Skip to main content
Woman using AI
Image by: magnific.com

Die toenemende invloed van kunsmatige intelligensie (KI) in die samelewing skep geleenthede en nuwe verantwoordelikhede vir wetgewers. 

Persverklaring

US se Beleidsinnovasielaboratorium help om die Parlement vir KI toe te rus

Corporate Communication and Marketing
18 Junie 2026
  • Die Universiteit Stellenbosch (US) se Beleidsinnovasielaboratorium onlangs KI-opleiding vir meer as 200 parlementslede (LP's) aangebied.
  • Namate kunsmatige intelligensie toenemend in openbare administrasie, dienslewering en besluitnemingsprosesse ingebed raak, word die Parlement se vermoë om hierdie tegnologieë te ondersoek en te verstaan al hoe belangriker.
  • Die opleidingsprogram is ontwerp om LP's 'n breë begrip van die geleenthede wat kunsmatige intelligensie bied én die uitdagings wat dit inhou, te gee.

Die toenemende invloed van kunsmatige intelligensie (KI) in die samelewing skep geleenthede en nuwe verantwoordelikhede vir wetgewers. 

Met die behoefte in gedagte dat wetgewers hierdie vinnig ontwikkelende tegnologie beter moet verstaan, het die Universiteit Stellenbosch (US) se Beleidsinnovasielaboratorium onlangs KI-opleiding vir meer as 200 parlementslede (LP's) aangebied, ten einde te help om die Parlement se vermoë te versterk om toesig oor KI-verwante ontwikkelings te hou en daarmee om te gaan.

Die belangrikheid van die inisiatief is beklemtoon toe die adjunkspeaker van die Parlement, dr Annelie Lotriet, in haar onlangse begrotingstoespraak na die opleiding verwys het en dit later ook in 'n LinkedIn-plasing oordink het. Sy het opgemerk dat "'n sterker Parlement met sterker lede begin".

Vir die Beleidsinnovasielaboratorium dien die erkenning as 'n tasbare voorbeeld van hoe akademiese kundigheid tot kapasiteitsbou in die openbare sektor kan bydra, sê dr Gray Manicom, navorser in digitale transformasie by die Lab, sê prof Willem Fourie, leier van die Beleidsinnovasielaboratorium.

Begrip van impak Understanding impact

Besprekings binne die Laboratorium fokus gereeld op hoe om die impak van sy werk te meet en te versterk. Al is die gevolge van beleidsbetrokkenheid nie altyd onmiddellik sigbaar nie, is daar geleenthede wat die invloed van navorsing en opleiding uitlig.

Die onlangse skakeling met die Parlement was 'n voorbeeld hiervan.

Die Parlement speel deur sy verantwoordelikhede ten opsigte van wetgewing en oorsigbestuur oor die regering 'n kritieke rol in Suid-Afrika se demokrasie. Namate kunsmatige intelligensie toenemend in openbare administrasie, dienslewering en besluitnemingsprosesse ingebed raak, word die Parlement se vermoë om hierdie tegnologieë te ondersoek en te verstaan al hoe belangriker, verduidelik Manicom. 

"Indien die Parlement doeltreffende toesig oor KI in die regering wil bied, het parlementslede meer as net 'n algemene bewustheid van die tegnologie nodig. Hulle benodig konseptuele en praktiese kennis om sleutelvrae oor deursigtigheid, aanspreeklikheid, veiligheid en billikheid te ondersoek." 

Hierdie sleutelvrae sluit onder meer in of KI-stelsels deursigtig funksioneer, of data wettig en verantwoordelik ingesamel en gebruik word, of outomatiese besluite verduidelik en betwis kan word, of verkrygingsbesluite op die lang termyn tegnologiese afhanklikhede skep, en of die voordele van KI regverdig oor die samelewing verdeel word.

Terselfdertyd bied KI ook geleenthede om die Parlement se eie werk te ondersteun. Potensiële toepassings sluit die ontleding van wetgewing, die opneem en verwerking van parlementêre verrigtinge, die versterking van burgerlike betrokkenheid, ondersteuning aan vertaaldienste, die stroombelyning van administratiewe prosesse en hulp met wetsformulering in. 

Soos die adjunkspeaker in haar opmerkings genoem het: "Die tegnologiese transformasie wat vir ons voorlê, sal nie wag dat die Parlement inhaal nie." 

Bou van KI-geletterdheid 

Die opleidingsprogram is ontwerp om LP's 'n breë begrip van die geleenthede wat kunsmatige intelligensie bied én die uitdagings wat dit inhou, te gee. 

Sessies het onder meer die tegniese aspekte van KI, insluitende data, algoritmes en digitale infrastruktuur, behandel. Deelnemers het ook etiese oorwegings soos deursigtigheid, vooroordeel, aanspreeklikheid en verantwoordelike gebruik verken.

Die program het verder internasionale benaderings tot KI-bestuur en -regulering ondersoek, tesame met gevallestudies wat demonstreer waarom doeltreffende toesig oor KI-stelsels al hoe belangriker vir demokratiese instellings word, verduidelik Monique Bennett, Beleidsdialoogbestuurder: US Beleidslaboratorium. 

'n Belangrike komponent van die opleiding het besprekings ingesluit oor hoe die Parlement self KI verantwoordelik in sy eie prosesse en bedrywighede kan inkorporeer. 

Deur tegniese, etiese en wetgewende perspektiewe te kombineer, het die program ten doel gehad om lede met die nodige kennis toe te rus om krities met KI-verwante kwessies om te gaan en ingeligte besluite in 'n vinnig veranderende beleidsomgewing te neem.

Ondersteuning aan die openbare sektor 

Dr Tinashe Chikunichawa, Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, sê  deur kennis te deel en kapasiteit binne regeringsinstellings te bou, kan universiteite help toesien dat tegnologiese innovasie met ingeligte bestuur en doeltreffende toesig gepaard gaan.

Die skakeling en interaksie met die parlementslede het die Beleidsinnovasielaboratorium gehelp om 'n belangrike nasionale gesprek oor die transformerende potensiaal van kunsmatige intelligensie te verbreed – in die Parlement én regoor die Suid-Afrikaanse samelewing, sê Manicom.

"Die opleiding van Suid-Afrika se LP's is 'n stap in die regte rigting om daardie doelwit te bereik. Dít demonstreer hoe die hoër onderwys die regering kan ondersteun en die land se instellings vir die uitdagings en geleenthede van die digitale era kan voorberei." 

Verwante stories