Skip to main content
Dr Monika Moir photographed at the Centre for Epidemic Response and Innovation on the Stellenbosch Campus.
Image by: Supplied
Persverklaring

US-wetenskaplike ontvang R14 miljoen-toelaag om Wes-Nyl-virus te pak

Katrine Anker-Nilssen
25 Mei 2026
  • Dr Monika Moir van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie ontvang SAMNR-UKRI-toelaag.
  • Sal fokus op hoe klimaatsverandering die verspreiding van die Wes-Nyl-virus in Afrika verander.
  • Sal ook die beweging van die virus ondersoek en oorsig- en navorsingskapasiteit versterk.

Soos wat klimaat- en omgewingsverandering aanhou om ekostelsels wêreldwyd te omvorm, waarsku wetenskaplikes dat muskiet-oordraagbare siektes na nuwe streke kan versprei, meer gereeld kan voorkom en kan vererger in gebiede wat reeds onder druk is. ʼn Groot nuwe internasionale navorsingstoelaag wat aan dr Monika Moir van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (Seri) aan die Universiteit Stellenbosch toegeken is, sal Afrika in die middel plaas van pogings om een van hierdie bewegende bedreigings – die Wes-Nyl-virus – beter te verstaan.

Dié toelaag oor drie jaar van R14 miljoen van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) en UKRI (die Verenigde Koninkryk se Navorsings- en Innovasieraad), wat deur die VK se Internasionale Wetenskapvennootskapsfonds gefinansier word, fokus op die kruispunt van klimaatsverandering, aansteeklike siektes en One Health-navorsing. Die projek kombineer genomika, ekologiese waarneming en voorspellende modellering om beter te verstaan hoe uitbrekings ontstaan – en hoe dit vroeër vooruitgeloop kan word.

“Hierdie projek ondersoek hoe klimaatsverandering die verspreiding van die Wes-Nyl-virus in Afrika verander,” het Moir gesê. “Ofskoon die virus endemies aan Afrika is en ernstige neurologiese siektes onder mense kan veroorsaak, is nog verbasend min studies daaroor in ʼn groot deel van die vasteland gedoen.”

Hoewel die Wes-Nyl-virus dikwels met uitbrekings in Europa en Noord-Amerika geassosieer word, bly Afrika die kern van die virus se langtermynevolusie en -sirkulasie. “Een van die hoofredes vir die gebrek aan plaaslike kennis is dat oorsig in talle Afrika-lande steeds beperk en wisselvallig is,” het Moir verduidelik. “Die Wes-Nyl-virus is endemies in Afrika, wat beteken dat dit gereeld sirkuleer, maar talle infeksies word waarskynlik nie bespeur of aangemeld nie.”

Die probleem word deur die aard van die virus vererger. “Die oordrag van die Wes-Nyl-virus is kompleks omdat dit stilweg tussen muskiete en voëls sirkuleer lank voordat mense siek word,” het Moir gesê. “Sonder roetine-monitering kan uitbrekings maklik misgekyk word.”

Die projek bring navorsers van die Royal Veterinary College in die VK, die Universiteit van Gesondheid en Verwante Wetenskappe in Ghana, die Pasteur-instituut van Tunis in Tunisië en die Mediese Navorsingsinstituut van Kenia byeen. Dié konsortium sal saam ondersoek hoe die virus oor ekostelsels en streke heen beweeg en tegelyk oorsig- en navorsingskapasiteit reg oor Afrika versterk.

“Ontluikende aansteeklike siektes respekteer nie grense nie,” het Moir opgemerk. “Virusse beweeg deur komplekse ekologiese stelsels oor lande en kontinente heen.”

Navorsers van Ghana, Kenia, Tunisië en Suid-Afrika sal muskiete versamel, hulle vir die virus sif en virale genoomvolgordes bepaal om te verstaan hoe verskillende stamme ontwikkel en versprei. Die projek sal ook seldsame muskietoorsigdatastelle genereer – inligting wat oor ʼn groot deel van Afrika beperk bly ondanks die belangrikheid daarvan om oordragrisiko te verstaan.

“Hierdie datastelle is ongelooflik belangrik, want dit stel ons in staat om verder te gaan as om bloot uitbrekings op te spoor deur te begin verstaan hoe die virus versprei, ontwikkel en op omgewingsverandering reageer,” het Moir verduidelik.

Deur muskietdata, virale genomiese data en klimaatinligting te kombineer, hoop die span om oordragbrandpunte te identifiseer en die omgewingsfaktore wat uitbrekings aandryf, beter te verstaan. Die span sal ook oordragrisikokaarte reg oor Afrika ontwikkel. “Die idee is om openbare gesondheidstelsels te help om van reaksie op uitbrekings na die antisipering daarvan te beweeg,” het Moir gesê.

Vir haar is een van die belangrikste aspekte van die projek die regstreekse relevansie daarvan vir openbare gesondheid. “Ons hoop hierdie werk sal nie net wetenskaplike begrip van die Wes-Nyl-virus bevorder nie, maar ook help om sterker siektemoniteringstelsels, beter ingeligte openbare gesondheidsbeleide en groter gereedheid vir toekomstige siektebedreigings reg oor Afrika te ontwikkel,” het sy gesê.

Die projek sluit ook ʼn sterk opleidings- en kapasiteitontwikkelingskomponent in, wat ondersteuning in gevorderde modellering en analitiese benaderings vir openbare gesondheidsnavorsers in Afrika bied. “Om hierdie kundigheid plaaslik uit te bou is belangrik vir voorbereiding vir langtermynuitbrekings,” het Moir opgemerk.

Wat Seri betref, sal die toekenning help om die uitbreidende werk in genomiese waarneming, epidemiese intelligensie en One Health-navorsing verder uit te brei. “Seri het reeds die krag van genomika in die verstaan van en reaksie op uitbrekings van aansteeklike siektes gedemonstreer,” het Moir gesê. “Hierdie projek bou voort op daardie kundigheid in vektor-oordraagbare siektes in ʼn One Healh-raamwerk.”

Sy beskou die toekenning ook as deel van ʼn breër verskuiwing in globale gesondheidsnavorsing. “Ek dink die toelaag weerspieël die groeiende internasionale erkenning van die belangrikheid van Afrika-geleide navorsing en samewerking in die aanpak van globale bedreigings van aansteeklike siektes,” het sy gesê en bygevoeg: “Afrika staan sentraal in die ekologie en evolusie van talle ontluikende patogene.”

Die span beoog om oor die volgende drie jaar een van die grootste genomiese datastelle vir die Wes-Nyl-virus tot nog toe uit Afrika te genereer, en tegelyk ons verstaan van die virus te ontwikkel om vroeër opsporing en ʼn meer ingeligte reaksie op uitbrekings te ondersteun. Die projek plaas Afrika-navorsers en -instellings voorts aan die voorpunt van begrip van hoe klimaatsverandering die risiko van aansteeklike siektes oor die hele vasteland aan die verander is.

Verwante stories