Prof Hafizah Chenia luister mikrobes se ‘gesprekke’ af om globale gesondheid te verbeter
- Prof Hafizah Yousuf Chenia van die Departement Mikrobiologie het haar intreede op 23 Junie 2026 gelewer.
- Sy fokus op hoe mikro-organismes kommunikeer, weerstandigheidsgene deel, in vyandige omgewings oorleef en as georganiseerde gemeenskappe optree.
- Sy soek na innoverende alternatiewe oplossings vir die hantering van antimikrobiese weerstandigheid.
Prof Hafizah Yousuf Chenia van die Departement Mikrobiologie in die Fakulteit Natuurwetenskappe het Dinsdag 23 Junie 2026 haar intreerede gelewer. Die titel van haar lesing was Die natuur se fluisteraars – kyk verder as antibiotika om mikrobiese gesprekke te stop.
Chenia het aan Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking verduidelik hoe die verstaan en ontwrigting van “gesprekke” tussen mikro-organismes innoverende alternatiewe oplossings kan bied vir die hantering van antimikrobiese weerstandigheid—een van die dringendste wêreldwye uitdagings van ons tyd.
Vertel ons meer van jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.
Baie van my werk lê op die raakvlak van mikrobiologie, antimikrobiese weerstandigheid, die ontdekking van natuurlike produkte, biotegnologie en groen nanotegnologie. Ek is veral geïnteresseerd in hoe mikro-organismes kommunikeer, aan oppervlakke vasheg, biofilms vorm (groepe mikro-organismes wat aan oppervlakke kleef) en moeilik raak om te beheer. Een van die sleutelprosesse wat ons bestudeer, is kworumwaarneming, wat die chemiese kommunikasiestelsel is wat bakterieë gebruik om groepgedrag te koördineer, by stres aan te pas en siektes te veroorsaak.
In die kliniese ruimte is hierdie werk belangrik omdat baie infeksies nie meer maklik met konvensionele antibiotika behandel kan word nie. In plaas daarvan om net te vra: “Hoe maak ons die bakterieë dood?”, vra my navorsingsgroep ook: “Hoe verhoed ons dat bakterieë hulself organiseer, hulself beskerm en skade berokken?” Dit het ons gelei om antivirulensiestrategieë, die ontwrigting van biofilms en natuurlike produkte te verken wat ons kan help om bakteriese infeksies te bestuur en selfs kan bydra tot die ontdekking van medisyne vir ander chroniese siektes, insluitend kanker.
Maar ons werk is nie net terapeuties nie. Ons verken ook bakterieë wat met plante, mariene organismes en omgewingsnisse verband hou as bronne van nuttige natuurlike produkte, ensieme en bioaktiewe samestellings. Hierdie mikrobiese hulpbronne kan toepassings hê in akwakultuur, teenbesoedelingstegnologieë, korrosiemitigasie, omgewingsbiotegnologie en industriële biotegnologie. Ons verken toenemend ook groen nanotegnologie deur middel van biosintesebenaderings, waar mikrobiese en natuurprodukgebaseerde stelsels gebruik word om meer volhoubare nanomateriaal te ontwikkel. Dit open opwindende moontlikhede vir antimikrobiese toepassings, afleweringstelsels en breër biotegnologie.
Ek het in hierdie veld begin belangstel omdat mikro-organismes dalk klein is, maar hulle is buitengewoon kragtig. Hulle kan kommunikeer, weerstandigheidsgene deel, in vyandige omgewings oorleef en soos georganiseerde gemeenskappe optree. Dit het my gefassineer. Ek wou nie net verstaan hoe skadelike mikrobes siektes veroorsaak nie, maar ook hoe hul merkwaardige vermoëns ontwrig, herlei of ingespan kan word om probleme in gesondheid, die omgewing en biotegnologie op te los.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Die relevansie van my werk lê daarin dat mikro-organismes byna elke deel van die lewe beïnvloed: menslike gesondheid, dieregesondheid, voedselsekerheid, akwakultuur, die omgewing en nywerheidswêreld. Dit is waarom my navorsing sterk binne ’n Een Gesondheid-raamwerk (One Health framework) inpas. Ons kan nie in isolasie oor aansteeklike siektes, antimikrobiese weerstandigheid of omgewingsvolhoubaarheid dink nie, want hierdie stelsels is interafhanklik.
Klinies gesproke is antimikrobiese weerstandigheid een van die dringendste uitdagings wat die moderne geneeskunde in die gesig staar. Infeksies wat vroeër maklik behandel is, word al hoe moeiliker om te bestuur omdat bakterieë evolueer, weerstandigheidsgene verkry en behandelings oorleef wat voorheen gewerk het. My groep is geïnteresseerd in die vind van alternatiewe vir tradisionele antibiotika, veral natuurlike produkte wat patogene kan ontwapen deur in te meng met hul kommunikasie, virulensie en biofilmvorming.
