Skip to main content
 Minister Dr Nomusa Dube-Ncube

Suid-Afrika se adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, dr Nomusa Dube-Ncube, het erkenning gegee aan die geleenthede wat deur digitale tegnologie geskep word, maar het ook gewaarsku dat dieselfde tegnologieë nuwe kwesbaarhede geskep het.

Image by: Henk Oets
Persverklaring Gebeure

Sewe dae se dobbelary kan 'n jaar se nasionale studentefinansiering uitwis

Anél Lewis
Senior journalist
26 Junie 2026
  • Die Universiteit Stellenbosch (US) het die "Dobbel en studentewelstand"-simposium wat deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Senior Studentesake-praktisyns (SAASSAP) in vennootskap met Higher Health gereël is aangebied.
  • Die simposium het hoëronderwysleiers, navorsers, studentesakepraktisyns en beleidmakers van regoor die land byeen gebring om te ondersoek hoe dobbelary studentewelstand, akademiese sukses en finansiële sekerheid beïnvloed.
  • Deelnemers het in 'n verklaring van voorneme hulle daartoe verbind om saam aan die implementering van programme te werk wat daarop gemik is om die groeiende uitdaging aan te spreek.

Teen die huidige tempo waarteen Suid-Afrikaners dobbel, sou dit net sewe dae neem om die ekwivalent van die land se hele nasionale studentefinansieringsbegroting van R54 miljard te spandeer.

Hierdie vergelyking illustreer die omvang van dobbelary in Suid-Afrika, waar daar volgens dr Thelma Oppelt van die Universiteit van die Wes-Kaap se Sentrum vir Interdissiplinêre Studie van Kinders, Gesinne en die Samelewing, 'n geskatte R1,5 triljoen jaarliks deur casino's, aanlyn dobbelary en sportweddenskappe gewed word.

Oppelt was aan die woord by die onlangse "Dobbel en studentewelstand"-simposium wat deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Senior Studentesake-praktisyns (SAASSAP) in vennootskap met Higher Health gereël en deur die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is.

Die simposium het hoëronderwysleiers, navorsers, studentesakepraktisyns en beleidmakers van regoor die land byeen gebring om te ondersoek hoe dobbelary studentewelstand, akademiese sukses en finansiële sekerheid beïnvloed.

Dobbelgedrag

Jerome September, die president van SAASSAP en Studentedekaan aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê navorsing toon konsekwent dat problematiese dobbelsyfers hoër onder studente is as dié van die algemene volwasse bevolking. Die vinnige groei van digitale wedderyplatforms, wat op slimfone toeganklik is, het dobbelary in 'n onmiddellike, private en dikwels seepgladde deel van die alledaagse studentelewe omskep. 

Hy het egter daarteen gewaarsku om studente wat dobbel, bloot as onverantwoordelik of roekeloos te beskou. Die kwessie, het hy gesê, moet binne die breër sosiale en ekonomiese werklikhede verstaan word wat baie studente in die gesig staar. "As SAASSAP glo ons ons verantwoordelikheid strek verder as net om op krisisse te reageer. Ons moet opkomende risiko voorsien. Ons moet ruimtes vir kritiese refleksie skep en tot die ontwikkeling van doeltreffende institusionele en sektorwye antwoorde bydra." 

September het beklemtoon dat die simposium nie bedoel was om studente wat dobbel te stigmatiseer nie, maar eerder om die omstandighede wat hulle besluite beïnvloed, te verstaan. "As ons eerlik is, is baie van die studente wat dobbel, nie roekeloos nie. Hulle is dikwels ambisieuse jongmense," het hy gesê.

"Dit is studente wat probeer om onvoldoende hulpbronne verder te laat rek, studente wat gesinne ondersteun, studente wat finansiële onafhanklikheid soek, en studente wat die belofte nastreef dat hoër onderwys die moontlikheid van 'n beter lewe bied. Tog navigeer hulle ook 'n samelewing waarin stories van onmiddellike sukses deur sosiale media, digitale advertensies, beïnvloederkultuur en populêre narratiewe oor rykdom en geleenthede versterk word." 

Geluk of strategie

Volgens hom word dobbelary vir baie studente, nie aangebied as dobbel nie, maar as 'n geleentheid; nie as geluk nie, maar as strategie; nie as risiko nie, maar as 'n moontlike pad na finansiële vryheid. "Dobbel lê op die kruispunt van verskeie studentesukses-uitdagings. Dit is nie net 'n finansiële kwessie nie, maar ook 'n welstandskwessie, 'n geestesgesondheidskwessie, 'n studenteontwikkelingskwessie en uiteindelik 'n studentesukseskwessie."

