend landbou en voedselprosessering, ruimtelike beplanning, vervoer en logistiek, ruimte- en lugvaartnavorsing, en die integrasie van lughawebedrywighede met stedelike ontwikkeling. Deur hierdie vennootskap sal albei partye aktief geleenthede soek om akademiese navorsing, bedryfskundigheid en infrastruktuurontwikkeling belyn te kry om werklike uitdagings die hoof te bied en nuwe geleenthede te ontsluit.
Belangrik is dat die samewerking inskakel by die beplande R8 miljard-uitbreiding van die Kaapse Wynland-lughawe, wat na verwagting die lughawe oor die komende jare in ’n beduidende ekonomiese spilpunt sal omskep. Die skaal en langtermyn-aard van die projek bied ’n unieke platform vir praktiese leer, toegepaste navorsing, innovasie en bedryfsamewerking oor verskeie dissiplines heen. Samewerking op die gebied van ingenieurswese sal na verwagting ’n sentrale rol in die vennootskap speel. Albei partye het geleenthede geïdentifiseer vir tegniese samewerking, infrastruktuurinnovasie, operasionele doeltreffendheid en toekomsgerigte ingenieursoplossings wat verband hou met lughawe-uitbreiding en die ontwikkeling van lugvaartinfrastruktuur.
“Hierdie inisiatief spreek direk tot die soort vennootskapgedrewe ontwikkeling waarin ons glo, waar infrastruktuur, innovasie en vaardighede saamkom om ’n werklike impak te maak. Die Kaapse Wynland-lughawe-projek bied ’n geleentheid om ’n dinamiese ekosisteem te bou wat ekonomiese groei kan ontsluit, opkomende bedrywe kan ondersteun en die streek as ’n spilpunt van innovasie en geleenthede kan posisioneer,” het prof Deresh Ramjugernath, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, gesê.
Deon Cloete, Besturende Direkteur van die Kaapse Wynland-lughawe, het gesê: “Hierdie samewerking is ’n belangrike mylpaal vir die lughawe. Die lughawe-uitbreiding bied ’n unieke langtermyngeleentheid om die akademie en die bedryf te verbind op ’n manier wat betekenisvolle ekonomiese en opvoedkundige impak het. Deur nou saam met die Universiteit Stellenbosch te werk, skep ons ’n platform om toekomsgerigte oplossings te ondersoek tot voordeel van die lugvaartsektor, studente en die breër streeksekonomie.”
Die aanvanklike areas van potensiële samewerking sluit in die opbou van studentekapasiteit deur toegepaste navorsingsgeleenthede wat aan die lughawe se ontwikkelings- en operasionele omgewing gekoppel is. Dit kan navorsingsprojekte insluit vir magisterstudente binne die Universiteit Stellenbosch se program in Ingenieursbestuur, gefokus op areas van strategiese belang vir die Kaapse Wynland-lughawe. Die vennootskap sal verder geleenthede ondersoek om fasiliteite en ruimtes te vestig wat toetsing, innovasie, prototipering en toekomstige produksieverwante aktiwiteite ondersteun wat verband hou met lugvaart, infrastruktuur, logistiek en slimtegnologieë.
“Die uitbreiding van die lughawe bied ook geleenthede om by te dra tot die daarstelling van ’n toekomstige poel van lugvaarttalent binne Suid-Afrika. Deur samewerking met die Universiteit Stellenbosch en breër belanghebbendes in die bedryf, is die Kaapse Wynland-lughawe geïnteresseerd daarin om geleenthede te ondersoek wat verband hou met lugvaart-vaardigheidsontwikkeling, geleentheide vir vlieëniersopleiding, lughawebedrywighede, ingenieursdissiplines en toekomsgerigte vervoer- en logistieke vermoëns. Die doel is om ’n langtermyn-vaardigheidsekosisteem te skep wat sowel ekonomiese groei as menslikekapitaalontwikkeling in die Wes-Kaap ondersteun,” het Cloete gesê.
“Vanuit ’n navorsings- en innovasieperspektief skep hierdie samewerking waardevolle geleenthede vir interdissiplinêre skakeling oor velde heen wat wissel van ingenieurswese tot landbou. Deur vennootskappe tussen die akademie en die bedryf te versterk, kan ons kennisuitruiling bevorder en bydra tot innoverende oplossings tot voordeel van sowel die streek as die breër samelewing,” het prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering by die Universiteit Stellenbosch, gesê.
Namate die lughawe oor die komende dekades ontwikkel, is die vennootskap daarop gerig om te verseker dat akademiese navorsing, innovasie en vaardigheidsontwikkeling nou verbonde bly aan die praktiese realiteite en geleenthede wat voortspruit uit een van die land se mees ambisieuse lugvaartinfrastruktuurprojekte.
Buiten die lugvaartrol word verwag dat die lughawe-uitbreiding ’n groot drywer van streeks- ekonomiese ontwikkeling en werkskepping binne die Wes-Kaap sal word. Huidige projeksies toon dat die ontwikkeling ongeveer 35 000 direkte en indirekte werksgeleenthede tydens die konstruksie- en uitbreidingsfases kan onderhou, terwyl dit net meer as 100 000 direkte en indirekte werksgeleenthede gedurende die eerste 20 jaar van bedryf sal ondersteun. Dit posisioneer die projek as een van die mees beduidende langtermyn-infrastruktuur- en ekonomiese ontwikkelingsinisiatiewe in die streek.
“Die ontwikkeling van ’n moderne lughawe-ekosisteem van hierdie omvang skep aansienlike geleenthede vir samewerking tussen die akademie, die bedryf, die regering en die breër lugvaartsektor. Dit bied ’n werklike omgewing waarin studente, navorsers en bedryfspesialiste direk betrokke kan raak by komplekse uitdagings wat verband hou met lugvaartbedrywighede, infrastruktuurbeplanning, ingenieurswese, logistiek, volhoubaarheid, omgewingsbestuur, vervoerstelsels, slimtegnologieë en streeksontwikkeling,” het Cloete afgesluit.
- Hierdie artikel is saamgestel deur die Kaapse Wynland-Lughawe met insette van die Universiteit Stellenbosch
OOR DIE KAAPSE WYNLAND-LUGHAWE:
Die Kaapse Wynland-lughawe, voorheen die Fisantekraal-vliegveld, is ’n privaat geleide lughawe-ontwikkeling wat 13 km noordoos van Durbanville geleë is. Dit is oorspronklik in 1943 as ’n Suid-Afrikaanse Lugmagbasis vir Lockheed Ventura-bomwerpers gevestig en is in 2020 herdoop om sy ligging in die Kaapse Wynland te weerspieël. Dit dien tans as ’n fasiliteit vir algemene lugvaart en ’n gewilde basis for vliegopleiding. Planne is aan die gang om uit te brei en ’n ultramoderne, groen, slim en innoverende lugvaartgebied te ontwikkel wat die Kaapse Wynland-lughawe as ’n moderne poort na die streek sal herdefinieer. Besoek capewinelands.aero vir meer inligting.