Terselfdertyd het die werk sterk biotegnologiese relevansie. Deur visverwante, mariene en omgewingsbakterieë te bestudeer, kan ons mikrobiese produkte en prosesse identifiseer wat nuttig kan wees buite die kliniese opset. Dit sluit in oplossings vir biofilmbeheer, bio-aanpaksels, korrosie, akwakultuurgesondheid, omgewingsbestuur en die sintese van groen nanomateriaal. In daardie opsig gaan ons navorsing nie net oor die behandeling van siektes nie; dit gaan ook oor die verantwoordelike en kreatiewe gebruik van mikrobiese biodiversiteit om werklike probleme te takel.
Deur mikrobiese hulpbronne vir sowel mediese as biotegnologiese toepassings te verken, dra ons by tot prioriteite wat verband hou met gesondheid, volhoubare nywerhede, omgewingsbewaring en nasionale ontwikkeling.
Gegrond op jou navorsing, waarom is dit belangrik om mikrobiese kommunikasie te stop?
Baie bakterieë tree nie as geïsoleerde selle op nie. Hulle kommunikeer met behulp van chemiese seine, en sodra daar genoeg selle teenwoordig is, koördineer hulle gedrag soos biofilmvorming, oppervlakvashegting, die produksie van virulensiefaktore en strestoleransie. Hierdie proses staan bekend as kworumwaarneming.
Om mikrobiese kommunikasie te stop is belangrik omdat dit ons ’n manier bied om mikrobiese skade te verminder sonder om noodwendig die organisme dadelik dood te maak. Dit is ’n baie belangrike kopskuif. Wanneer ons bloot daarop staatmaak om bakterieë dood te maak, skep ons dikwels sterk selektiewe druk vir weerstandigheid. Maar as ons kan inmeng met die seine wat bakterieë toelaat om hulself te organiseer, hulself te verdedig en siektes te veroorsaak, kan ons hulle dalk minder gevaarlik maak.
Eenvoudig gestel: as bakterieë nie doeltreffend met mekaar kan “praat” nie, kan hulle sukkel om gekoördineerde, hardnekkige en skadelike gemeenskappe te vorm. Dit het duidelike kliniese waarde vir infeksiebeheer, veral in biofilmverwante infeksies. Dit het ook biotegnologiese waarde, aangesien mikrobiese kommunikasie en biofilmvorming sentraal staan tot probleme soos bio-aanpaksels, korrosie, kontaminasie en oppervlakkolonisering in industriële en omgewingskontekste.
Waarom het antimikrobiese weerstandigheid so ’n groot wêreldwye uitdaging geword?
Antimikrobiese weerstandigheid het ’n groot wêreldwye uitdaging geword omdat antibiotika op groot skaal in die menslike geneeskunde, veeartsenykunde, landbou en voedselproduksie gebruik is. Met verloop van tyd het bakterieë aangepas. Hulle kan weerstandigheidsgene verkry, dit met ander bakterieë deel en behandelings oorleef wat vroeër doeltreffend was.
Die probleem word vererger deur die onvanpaste gebruik van antibiotika, die beperkte ontwikkeling van nuwe antibiotika, swak infeksiebeheer, omgewingsbesoedeling en die wêreldwye beweging van mense, diere en voedselprodukte. As gevolg hiervan word infeksies al hoe moeiliker om te behandel, mediese roetineprosedures word meer riskant en sommige van die voordele van die moderne geneeskunde word bedreig.
Die opkoms van multimedisyne-weerstandige, ekstensief medisyne-weerstandige en selfs almedisyne-weerstandige bakterieë beteken dat ons dringend nuwe maniere van dink nodig het. Ons het steeds antibiotika nodig, maar ons het ook aanvullende strategieë nodig. Dit sluit in antivirulensieterapieë, biofilmontwrigting, die stremming van kworumwaarneming, verbeterde diagnostiek, verantwoordelike antimikrobiese toesig en tegnologieë wat die risiko van infeksie verminder voordat dit ’n kliniese krisis word.
Watter innoverende strategieë kan help om te verhoed dat mikro-organismes siektes veroorsaak?
Ons het strategieë nodig wat verder gaan as om bloot mikro-organismes te probeer doodmaak. Van die mees belowende benaderings sluit in die stremming van kworumwaarneming, biofilmontwrigting, antivirulensieterapie, bakteriofaagterapie (virusse wat bakterieë besmet en doodmaak), antimikrobiese peptiede, probiotika, verbeterde diagnostiek, geteikende medisyne-aflewering en nanotegnologiegebaseerde intervensies.
My eie navorsing is sterk belyn met benaderings wat patogene ontwapen eerder as om hulle net te vernietig. Deur op kommunikasie, vashegting, virulensie en biofilmvorming te fokus, kan ons moontlik siektes verminder terwyl ons minder druk vir die ontwikkeling van weerstandigheid toepas.
