Prof Mesias Alfeus woon tans die 13de wêreldkongres aan die Universiteit van Bologna in Italië by.
Prof Mesias Alfeus se visie bring wêreldwye finansiële kongres na Afrika
- Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan in 2028 die 14de Wêreldkongres van die Bachelier Finansiële Vereniging (BFS) aanbied.
- Dit sal die eerste keer wees dat die gesogte geleentheid op die vasteland van Afrika gehou sal word.
- Prof Mesias Alfeus sal die hoof- plaaslike organiseerder vir die 2028-kongres wees.
Die aankondiging dat die Universiteit Stellenbosch (US) in 2028 die 14de Wêreldkongres van die Bachelier Finansiële Vereniging (BFS) gaan aanbied – die eerste keer dat die gesogte geleentheid op die vasteland van Afrika gehou sal word – is 'n loopbaanmylpaal vir prof Mesias Alfeus.
Alfeus woon tans die 13de wêreldkongres aan die Universiteit van Bologna in Italië by en was teenwoordig toe dit bekendgemaak is dat die US die bod gewen het om die volgende kongres aan te bied.
Die BFS-wêreldkongres is een van die voorste internasionale byeenkomste in kwantitatiewe finansies en bring navorsers en praktisyns wat in finansiële wiskunde, stogastiese modellering, afgeleide prysbepaling en finansiële risikobestuur werk, bymekaar.
Alfeus, medeprofessor in die US se Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap en 'n NNS-gegradeerde wat reeds wye erkenning op sy gebied geniet, het daarna gemik om die kongres na Stellenbosch te bring. "Om die suksesvolle veldtog te lei, is vir my persoonlik een van die trotsste oomblikke van my akademiese loopbaan. Dit is 'n geleentheid om wêreldwye aandag op die US en op die toenemende krag van kwantitatiewe finansiële navorsing in Afrika te vestig."
Die wiskundige wat 'n liefde vir syfers ontdek het terwyl hy 'n tradisionele speletjie met wiskundige denke in die klein Namibiese dorpie Okadila gespeel het, sal die hoof- plaaslike organiseerder vir die 2028-kongres wees.
Hy sê die suksesvolle aansoek is deur die ondersteuning van die US, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, die Kwantitatiewe Finansies-navorsingsprogram van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe (NITheCS) en 'n plaaslike reëlingskomitee bestaande uit kollegas van die US, die Universiteit van Kaapstad, Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Johannesburg moontlik gemaak.
Die 2028-kongres sal na verwagting tussen 350 en 500 internasionale afgevaardigdes oor vyf dae na Stellenbosch lok.
"Dit is 'n belangrike prestasie vir die US en vir Afrika om die 2028 Wêreldkongres van die Bachelier Finansiële Vereniging te kan aanbied," sluit Alfeus af. "Aangesien dit die eerste keer sal wees dat hierdie groot internasionale konferensie oor kwantitatiewe finansies en finansiële wiskunde in Afrika gehou word, sal dit aan navorsers en studente van die vasteland 'n seldsame geleentheid bied om vooraanstaande akademici op die gebied te ontmoet en by hulle te leer."