Dit is waarom die vennootskap met die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) toenemend erkenning weerspieël dat dobbelary onder studente proaktiewe aandag en gekoördineerde ingryping vereis, het hy gesê. Oppelt het ook beklemtoon dat dobbelary nie net 'n studenteprobleem is en ook nie endemies is aan NSFAS-gefinansierde studente is nie. Dit vereis sistemiese oplossings.

Digitale landskap

Die US se Studentedekaan, dr Leslie van Rooi, het gesê tegnologiese vooruitgang en digitale toeganklikheid het die dobbelary-omgewing fundamenteel verander. "Wie sou kon dink dat 'n ding wat ons as iets beskou het wat jy net persoonlik kon doen as jy in 'n kamer met donker vensters instap, nou so toeganklik te eniger tyd op ons fone, regstreeks gedurende 'n sportwedstryd, kon word?" 

Hy het gesê studentesakepraktisyns, navorsers en hoëronderwysleiers het 'n verantwoordelikheid om hierdie veranderende werklikhede en die impak daarvan op studentewelstand, studentesukses en die breër studente-ervaring te verstaan. "Dit beteken ons moet proaktief eerder as reaktief in ons pogings bly om omgewings te skep waar studente kan floreer," het hy gesê.

Nuwe tegnologieë, meer risiko’s 

Die geleentheidspreker, Suid-Afrika se adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, dr Nomusa Dube-Ncube, het erkenning gegee aan die geleenthede wat deur digitale tegnologie geskep word, maar het ook gewaarsku dat dieselfde tegnologieë nuwe kwesbaarhede geskep het. Baie dobbelplatforms teiken aktief jongmense, het sy gesê. Sy het gewaarsku dat gereelde dobbelary ernstige gevolge vir studente se akademiese vordering en welstand kan inhou. Studente kan hulle studie verwaarloos, klasse misloop, sukkel om te konsentreer en 'n agteruitgang in hulle akademiese prestasie ondervind.

"Die finansiële verliese wat met dobbelary gepaardgaan, kan bestaande sosio-ekonomiese uitdagings verder vererger, wat sommige studente geld wat vir klasgeld, akkommodasie, kos en leermateriaal bedoel is, laat herlei." het sy gesê. In sommige gevalle is finansiële stres en verwante druk ook aan geslagsgebaseerde geweld gekoppel. Indien hierdie uitdagings nie aangespreek word nie, kan dit die risiko van akademiese uitsluiting, uitval en negatiewe langtermyngevolge wat verder as die universiteitsomgewing strek, verhoog. 

Dube-Ncube het gevra vir meer bewustheids- en voorkomingsprogramme om studente oor die risiko's wat met dobbelary gepaardgaan, op te voed. Hierdie ingrypings, het sy gesê, moet met bestaande dobbelwetgewing strook terwyl dit op die werklikhede van die digitale era reageer.

Ekonomiese druk

Lungile Dukwana, waarnemende hoof van die Nasionale Dobbelraad (NDR), het die ekonomiese rol van die dobbelbedryf beklemtoon en op die bydrae daarvan tot die ekonomie en die skepping van meer as 33 000 werksgeleenthede gewys. Hy het egter saamgestem dat ekonomiese druk een van die redes is waarom jongmense hulle tot dobbelary wend. Hy het die NDR se verbintenis tot die aanspreek van dobbelrisiko's herbevestig en die strategiese vennootskap met NSFAS beklemtoon om studente teen dobbelverwante skade te beskerm en openbare geld wat aan die onderwys toegewys is, te beskerm.

Die simposium het tot die gevolgtrekking gekom dat dit meer as net bewusmakingsveldtogte gaan verg om dobbelary onder studente aan te spreek. Universiteite, reguleerders, studenteleiers en ondersteuningsdienste sal moet saamwerk om die druk wat dobbelgedrag dryf te verstaan en intervensies te versterk wat studentewelstand en akademiese sukses beskerm. Deelnemers het in 'n verklaring van voorneme hulle daartoe verbind om saam aan die implementering van programme te werk wat daarop gemik is om die groeiende uitdaging aan te spreek.

* Indien jy of 'n medestudent met dobbel, finansiële angs of akademiese stres sukkel, is gratis en vertroulike ondersteuning beskikbaar:

  • Die US se Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) se 24-uur-nooddiens
    • Werkure (08:00–16:00): 021 808 4994
    • Ná ure: 010 205 3032
    • Stellenbosch-kampus: Victoriastraat 49
    • Tygerberg-kampus: 021 927 7020
  • HIGHER HEALTH se 24-uur-hulplyn vir studente en personeel
    • Tolvrye noodlyn: 0800 36 36 36
    • SMS-ondersteuning: 43336

Verwante stories