Groen nanotegnologie is ook ’n opwindende deel van hierdie gesprek. Deur biosintese kan ons meer volhoubare maniere ondersoek om nanomateriaal te vervaardig deur gebruik te maak van mikrobiese of natuurprodukgebaseerde stelsels. Hierdie materiale kan antimikrobiese, antibiofilm-, aflewering- of diagnostiese toepassings hê, maar hulle kan ook nuttig wees in breër biotegnologie- en omgewingskontekste.
Die toekoms sal waarskynlik nie van een enkele oplossing afhang nie. Dit sal ’n kombinasie van benaderings vereis: beter voorkoming, slimmer diagnostiek, verantwoordelike antimikrobiese gebruik, die ontdekking van natuurlike produkte, nanotegnologie, en terapieë wat inmeng met mikrobiese gedrag eerder as om net op konvensionele antibiotika staat te maak.
Hoër onderwys kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Die wete dat die werk saak maak. Navorsing en hoër onderwys is nie altyd maklik nie. Eksperimente misluk, befondsing is mededingend, administrasie kan veeleisend wees en vordering kan soms stadig voel. Maar elke student wat opgelei word, elke navorsingsvraag wat nagejaag word en elke stukkie werk wat voltooi word, dra by tot iets groters.
Ek word ook sterk gemotiveerd deur my studente. Om te sien hoe voorgraadse en nagraadse studente se selfvertroue groei, hulle as wetenskaplikes ontwikkel en hul eie navorsingsvrae begin vra, is ongelooflik lonend. Hul vordering herinner my aan die rede waarom onderrig, mentorskap en navorsing so belangrik is.
Daar is ook iets baie motiverend daaraan om te werk in ’n veld waar die vrae dringend en van toepassing is. Antimikrobiese weerstandigheid, aansteeklike siektes, omgewingsvolhoubaarheid en biotegnologie is nie abstrakte probleme nie. Dit raak mense, gemeenskappe en nywerhede. Die wete dat ons werk, selfs op ’n klein manier, kan bydra tot die oplossing van daardie uitdagings, hou my aan die gang.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Ek geniet die ontdekkingsproses die meeste: om vrae te vra, eksperimente te ontwerp en iets te ontrafel wat ons vantevore nie ten volle verstaan het nie. Ek geniet dit steeds om in die laboratorium te werk. Daar is iets opwindends daaraan om te sien hoe ’n idee van ’n vraag na ’n proefneming beweeg, en uiteindelik na ’n resultaat wat nuwe moontlikhede open.
Ek geniet ook die kreatiwiteit van die wetenskap. Navorsing is tegnies en presies, maar dit verg ook verbeelding. Jy moet patrone raaksien, konneksies maak en soms vanuit ’n onverwagte hoek na ’n probleem kyk. Dit is veral waar in mikrobiologie, waar dieselfde organisme ’n patogeen, ’n omgewingsrolspeler of ’n potensiële bron van nuttige biotegnologie kan wees.
Onderrig is nog ’n deel van my werk wat ek geweldig waardeer. Ek geniet dit om voorgraadse studente aan die moontlikhede binne mikrobiologie bekend te stel en om hulle te help om in te sien dat die vakgeb van toepassing is op gesondheid, biotegnologie, die omgewing en die bedryf. Mentorskap is vir my ewe belangrik. Om nagraadse studente te lei terwyl hulle hul eie wetenskaplike identiteit ontwikkel, is een van die vervullendste dele van my loopbaan.
Vertel ons iets opwindends van jouself wat mense nie sal verwag nie.
Mense verwag dalk nie dat ek sowel avontuur as kreatiwiteit geniet nie. Aan die een kant is ek mal oor buitelugaktiwiteite soos stap en oorland-reise, asook om na avontuurlike bestemmings te reis. Aan die ander kant geniet ek meer kreatiewe en rustige aktiwiteite soos kosmaak, onthaal, en kuns en handwerk.
Ek dink daardie balans is belangrik. Wetenskap vereis dissipline, akkuraatheid en deursettingsvermoë, maar dit baat ook by nuuskierigheid, kreatiwiteit en perspektief. Om belangstellings buite die laboratorium te hê, help my om te herlaai en met hernude energie na my navorsing en onderrig terug te keer.
Hoe bestee jy jou vrye tyd?
Ek probeer my vrye tyd bestee op maniere wat my help om te herstel en weer met ander te konnekteer. Ek geniet dit om tyd saam met familie en vriende deur te bring, om kos te maak, te onthaal, te lees, te reis en flieks te kyk. Ek waardeer ook stil oomblikke weg van die werk af, want die akademiese lewe kan baie veeleisend wees.
Vir my gaan vrye tyd oor die vind van balans. Dit gee my ruimte om na te dink, te herlaai en die lewe buite die universiteitsomgewing te geniet. Daardie balans help my om meer energie, fokus en kreatiwiteit terug te bring na my werk.